Tot 90% van dieresiektes kan voorkom word en doelgerigte samewerking tussen die veeprodusent en ‘n kuddeveearts, skep die basis vir goeie kuddegesondheid op plaasvlak.
Dieregesondheid in Suid-Afrika is gebrekkig en tans die grootste faktor wat uitbreiding van die uitvoermark verhoed. Dit is die sentiment wat die drie sprekers by NWK Retail se “Ken jou beesboerdery boeredag”, gedeel het. Dit is op Donderdag, 9 September 2021 by Vooruitzicht Simmentalers naby Lichtenburg aangebied.
Drs Danie Odendaal, direkteur van Veeartsnetwerk, Francois van de Vyfer, nasionale tegniese bestuurder van Voermol en Ferdi Meyer, direkteur van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP), het dié geleentheid toegespreek.
Voorkoming is beter as genesing
Danie is ‘n groot voorstander van dié gesegde. Hy meen dat ‘n voorkomende model van siektebeheer egter nog nie momentum gekry het nie omdat ‘n kliniese- of sakemodel eenvoudiger is.
“Boere sê diere word siek, hulle kontak ‘n veearts, dié kom uit en behandel die dier. Produsente kan egter baie verliese spaar deur ‘n kuddeveearts te vra om een dag op sy plaas te spandeer en ‘n voorkomingsplan op te stel,” het hy verduidelik.
Só ‘n plan neem diere se produksiestadiums, voeding, seisoene en siekteveroorsakende organismes in ‘n omgewing in ag en moet jaarliks hersien word.
Siektevoorkoming berus op twee bene:
- Verhoog weerstand deur goeie voeding en inentings.
- Verlaag blootstelling deur vroeë behandeling, die uitskot van besmette diere en die voorkoming van blootstelling aan vreemde diere wat nog nie getoets is nie.
Die mees kritieke beheerpunt in die twaalf maande produksiesiklus van vleisbeeste is die kalwingsproses en verliese moet sover moontlik voorkom word. “Onthou, dit is goedkoper om jou hele kudde in te ent as om een kalfie te verloor,” het hy gemaan.
Tog is die opstel van ‘n voorkomingsplan kompleks, omdat dit beskerming teen beide virusse en bakterieë moet bied. “Elke siekte se oordrag en verloop verskil.
“Deur inenting kan ‘n dier weerstand teen ‘n virus opbou, wat nie die geval by die besmetting deur bakterieë is nie.”
Omgewing speel ‘n groter rol as genetika
Volgens Francois speel genetika slegs sowat ‘n 30% rol in die kwaliteit van ‘n dier, terwyl sy omgewing ‘n enorme 70% invloed daarop het.
Hy het produsente gemaan om nie té jong bulle by koeie te sit nie. “Die gemiddeld is een bul per 30 koeie, maar jong bulle kan nie daardie druk hanteer nie.” ‘n Bul van twaalf maande kan slegs twaalf koeie dek; dié van 24 maande slegs 24 koeie en eers vanaf driejarige ouderdom kan hulle 30 koeie en meer dek.
Moet bulle ook nie té vroeg té veel vet voer nie, is Francois se raad. Omdat marmering (vet tussen spiere) die laaste is om te vorm, gaan sit hierdie vet om hulle organe as hulle jonk is. Vet wat in ‘n skrotum gaan sit, lei ook tot laer viriliteit. “‘n Jong bul moet eerder proteïen met energie bykry, as andersom.
Tog kan bulle te maer ook wees. Inteendeel, navorsing het gewys dat maer bulle se vrugbaarheid selfs laer as dié van te vet bulle kan wees.
Verhoging in vleispryse
Landbou het ‘n uitstekende jaar ervaar en hoewel Suid-Afrika se ekonomie verlede jaar weens COVID-19 en die gevolglike inperking met 9% gekrimp het, het dié van landbou met 13,2% gegroei, sê Ferdi.
Hoewel die mielieoes van 2017 in tonnemaat die grootste tot dusver was, teen ‘n omset van sowat R39 miljard, word daar geskat dat die omset van vanjaar se oes by R48 miljard draai.
Die vleisbedryf is egter groter as dié van graan en 47% van die landbou-ekonomie bestaan uit lewende hawe. “Die sprong in pryse wat ons vanjaar ervaar, is eintlik te danke aan die kontantvloei in die graanbedryf. Talle produsente kan daarom weer belê in kuddebou,” het Ferdi verduidelik.
Suid-Afrika is nou ‘n netto-uitvoerder van vleis, hoeveel aanvraag plaaslik nog onder druk verkeer. “Vleisproduksie het met 9% gestyg, maar verbruik met slegs 5%. Tot 65% van verbruikers eet hoender; 23% verkies bees, slegs 8% koop vark en net 4%, skaap.”
Met die onlangse uitbrekings van bek-en-klouseer nog vars in oorsese markte se geheue, het Ferdi by die vorige twee sprekers aangesluit en gesê dat Suid-Afrika sy kuddegesondheid in orde móét kry, anders gaan uitvoere nie groei nie. “Ons is sedert 2014 op dieselfde vlakke van uitvoer. Inteendeel, dit is eintlik op ‘n mespunt en kan enige oomblik vou omdat beleggers lugtig is.”