Die landbou-ekonoom prof Johan Willemse, meen dat hoewel die volgende produksieseisoen in alle waarskynlikheid ‘n gunstige een sal wees, mielieprodusente aangeraai word om te verskans omdat die mielieprys na verwagting gaan daal.
Die klimatoloog prof Johan van den Berg en prof Willemse het Nedbank se onlangse webinaar oor die landboumark en klimaatvooruitsigte vir die nuwe somersaaiseisoen toegespreek.
Vraag na voedsel styg, maar werkloosheidskoers lol
Willemse het beklemtoon dat Suid-Afrikaners armer word en dat ‘n toenemende aantal skoolverlaters nie toegerus is om te werk nie. Boonop is tussen 50% en 70% van jongmense werkloos. Voedselsekuriteit is besig om af te neem en daar is tans meer mense in Suid-Afrika wat afhanklik is van maatskaplike toelaes as wat daar belastingbetalers is.
“Suid-Afrika het ook die meeste staatsamptenare wat die meeste betaal word. Staatsgeld gaan dus óf na staatsamptenare óf maatskaplike toelae.”
Daar was verlede jaar tydens die aanvanklike stadiums van die inperking ‘n sterk styging in die vraag na landbouprodukte. Dit het intussen afgeneem, maar die hoop is dat die nuwe maatskaplike toelaag van R350 per maand die vraag na voedsel opnuut sal stut.
“Ons het die afgelope dekade 10 miljoen mense bygekry. Dit is goeie nuus vir boere. Landbou is een van die min bedrywe met ‘n versekerde mark vir sy produkte,” het hy verduidelik.
Die uitvoermark groei boonop baie sterk, met die prys van goud en ander minerale wat dit verder ondersteun. Hoewel rentekoerse gedaal het, het kredietverlening ook gedaal.
Die sterker rand het tot gevolg dat geld weer die land binnekom, omdat beleggers ‘n aptyt het vir hoë opbrengste en bereid is om risiko’s te neem waarvoor hulle vergoed word, aldus Willemse.
Die wisselkoers is ‘n belangrike dryfveer van graanpryse. Hoewel dit onstabiel is, gaan dit na verwagting in die nabye toekoms tussen R14 en R14,50 per Amerikaanse dollar verhandel.
Insetkoste styg astronomies
Veevoer en kunsmis se prys het met tot 40% toegeneem. “Insetkoste om mielies te produseer, is sowat 20% duurder per hektaar, dié van sonneblom 18% duurder en dié van sojaboon 13,5%,” het Willemse gesê.
“Dit kos sowat R13 000 per hektaar om mielies te produseer. Boere moet ‘n redelike oes kan afhaal om hiervoor te vergoed.”
Willemse het bygevoeg dat Suid-Afrika ‘nnetto-uitvoerder van landbouprodukte is en veral lemoene, wyn en druiwe uitvoer.
China is die grootste netto-invoerder van landbouprodukte ter wêreld en het daarom ‘n reuse-invloed op wêreldmarkte. Dié land voer 100 miljoen ton sojaboon per jaar in om varke en hoenders te voer en ‘n verdere 110 miljoen ton mielies in.
Die aarde word warmer
Van den Berg het gesê dat die aarde se temperatuur die afgelope 100 jaar met sowat 1,2°C gestyg het. “Ons planeet bou veral sedert 1980 geweldig hitte op. Die opbou van energie in oseane is ‘n belangrike faktor wat weersisteme dryf.”
In die Suidelike Halfrond het temperature sedert 1850 met sowat 0,65°C in Desember, Januarie en Februarie gestyg, met ‘n temperatuurstyging van 1,4°C in Maart, April en Mei.
Temperatuurstygings vanaf Junie tot November was minder ingrypend. “In die suidelike halfrond het Maart die meeste verwarm in die afgelope 40 jaar. Die maand wat die minste verwarm het, is Augustus.”
Aantal koue-eenhede neem af
Hy het gewys na weerdata van Prieska in die Noord-Kaap waarvolgens daar ‘n dramatiese daling in temperature in die winter oor die afgelope dekade, veral in Augustus, voorgekom het. “Dit skep ‘n risiko, omdat rypskade gewoonlik vroeg in September voorkom.”
Sedert 2000, is daar egter ‘n stygende tendens in die maksimumtemperatuur op Prieska vanaf Mei tot Augustus waargeneem. Die verskil in dag- en nagtemperature raak dus groter en het ‘n impak op landbouproduksie.
“Gewasse soos koring, neute en druiwe het koue-eenhede (dit dui op die kwaliteit van die koue) nodig, met die ideale maksimumtemperatuur gedurende wintermaande nie hoër as 16°C as die minimum nie.
“As ons dus kyk na die aantal koue-eenhede vanaf Mei tot Augustus, het dit gedaal van vyf per dag tot slegs 3,5 per dag. Dit kan ‘n dramatiese invloed op produksie hê,” het van den Berg gemaan.
Toestande gunstig vir ‘n La Niňa-stelsel
Volgens Van den Berg word daar in die volgende twee weke min reën verwag, met drie tot vier kouefronte wat in September oor die land gaan inbeweeg, asook in die eerste week van Oktober. Dit behoort ligte reën oor die Wes-Kaap te bring.
Aan die ooskus van Afrika is seetemperature koeler as normaal, spesifiek in die westelike Indiese Oseaan rondom Madagaskar.
Die Indiese oseaan Dipool-indeks is in ‘n negatiewe fase, wat beteken dat die waters langs Afrika koeler is en warmer naby Australië – ‘n gunstige opstelling vir reën.
Van Oktober tot Januarie is daar ‘n 70% kans vir ‘n La Niňa-stelsel om te ontwikkel, met die kanse vir ‘n El Niňo-stelsel, feitlik op 0%. Kanse vir reën in suidelike Afrika lyk beter vanaf Oktober tot Desember, veral oor die sentraal na oostelike gedeeltes.
Vanaf November tot Januarie is daar goeie kanse vir reën in die westelike gebiede van Afrika, met die verwagting dat dit in Februarie en Maart droër gaan wees in Mpumalanga en ander oosliggende gebiede.
“Die vooruitsigte vir 2021/2022 is dus baie positief, maar daar is nog onsekerheid oor die sterkte van La Nina,” het Van den Berg opgesom.
“Hoewel ons goeie reënval en dus goeie landbouproduksie verwag, moet produsente waak teen veral sprinkane wat dan ook volop kan voorkom; asook plant- en dieresiektes en moontlike oorstromings weens damme wat nog vol is van die vorige seisoen.”
La Niňa – goed vir Suid-Afrika, sleg vir Amerika
Willemse het hervat: “La Niňa het die teenoorgestelde uitwerking in Amerika en die voorspelling is dat hulle in die volgende seisoen nie veel voorrade gaan opbou nie.”
Wêreldvoorrade het die afgelope ruk gedaal. Alle oë is op China en hoeveel hulle gaan koop en invoer, omdat dit ‘n wesenlike invloed op voorraadvlakke het.
“Ons gaan dié seisoen eindig met sowat 3,6 miljoen ton oordragvoorraad, met bykans 3 miljoen ton wat na verwagting uitgevoer sal word.”
Hy het gewaarsku dat dit ‘n onstabiele seisoen gaan wees met die dollarprys wat nóg laer gaan neig. Die prys van geelmielies is tans R3 225 per ton en dié van witmielies R3 053 per ton, met die vermoede dat die prys in die komende weke gaan daal.
“Die nuwe plantvoorneme gaan dus baie belangrik wees, met prysdalings ‘n groot risiko vir saaiboere. Hulle moet begin dink aan vroeë verskansing, terwyl veeboere kan terugsit omdat die seisoen binnelands in hul guns verloop. Solank die rand versterk, gaan pryse daal,” het Willemse gesê.