NWK het die afgelope finansiële jaar een van sy beste winste nóg getoon. Inteendeel, slegs een vorige jaar het dié een getroef (‘n dekade gelede) en dit is bloot omdat daar toe sake-eenhede verkoop is.
Theo Rabe, groephoof- uitvoerende beampte, het dit uitgelig by NWK Beherend Beperk se afgelope jaarvergadering wat Vrydag by NWK se opleidingsentrum gehou is.
Dit beteken allermins dat NWK se oudste landboumaatskappy op sy louere rus en Theo het aandeelhouers ingelig oor die strategiese rigting wat NWK gaan inslaan om relevant te bly en winste selfs méér te vergroot.
NWK droom gróót, sonder om klante te vervreem
STRATEGIESE RIGTING
Die strategiese rigting waar NWK groot droom, sonder om die klant te vervreem, behels dat NWK fokus op:
- Volhoubare organiese groei, wat die uitbreiding van sy onderskeie departemente insluit.
- Verkrygingsgroei, sou ‘n geleentheid hom voordoen en dit waarde tot die groep voeg.
- Tegnologiese innovasie en rekenarisering.
- Om prosesse doeltreffend uit te voer.
- Uitstaande klantediens.
KAPASITEIT VAN GRAANBERGINGSGERIEWE VERGROOT
Daar word tans twee bergingsgeriewe by Grootpan en Boschpoort silo’s opgerig met ‘n bergingskapasiteit van 30 000 ton elk.
‘n Bykomende stoor met verbeterde op- en aflaaigeriewe is by Delareyville silo’s opgerig. Hierdie dorp is noemenswaardig tot NWK se buitestrategie, omdat heelwat graan van buite die maatskappy se tradisionele bedieningsgebied hier ontvang word. Net die afgelope jaar het NWK meer as 400 000 ton graan vanaf buitegebiede ontvang.
Sagteware gaan by al die silo’s opgegradeer word. “Ons het nie tred gehou met die veranderinge op plaasvlak nie en ons kon dit hierdie jaar duidelik sien met die groot volume graan wat ons hanteer het. Produsente koop hul eie vragmotors en die lewering was dus baie vinniger, maar ons inname-tempo’s het dieselfde gebly. Ons gaan dus in die volgende paar jaar hier belê en bepaalde aksies uitvoer om hierdie probleme uit te skakel.”
NWK se logistieke vloot is voorts met vyf nuwe vragmotors en waens uitgebrei.
KLEINHANDEL – VOETSPOOR BREI UIT
Daar is reeds nuwe winkels op Vryburg, Klerksdorp (agentskap), Bothaville (agentskap) en Alma (agentskap) geopen. Dié op Brits en Bloemhof (agentskap) sal ook binnekort hul deure open.
Agentskappe word gevorm in samewerking met private sake-eienaars waarvolgens NWK die perseel en voorraad verskaf, maar entrepreneurs hierdie winkels bestuur. Winsdeling geskied op ‘n bepaalde persentasie en Theo het genoem dat aansoeke hiervoor oorweldigend is.
“NWK doen egter behoorlik ondersoek en sluit slegs ooreenkomste waar dit lewensvatbaar is,” het hy bygevoeg.
Die maatskappy het ook onlangs Lorenzo Motors in Nelson Mandela-rylaan in Lichtenburg bekom. NWK se ander vulstasie in dieselfde straat gaan binnekort opgegradeer word en werksaamhede sal dan na die nuwe perseel skuif.
MEGANISASIE – OMDRAAISTRATEGIE WERP VRUGTE AF
Meganisasie het vir die eerste keer in jare ‘n wins getoon. Daar is ‘n bestaande agentskap in Kroonstad bekom wat Bothaville ook bedien. Heelgoedere verkoop uitstekend en NWK is die markleier in die provinsie.
“Ons markaandeel is ver bo 30% en ons is al vir die tweede jaar die markleier,” het Theo gespog.
Werkswinkels word voorts doeltreffender benut teen ‘n 60% besetting, hoewel die aanstelling van werktuigkundiges problematies is. “Onderdele is die laaste fokus van Meganisasie se omdraaistrategie en ons is positief dat dit binnekort uitgesorteer sal wees.”
FINANSIES EN FINANSIERING – BALANSSTAAT VERSTERK DIE AFGELOPE DRIE JAAR
NWK kon dus gevolglik verhoogde kredietfasiliteite by bankiers kry. Produsente het ook die afgelope twee jaar toenemend hul oorlaatskuld afbetaal en NWK se debiteureboek is gevolglik baie gesonder.
Die maatskappy finansier ook meer voormalige klante van die Landbank.
HOOFKANTOOR – FOKUS OP DOELTREFFENDHEID
Prosesse word hier ook deurlopend gerekenariseer, met die fokus op doeltreffende dienslewering aan interne departemente, met kostebesparings in gedagte.
EPKO – STABIELE KRAGVOORSIENING ‘N KOPSEER
Produksie by hierdie aanleg is stabiel en die olie-inhoud van sonneblom is die afgelope twee jaar goed.
Eskom se gebrekkige kragvoorsiening is egter ‘n groot probleem. Epko se kragrekeningbeloop sowat R2 miljoen per maand, maar dit ervaar gereelde onderbrekings in voorsiening.
“Sodra die kragtoevoer herstel is, vat dit ‘n verdere ses tot agt ure voordat produksie kan hervat. Net verlede jaar het ons 17 produksiedae verloor weens kragonderbrekings,” het Theo verduidelik.
GESAMENTLIKE ONDERNEMINGS BIED GULDE GELEENTHEDE
Bastion het goeie winste getoon danksy ‘n verhoogde aanvraag na kalk tydens die goeie produksieseisoene.
NWK & IP Makelaars het die lig gesien nadat NWK sy vennootskap met Senwes beëindig het nadat dié met Suidwes saamgesmelt het. Laasgenoemde het sy eie versekeringsbesigheid gehad en NWK moes daarby inkoop of CertiSure en Senwes kon op hulle eie hiermee voortgaan.
Die partye kon egter nie ooreenkom op ‘n prys waarvolgens NWK by die bogenoemde opset betrokke sou raak nie en hulle paaie het geskei.
NWK het kort hierna ‘n 50% aandeel in IP Makelaars op Ventersdorp bekom. “Versekering is ‘n hoogs gereguleerde bedryf en dit sou NWK te lank neem om die nodige lisensies te bekom en IP Makelaars het mooi by NWK se model ingepas. Daar is reeds die afgelope maand goeie vordering gemaak en NWK se tradisionele klantebasis is reeds 100% in IP Makelaars gekonsolideer,” het Theo afgesluit.
NWK se omset verhoog met 30%
Pieter Kleingeld, groephoof- finansiële beampte van NWK, het begin deur te sê dat NWK se vaste bates toegeneem het danksy doeltreffende kapitaalprojekte.
Langtermynlenings het afgeneem. Konsolidasielenings is tydens die vroeë droogte toegestaan aan sommige klante sodat hulle hul balansstate kon gebruik om deur dié moeilike jare te kom.
“Nou tydens die goeie jare fokus ons daarop om kliënte aan te moedig om van daardie lenings terug te betaal. Die probleem wat ons as maatskappy het, is dat die opbrengste op langtermynskuld nie dieselfde is as met die res van die besigheid nie en dit hou balansstate vas. Hier was dus ‘n afname van sowat R60 miljoen.”
Bedryfsbates het redelik toegeneem sedert die vorige finansiële jaar. “Dit is grootliks te wyte aan die graanvoorraad en omdat ons mielies ‘n maand vroeër begin ontvang het. Voorraad het dus met R1 miljard toegeneem,” het Pieter verduidelik.
Die vroeë spanderingsvermoë van klante het ook ‘n toename op die debiteureboeke tot gevolg gehad deurdat hulle verlede jaar belastingaankope kon doen.
Retail en Meganisasie se voorraad het ook toegeneem danksy die uitbreidings in hierdie departemente.
Ekwiteit het effens toegeneem danksy die verhoogde wins. Laste het ook dienooreenkomstig met die graanvoorraad toegeneem.
Die oortrokke fasiliteit het effe afgeneem danksy kontantvloeibestuur.
Niebedryfsbates was in 2017 sowat R1,2 miljard. Dit het afgeneem weens ondernemings wat verkoop is en die gevolglike herstrukturering binne NWK. “Ons is egter goed op pad om die vlakke van 2017 te bereik. Ons glo egter dat die bates wat ons nou het baie meer winsgewend is as dié van 2017,” het Pieter uitgewys.
Bedryfsbates het toegeneem van R1,8 miljard na R3,2 miljard. Dit is weer toegeskryf aan die vroeë leweringseisoen en sowat R1,1 miljard se hoër graanvoorraad.
NWK se eiekapitaalverhouding het weens die verhoogte graanvoorraad teen jaareinde na 35% verswak, maar volgens Pieter te wagte en nie ‘n rede tot kommer nie.
NWK se totale omset was in 2017 bykans R2 miljard teenoor vanjaar se R2,7 miljard. “Klantebasisse se verbeterde spanderingsvermoë het wel ‘n groot bydrae gelewer, maar as jy na die rekordoes van 2018 gaan kyk, was daar sedertdien selfs ‘n wesenlike verbetering. Dit dui op die suksesse van NWK se strategieë,” het Pieter bygevoeg.
Die bedryfswins in 2021 was R321 miljoen. Die finansieringskoste van R116 miljoen is redelik laag danksy die COVID-19-pandemie en verlaagde rentekoerse. “Die groot graanvoorraad wat ons moes dra het egter ‘n groot impak gehad.”
Vanjaar se voorbelastingwins van R225 miljoen was by verre die beste van die afgelope vyf jaar. Wins uit voortgesette bedrywighede was R168 miljoen, met geen besigheidseenhede wat verkoop is soos wat die geval in vorige jare was nie.
Die opbrengs op ekwiteite se nabelastingkoers was 11,8%, wat redelik vergelykbaar met die JSE is. “Hou ook in gedagte dat ons in 2019 die Opti Agri-groep verkoop en ‘n goeie wins gemaak het. Ons het dus die afgelope vyf jaar ‘n groot verbetering ervaar.”
Die opbrengs op belegging (dus die opbrengs op totale bates, betaalbaar vóór rente en belasting) is 9,5% – dit is heelwat hoër as die prima uitleenkoers en dus baie positief.
Die aandeleprys teen jaareinde was R3,60, met die gemiddelde aandeleprys teen R4,26. Die netto batewaarde per aandeel was in 2017 R10,43 en is nou R13,75. Die wesensverdienste per aandeel het toegeneem van 61c na R1,60 per aandeel.
Daar is dus ‘n besliste stygende neiging in die aandeleprys oor die afgelope vyf jaar. “Ek is vol vertroue dat ons op ‘n volhoubare basis redelike stabiele resultate kan behaal,” het Pieter benadruk.
Hy het ook die verhandelingslikiditeit van aandele bespreek en uitgewys dat dit vanjaar 4,05% is teenoor 3,85% in 2017. Pieter is positief dat daar met voorgestelde transaksies (soos om aandele van aandeelhouers 70 jaar en ouer terug te koop) ‘n verdere groei van tussen 1% en 2% in die verhandelingslikiditeit behaal kan word.
Pieter het die waarde wat NWK se aandele vir ‘n boerdery kan ontsluit, geïllustreer deur dit met die koop van ‘n Toyota Land Cruiser (teen sowat R700 000) te vergelyk.
“Teen R4,26 per aandeel vir die jaar onder oorsig sou jy sowat 164 319 aandele kon koop. Teen dieselfde sekuriteitswaarde van R4,83 soos by NWK Finansiering, beloop dit R793 662 en daarmee kan jy 113 hektaar se produksie finansier.”
Graan het uitsonderlik gevaar (R154 miljoen), hoewel 2018 se rekordoes ‘n hoër bedrag van R158 miljoen tot gevolg gehad het.
Kleinhandel en Meganisasie het ook uitstekend gevaar. Meganisasie alleen het met R21,7 miljoen vanaf die vorige jaar gegroei. Pieter het Kleinhandel se goeie prestasie nie net toegeskryf aan kliënte se groter spanderingsvermoë nie, maar ook NWK se goeie kliëntediens.
Kunsmis het daarop gefokus om sy klantebasis te vergroot en volumes te verhoog en dit het vrugte afgewerp met R19 miljoen meer ingewin as die vorige jaar.
Meerderheid stem ja
Die meerderheid van aandeelhouers het ja gestem vir gewone en spesiale besluite wat onder andere insluit:
- ‘n Verandering aan die Akte van Oprigting.
- ‘n Losparty-aanbod waarvolgens aandele van aandeelhouers met ‘n aandeelhouding van 2 500 of minder teruggekoop word.
- Om aandele van aandeelhouers 70 jaar en ouer terug te koop.
- Wysigings aan die stelsel van nominasie van wyksdirekteure.
- Om NWK-werknemers as bona fide boere te klassifiseer.
- Dat die Akte van Oprigting in sy totaliteit weer goedgekeur word.