Die koste van produksie-insette het veral die afgelope twee maande dramatiese stygings getoon. Die opmerklikste verhogings was in veral brandstof, kunsmis en chemikalieë.
Hoewel die rand-dollar-wisselkoers die afgelope aantal weke tekens van verstewiging getoon het, was dit nie sterk genoeg om die opwaartse druk van internasionale markkragte teen te werk nie.
Buiten die oorsake wat die olieprys so stewig laat styg het, met sy gevolglike invloed op ander energie-gekoppelde produkte soos ureum en ammoniakgas, het tekorte in die internasionale produksiekapasiteit ontstaan weens onder andere vloede in China, COVID-19 se uitwerking en die orkane in New Orleans.
Die wanbalans is nog verder versteur deur reuse aankope deur China om onder meer hul uitgedunde varkbedryf weer op te bou. Amerika, wat tans in hul plantseisoen inbeweeg, het weens die hoë Chicago-pryse, verdere wêreldtekorte veroorsaak. Die hoë pryse word onder andere aan die verhoogde plantvoornemens toegeskryf.
“Hierdie tendense het natuurlik ‘n invloed op die koste van insette in Suid Afrika, maar ons vertrou dat die mark sal afkoel teen die tyd dat produsente begin onderhandel vir die somergewasse se insetaankope,” het Henk le Roux, seniorbestuurder van Kunsmis en Projekte by NWK, gesê.