VDie COVID-19-pandemie, die inperking met sy gevolglike werksverliese en die sukkelende ekonomie gaan verbruikers toenemend onder druk plaas.
Prof Johan Willemse, ‘n landbou-ekonoom by die Universiteit van die Vrystaat, sê 2021 gaan besonder onvoorspelbaar wees. “Die voorspelling is dat die ekonomiese groeikoers in 2020 met tussen 7% en 8% gekrimp het; en die verwagte groei in 2021 en 2022 is minimaal.”
Hy was een van die sprekers by Nedbank se webinaar oor landboumarkvooruitsigte op 4 Februarie vanjaar, en het benadruk dat bogenoemde groeikoerse belangrike tendense is waarvan elke produsent moet kennis neem. “Mense moet eet, maar mense wat geld het en moet eet, eet biefstuk. Dit beïnvloed Bonsmara-pryse. As mense armer raak, skakel hulle oor na mieliemeel.”
Hy stem saam met ander ekonome dat die werkloosheidsyfer gaan aanhou styg, in welke geval mense se diëte meer styselgebaseer gaan word. “Die witmieliemeelmark bly groei. Hierdie meulens funksioneer teen volle kapasiteit soos wat mense afskaal na goedkoper voedselprodukte.”
Moeilik om agterstand in te haal
Die Wêreldbank het gewaarsku dat dit enigiets tussen vyf en nege jaar vir opkomende lande gaan neem om verlore welvaart terug te kry. “Verlede jaar het inderdaad ‘n groot welvaartverlies tot gevolg gehad.”
Hy het verwys na Suid-Afrika se enorme staatskuld en die feit dat ons land se staatskuldrentekoerse op die oomblik die tweede hoogste in die wêreld is. “Dit is een van die redes waarom kapitaal die land binnekom.”
Hy is wel positief dat die wisselkoers sal versterk en vir die volgende paar maande op sowat R15 per Amerikaanse dollar sal verhandel. Rentekoerse sal ook na verwagting ‘n sywaartse beweging in 2021 aanneem. Die Verenigde State van Amerika (VSA) se geldvoorraad het met die uitbreking van COVID-19 merkwaardig toegeneem. “Hulle het geld geskep en as daar te veel geld is en te min goedere, dan soek die geld ‘n plek om ‘n opbrengs te kry. Aandeelpryse het dus die hoogte ingeskiet.”
Talle spekulante het die graanmark betree. “As hierdie ouens besluit hulle het genoeg winste gemaak en hul posisies begin ontruim, kan hulle die pryse afdruk en dit skep risiko’s.”
Landbank en landbougroei
Die Landbank is nou die duurste bron van finansiering. Hierdie instansie het sowat R45 miljard geleen, terwyl sy kapitaalreserwes geweldig gedaal het. “Dié instelling het tot 18% nie-presterende lenings, waar kommersiële banke se gemiddeld maar sowat 4% is.”
Volgens prof Willemse is die Landbank besig om agterstallige lenings aan kommersiële produsente in veilings om te sit. “Sy risiko’s het dus merkwaardig verhoog. Baie produsente het op die Landbank staatgemaak vir finansiering, en hulle moet nou ‘n ander heenkome soek. Dit is dus belangrik dat hulle ‘n goeie verhouding met hul banke handhaaf.”
Landboumaatskappye raam die gat wat die Landbank in direkte produksiekrediet gaan laat op tussen R10 miljard en R15 miljard, aldus prof Willemse.
UITVOERE
Prof Willemse vind dit interessant dat Suid-Afrika produkte van hoë waarde – soos wyn, neute, sitrus en wol – uitvoer. “Sitrus is ons grootste landbou-uitvoerder op die oomblik – ter waarde van tussen R25 miljard en R30 miljard. Landbou het dus ‘n struktuurverandering ondergaan deurdat ons baie meer mededingend is, met hoë waarde produkte wat eintlik baie meer arbeidsintensief is.”
Weerpatrone het uiteraard ‘n uitwerking op die internasionale graanmark. Suid-Afrika is gunstig ten opsigte van die huidige La Niña-stelsel geposisioneer en ontvang normale tot bogemiddelde reënval. Suid-Amerika neig egter om droog te wees.
“Amerika neig ook om swakker mielie-oeste tydens La Niña te behaal en daar is dus minder wêreldvoorraad. Dit het ‘n ongemaklikheid in wêreldmarkte tot gevolg,” het hy verduidelik.
Mielies is die enigste produk waarvan ons ‘n surplus het; en ons voer soja-oliekoek, grondbone, droë bone en kookolie in. “Al hierdie produkte se pryse is dus gekoppel aan die invoerprys, terwyl dié van mielies aan die uitvoerprys gekoppel is.”
HOU CHINA DOP
China het ook weer toegetree as ‘n ernstige koper van sojabone. Hierdie land het drie jaar gelede ernstige varkgriep ondervind en 300 miljoen van sy 600 miljoen varke geslag. Die kuddes is intussen weer opgebou na 600 miljoen en China voer gevolglik sowat 100 miljoen ton sojabone in om hulle te kan voer. “China het verander van agterplaas-varkboere na kommersieel. Daar is sowat 200 000 sôe op een plaas – die somtotaal van die aantal sôe in Suid-Afrika!”
Mielieprodusente gunstig geposisioneer
Amerika se mielievoorraad het gedaal van 54,4 miljoen ton in 2017/2018 na sowat 39,4 miljoen ton in 2020/2021, wat ‘n prysstyging tot gevolg gehad het. Suid-Afrikaanse mielieprodusente gaan oor drie tot vier maande stroop, terwyl Amerika se mielievoorraad nog in hulle silo’s lê. Produsente dáár gaan eers in Mei/Junie begin plant en dus eers hulle oes in die derde kwartaal van 2021 inneem.
Rabobank voorspel dat die mielieprys sterk gaan bly tot die derde kwartaal, wanneer Amerika hopelik ‘n groot oes sal kry. “Dit is belangrik omdat ons gedurende ons oesproses op uitvoerpryse staatmaak. Die mark verdiskonteer ‘n groot oes en die gouste wat dit sal daal, is eers vanaf die derde kwartaal. Só vanuit ‘n produsent se oogpunt is ons op die oomblik in ‘n baie goeie posisie.”
MINDER GOEIE NUUS VIR VEEPRODUSENTE
Daar is egter minder goeie nuus vir veeprodusente, wat vir die volgende ses tot agt maande met hoë graanpryse sal moet saamleef. “Mielies se verbruikersmark het ook wesenlik toegeneem. Die veevoermark groei ook, want ons hou tog so baie van Kentucky,” het hy opgemerk.
Suid-Afrika se mielievoorrade is tans knap en dit is waarom die ou seisoenpryse so hoog is.
“Graanhandelaars praat van ‘n inverse prys. Huidige graan is baie duurder as nuwe graan, so dit is nie lonend om graan te stoor nie. Daar word gehoop dat ons in 2021 vroeër sal kan stroop en die voorrade sal kan aanvul, wat die prys afwaarts sal dwing. Die risiko is egter nat lande, wat kan lei tot vertragings in die stroopproses.”
Die uitvoerprys van geelmielies was met die skryf van hierdie artikel R3 400/t. ‘n Groot oes is verdiskonteer en prof Willemse het nie voorsien dat die prys vinnig sou terugsak na R1 700/t nie. Hy meen dit gaan tussen R3 200/t en R3 400/t bly vir die volgende ses maande.
‘n Groot witmielie-oes van 9 500 miljoen ton word verwag. Die veevoermark absorbeer ‘n groot deel van witmielies gedurende ‘n groot oes omdat ons dit nie gemaklik kan uitvoer nie, met die uitsondering na buurlande.
Tussen 1,4 miljoen ton en 1,6 miljoen ton geelmielies word vir veevoer aangewend; en Suid-Afrika het eintlik ‘n tekort. “As ons dus nie ‘n groot witmielie-oes het nie, kan ons nie al die diere kos gee nie,” het hy verduidelik.
Daar is tans sowat 570 000 ton mielies in Suid-Afrikaanse silo’s, maar ons benodig 900 000 ton om ‘n werkbare voorraad te hê. “Daar is ernstige vrae oor die gehalte van hierdie mielies en daarom is naby-maande se witmielies baie duur.”
Vleispryse
Hoe is dit moontlik dat die pryse van bees- en skaapvleis tydens ‘n resessie nuwe rekords bereik het? Volgens prof Willemse het die slag van beeste sedert 2015 afgeneem van 3,5 miljoen beeste na 2,5 miljoen. “Ons slag dus die afgelope jaar 1 miljoen beeste minder en dit werk deur na jou maandsyfers toe. Die aanbod van rooivleis het dus met 25% gedaal, en dit verklaar waarom pryse hoog gebly het.”
Voerkrale kry baie swaar weens die hoë veevoerprys. Die prys van speenkalwers het ook gestyg weens die tekort. Tot 75% van ons beesvleis kom deur voerkrale.
“Hoekom hou ‘n voerkraal dus aan speenkalwers koop? Sommige van die voerkrale verloor soveel as R2 500 per speenkalf. Die realiteit is egter dat ons voerkrale nou groot geïntegreerde besighede is. ‘n Koper koop dus die voerkraal en speenkalf aan, voer die dier dan vir 90 of 120 dae, slag, ontbeen en verpak dit, en voorsien kontrakte. As daar dus nie inkoop is nie, verloor jy kontrakte – wat dikwels uitvoerkontrakte is – en dan is jy uit besigheid.”
Prof Willemse verwag dat klas A-pryse, gegewe die ekonomie, op R50/kg sal bly of selfs ‘n bietjie sal terugsak. Dit sal moontlik weer tydens Paasfees styg.
Voerkrale se dilemma
China is ‘n groot koper van Suid-Afrika se bevrore beesvleis. Dié land vereis egter goeie naspeurbaarheid sodat hulle verseker kan wees ons vleis is vry van bek-en-klouseer. “Hulle wil dit kan naspeur van die voerkraal tot by die verpakkingsaanleg. Vleis moet vinnig verkoel kan word tot -40°C. Ons voerkrale werk hard om dit te bewerkstellig.”
Prof Willemse meen dat Suid-Afrika moet streef na die verhoogde uitvoer van beesvleis omdat die binnelandse mark nie binne die volgende drie tot vier jaar gaan groei nie. “Ons moet die uitvoerklep benut en produsente moet hulle gereed maak vir beter naspeurbaarheid. Dit gaan hulle nie noodwendig beter pryse besorg nie, maar hulle gaan hul mark behou.”
Hy het die hoë prys van lamsvleis (R110/kg) nie toegeskryf aan ‘n verhoogde aanvraag nie, maar aan ‘n verlaagde aanbod. Die slagting van skaapvleis het die laaste vier tot vyf jaar met 40% gedaal. “Daar is ‘n groot tekort aan aanbod, terwyl daar ‘n nismark vir dié produk is. Ek dink die prys gaan sywaarts laer beweeg soos wat ons die winter nader en daar meer lammers geslag sal word. Tog is die prys steeds onder dié van invoere en goedkoper as dié in Australië.”
Varke is ‘n groeiende bedryf met redelike uitbreidings en sogeenhede wat opgerig word. Varkvleis is besig om die markaandeel van bees- en skaapvleis weg te neem omdat dié vleissoorte te duur is. Volgens hom is varkvleis goed geprys, maar hy verwag dat die seisoenale prys laer kan neig na sowat R32/kg.
Braaikuikenproduksie begin toeneem en invoere stabiliseer danksy tariewe. Die belaglike maatreëls tydens vlak 5 van die inperking (die verbod op die verkoop van warm kos, wat gaar hoenders insluit) het tot ‘n noemenswaardige daling in pryse gelei. Dit het intussen herstel na sowat R26/kg. Hy verwag ‘n effense insinking en dat dit meer sywaarts sal beweeg. “Dit is op die oomblik nie baie winsgewend nie weens die hoë prys van voer. Ek vermoed dat winste wel gedurende die tweede deel van die jaar sal toeneem, wanneer die voerkoste sal daal.”
Die eierbedryf het redelike sterk groei in gebruik beleef gedurende die aanvanklike vlakke van die inperking. “Die vraag het egter redelik in Januarie vanjaar gesak soos wat verbruikers begin swaarkry het. Tans is die prys op R14 per dosyn en dit sal na verwagting sywaarts beweeg voordat dit in die winter behoort te styg omdat dit die goedkoopste proteïenbron is.”
Prof Willemse het laastens na suiwelboere verwys, waarvan die getal die afgelope tien jaar bykans halveer het. “‘n Interessante aanpassing in die bedryf is die feit dat die vraag na varsmelk besig is om te daal. Verbruikers soek eerder langlewemelk. Ons neem ook ‘n sterk groei in produkte soos joghurt, kase en botter waar.”