NWK het hande gevat met IP Makelaars SA (Edms) Beperk om IP & NWK Makelaars (Edms) Beperk te stig wat innoverende en allesomvattende versekerings- en ander finansiële dienste bied.
Dit volg nadat Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy sy aandeel in SENWK (Edms) Beperk, die houermaatskappy van CertiSure Brokers (Edms) (die makelary) Beperk en Univision Broker Services Edms Beperk (die administreerder) verkoop het en hiermee sy gesamentlike vennootskap met Senwes beëindig het.
NWK het intussen ‘n belang bekom in IP Makelaars SA (Edms) Beperk, ‘n gemagtigde finansiële diensteverskaffer, wat in 1987 tot die versekeringsbedryf toegetree het en bekend is as ‘n passievolle onderneming met ervare en hoogs gekwalifiseerde personeel, wat in kumulatiewe jare meer as 113 jaar ervaring in die bedryf het.
Die tradisionele kliëntebasis van NWK, wat gediens was deur CertiSure Lichtenburg, Coligny, Sannieshof, Delareyville, Koster en Zeerust, tesame met die betrokke CertiSure-makelaars en -personeel, is vanaf 1 Julie 2021 deur IP & NWK Makelaars oorgeneem, onder leiding van die ervare IP van der Merwe en Elretha Kock.
Die formele oordrag van kliënte se versekeringsportefeuljes na IP & NWK Makelaars het ook reeds afgeskop.
Klante sal steeds van ‘n wye reeks produkte en dienste van hoogstaande gehalte gebruik kan maak, wat insluit:
- reis-, korttermyn-, lewens- en oesversekering;
- boedelbeplanning en -bereddering;
- mediese fondse;
- testamente;
- aftreebeplanning; en
- beleggings.
“NWK is trots om hande te vat met ‘n dinamiese nuwe sakevennoot in die versekeringsarena. Dit vorm deel van ons fokus op kliëntediens en -tevredenheid en die voortdurende belyning van ons sakebelange hiermee.
“Ons sien uit na die lewering van volgehoue verbeterde en professionele kliëntediens vir ons kliënte (insluitend ons personeel) en aandeelhouers by wyse van hierdie nuwe dinamiese vennootskap,” het Theo Rabe, hoof- uitvoerende beampte van NWK, gesê.