Agsun 5278 verras
Aangesien verskillende seisoene sekere kultivars kan bevoordeel of benadeel, is dit belangrik dat ’n kultivar aanpasbaar moet wees ten opsigte van opbrengs en siekteweerstand, en terselfdertyd ’n goeie staanvermoë moet hê. Seisoensaanpasbaarheid is egter ’n term wat sinoniem is met die sonneblomkultivar Agsun 5278. In die 2020/2021-seisoen is talle produsente verras deur dié kultivar se prestasies. Hier volg ’n paar van die suksesverhale:
BLOEMFONTEIN
Henco Freyling van die plaas Spesbona naby Bloemfontein plant elke jaar Agsun 5278. Hy sê hy het sterk vertroue in hierdie kultivar, want dit het homself op sy plaas bewys. Volgens Henco is daar ’n paar eienskappe van dié kultivar wat uitstaan bo ander kultivars. Afgesien van die goeie opbrengste wat die kultivar realiseer, het dit ook ’n sterk opkomsvermoë en vorm dit ook vinnig ’n blaredak. Die stroopproses word vergemaklik as gevolg van die kultivar se egalige groeiwyse.
Henco glo in ’n plantestand van ongeveer 30 000 in die Bloemfontein-gebied en rol gewoonlik op die vyfde dag ná plant. Hy vind ook dat hy die beste opbrengste realiseer met ’n middel-Desember plantdatum. Hy wil in die komende seisoen sy konvensionele hektare met Agsun 5278 vergroot.
DEALESVILLE
Hannes Steyn van die plaas Leeufontein naby Dealesville is ’n groot ondersteuner van Agsun 5278 en plant dié kultivar al vir die afgelope vier seisoene op sy plaas. Hy beskryf Agsun 5278 as ’n uitstekende kultivar, wat tydens ’n droë jaar asook ’n nat jaar ’n bogemiddelde opbrengs lewer. Dit is waarom die kultivar amper 50% van sy totale sonneblomhektare opneem.
Hy noem spesifiek dat die kultivar soos ’n pen uit die grond kom en ook baie vinnig die grond bedek, met sy groot blare wat baie help om onkruide te onderdruk. Hy sal daarvan hou om nog meer hektare met die kultivar te plant, maar as gevolg van hoë onkruiddruk op sekere lande moet hy van Agricol se Clearfield®Plus-kultivars ook plant om sy probleemlande skoon te hou.
Piet Wiese van die plaas Welgevonden boer in die omgewing van Dealesville en plant al sedert 2015 Agsun 5278. Hy sê hy het nog net sukses met hierdie kultivar ervaar, en noem dat hy met baie vertroue en gerustheid elke jaar daarvan aankoop om te plant.
Hy verwys spesifiek na die kultivar se stay-green-eienskap, wat in ’n nat jaar soos vanjaar baie gehelp het teen stamsiektes. Afgesien daarvan dat die kultivar lekker stroop, het hy ook opgelet dat dit oor ’n paar seisoene konstant baie goeie skepelmassas toon, tesame met ’n goeie opbrengs waarop hy kan staatmaak. Hy sê ook “die kultivar kom baie sterk op en die kop bestuif tot in die middel”.
Piet plant sy sonneblom gewoonlik tussen 20 Desember en 20 Januarie, en glo in ’n plantestand van 35 000 vir sy omgewing. Hy meen dat sy sukses om ’n goeie stand te realiseer, gedeeltelik daaraan toegeskryf kan word dat hy tussen dag 3 en dag 5 rol.
ROEDTAN
Johan van Zyl van die plaas Assen in die Roedtan-omgewing plant al vir drie jaar Agsun 5278, en dié kultivar het hom baie beïndruk. Die Springbokvlakte is ’n gebied wat bekend is vir sy strawwe produksietoestande, wat omstandighede baie moeilik kan maak vir saaiprodusente. “Agsun 5278 is die stabielste kultivar vir ons harde omgewing,” vertel Johan. Hy voeg by dat hy vanjaar sy beste opbrengs nóg met dié kultivar gestroop het – ’n tonnemaat van 1,7 ton per hektaar op 240 hektaar.
Verder sê Johan: “Die vorige paar seisoene was baie droog en hierdie kultivar het bo die ander uitgestaan. Agsun 5278 het ’n goeie opkoms en vertoon mooi egalig, wat die stroopproses vergemaklik. Die voordeel van hierdie kultivar is dat dit baie goed bestuif in ons moeilike en droë omgewing.” Johan gaan ook sy aantal hektare met Agsun 5278 aansienlik vermeerder in die komende seisoen.
Die Agsun 5278 is bekend vir sy opbrengsstabiliteit en aanpasbaarheid, en is ’n móét vir enige sonneblompakket vir die komende plantseisoen. Skakel gerus jou naaste Agricol-agent vir ’n pakket-aanbeveling in jou gebied.