’n Fokus op dieregesondheid, naspeurbaarheid en uitvoere is nodig om die voerkraalbedryf na nuwe hoogtes te neem. Dit is die mening van Dewald Olivier, uitvoerende hoof van die SA Voerkraalvereniging (SAFA).
Dewald wat ’n regsagtergrond het, is sowat ’n jaar gelede in sy posisie aangestel. Hy het Woensdag 21 April 2021 ’n webinaar wat deur Nedbank aangebied is, toegespreek.
“SAFA se grondwet was só saamgestel dat dit gefokus het op lede-spesifieke aangeleenthede. Dit het ons beperk en grootliks in silo’s geplaas. Die idee met my aanstelling was om uit te reik na ander organisasies in die waardeketting en na ’n gemeenskaplike doel te werk,” het hy verduidelik.
Dieregesondheid en naspeurbaarheid
“Die uitbreking van bek-en-klouseer, veral buite die rooi gebied, het ’n groot uitwerking op ons bedryf gehad,” het Dewald gesê. Dieregesondheid en naspeurbaarheid is ’n prioriteit vir SAFA. “Naspeurbaarheid is die sleutel tot dieregesondheid. Begin op jou eie plaas en bepaal hoe biosekuriteit daar lyk.”
Dewald raai produsente aan om ’n goeie bestuurspraktykstelsel op jou plaas te vestig. “Jy kan net bestuur wat jy kan meet. So as jy weet wat op jou plaas aangaan, dan kan jy dit bestuur. “Ons is almal klante van mekaar of diensverskaffers aan die volgende rolspeler binne die waardeketting.”
Verbruikers soek sekerheid oor wat hulle kry en ’n naspeurbaarheidsmodel stel die produsent in staat om ’n geskiedenis op te bou van ’n spesifieke dier. “Jy sal dan weet watter kalwer kom van watter koei en bul én hoe die dier se groei verloop het. Dit gaan op die ou end jou prys bepaal. Jy wil ’n dier in die stelsel sit wat uitgevoer kan word.”
Die landbou-ekonoom, prof Johan Willemse wat ook die webinaar toegespreek het, het bygevoeg: “As ek vir jou ’n produk kan gee, vergesel van my prestasiemeting, groeimaatstawwe en naspeurbaarheid, verander dit die prentjie.”
Kyk verder as China
Dieregesondheid het ’n direkte invloed op uitvoere. Suid-Afrika voer jaarliks 30 000 ton rooivleis uit. Hiervan gaan 34% na China; 18% na Kuwait en 9% na Mosambiek.
“Daar is ongelooflike geleenthede na China. Ons vergeet egter dat die risiko net so groot is.” Hy het verwys na ’n versending vleis wat per skip op pad was na China. Dié diere is nog vóór die uitbreking van bek-en-klouseer geslag. “China wou egter nie die versending aanvaar nie en die uitvoerder moes ’n ander plan maak.”
Tog meen Dewald dat die bedryf van Afrika vergeet. “Die Africa Free Trade Agreement is reeds in plek en geniet aandag oor die hele kontinent. Ons sien ook dat Brasilië, Australië en die VSA nié toegang tot Afrika kry nie. Daar is dus beslis geleenthede vir ons bedryf om na die res van Afrika uit te voer.”
Dewald het benadruk dat rolspelers in die bedryf anders en uit die boks moet begin dink. “Dit hoef nie noodwendig lewende hawe te wees nie. Dalk geblikte vleis?”
Rusland het ook reusepotensiaal. “Daar is nie een bees daar nie. Hulle voer egter nie van ons in nie weens dieregesondheid.
“Om te sê dat die regering na dieregesondheid moet kyk, is ’n onbegonne taak. Dit gaan nooit gebeur nie. Ons moet vir onsself ’n stelsel skep en ons kan dit slegs doen deur toe te sien dat die kudde wat na die voerkraal of direk aan die abattoir oorgedra word, aan sekere vereistes voldoen.”
Binnelandse mark, min potensiaal
Dewald meen binnelandse vleisverbruik gaan nie enorm groei nie. Die geleentheid is nou reg om uit te voer. Ek glo nie dat ons verbruik binnelands sommer enorm sal groei nie.
“Verbruikers in Suid-Afrika is baie pryssensitief. Dis alombekend dat die stapelvoedsel hoender is. Sodra verbruikers bietjie meer geld het, koop hulle vark. Sou hulle ’n groter meevaller teëkom, koop hulle bees en laastens skaap. Hierdie sensitiwiteit gaan nie vinnig verander nie.”
Dit is waarom die bedryf soveel te meer op die uitvoermark moet fokus. Dewald het gewaarsku dat rolspelers vinniger hierna moet streef as teen die huidige tempo. “Ons is besig om voete te sleep omdat ons nie op dieselfde bladsy is oor goed soos naspeurbaarheid nie.”
Dewald is oortuig daar gaan twee waardekettings of stelsels in Suid-Afrika gevestig word. Een gaan hom toespits op die uitvoermark en die ander op die binnelandse mark. “Met tyd sal die binnelandse mark ’n internasionale standaard moet handhaaf. Die plaaslike verbruiker gaan wil weet hoekom moet hulle met tweede beste tevrede moet wees.”
Samewerking is nodig
Volgens Dewald moet die voerkraalbedryf die voorbeeld van die sitrus- en neutbedrywe navolg. “Hier het rolspelers hande gevat en gewerk na ’n gemeenskaplike doel. Ons moet ons hoede afhaal en vir mekaar sê ons is in dieselfde bedryf en dat ons almal geld wil maak.
“Voerkrale kry redelik seer weens hoë insetkoste, maar daar is ander klante en rolspelers in die rooivleiswaardeketting wat redelik goed doen. As jy dus goeie pryse vir kalwers kry, moet dit deurtrek na uitvoere sodat almal kan goed doen.”
Dewald het bygevoeg dat SAFA hard daaraan werk om verhoudings te vestig en te versterk. “Ons beweeg nader aan die regering en verstaan die brandpunte waarmee hulle sukkel.”
Dié organisasie wil hande vat met primêre produsente aan die een kant en abattoirs aan die ander kant. “Hoe vat ons hierdie bedryf en maak dit relevant en voeg waarde toe sodat ons dit op die hoogste vlak kan verkoop?”
’n Meer deursigtige prysvormingsmeganisme kan net gevestig word deur verhoudings te versterk, meen Dewald. “Jy moet die vrymoedigheid hê om te kan sê dat jy ’n produk van hoogstaande gehalte bied en dan te vra wat jy in ruil daarvoor kry.”
Die informele mark
Dewald noem ook dat hulle bedryf baie onseker was met die aanvang van die COVID-19-pandemie. “Wat sou gebeur met die afneem van ons produk aan die agterkant? Jy kon slag, maar aan wie verkoop jy dit?”
Nietemin is daar verlede jaar 2,7 miljoen beeste geslag, dieselfde hoeveelheid as in 2019.
“Ons was nie só gekonfronteer met die effek wat die informele mark op ons bedryf het nie. Ons het met ’n skok agtergekom dat die informele mark in Suid-Afrika wat die afvalle en koppe wegneem, ’n beduidende rol in ons bedryf speel.
“Die regering wil hê ons moet die afnemers van daardie produk formaliseer. Ons moet hulle opskryf en laat belasting betaal. Die meerderheid van die voerkraalbedryf het egter vasgeskop. Dit sal sinneloos wees. Hulle vervul ’n groot rol in ons bedryf.”
Die feit dat uitvoermarkte kort ná die aanvang van die inperking oopgebly het, was fantasties, aldus Dewald. “Dit het die prys binnelands gestimuleer. Verbruikers het ook gesien ons prys het redelik konstant gebly.”