Loop regop, loop sterk, en hou nooit op om te droom nie. Dit was NWK se boodskap aan leerders van twee laerskole in Noordwes wat vanjaar aan die beurt gekom het tydens die maatskappy se jaarlikse skoolskoenprojek.
NWK is bekend vir sy betrokkenheid en ondersteuning van gemeenskapsprojekte. In Julie vanjaar was dit weer tyd vir die jaarlikse skoolskoenprojek – ‘n projek wat dié landboumaatskappy na aan die hart lê.
Die twee skole wat vanjaar voordeel getrek uit die projek, is Retsogile Primary School in Bakerville en Hakboslaagte Primary School in Coligny. Dit bring die getal leerlinge wat sedert dié projek se ontstaan in 2012/2013 daarby gebaat het, op meer as 7 100 te staan. Die skole wat skenkings ontvang, word geïdentifiseer in samewerking met Noordwes se Onderwysdepartement, asook Samuel Nkone – voormalige areabestuurder van Ditsobotla by die departement.
Op 22 en 24 Julie het leerders by dié twee skole elk ‘n paar slinternuwe skoene, ‘n paar sokkies, ‘n mussie (beanie), skoenpolitoer, skoenborsel asook ‘n seilsakkie ontvang. Elke skool het ook vier springtoue, vier sokkerballe en vier netbalballe ontvang. Die waarde van vanjaar se skenking beloop ongeveer R318 000.

In sy boodskap het Benedict Modise, Direkteur Ekonomiese Ontwikkeling by NWK, aan die leerders gesê dat skoene meer is as net iets wat ons aan ons voete dra. “Dit beskerm ons, help ons om regop te loop, en herinner ons daaraan dat ons waardeer en versorg word.” Hy het sy boodskap met die volgende woorde afgesluit: “Mag hierdie skoene jou neem na klaskamers waar jy leer, na speelgronde waar jy lag, en na ‘n toekoms waar jy skitter. Loop regop, loop sterk, en hou nooit op om te droom nie.”






