Die seisoen is egter afgehandel en die meeste produsente is reeds ver gevorder met die finansiële en produksiebeplanning vir die komende seisoen – net om ontnugter te wees oor die buitengewone hoë verwagte prysstygings van veral kunsmis, sekere chemikalieë en brandstof.
Te midde van die negatiewe uitwerking wat die wêreldpolitiek en die huidige pandemie op die breë mensdom het, is dit soms moeilik vir produsente om weer van voor af vir ’n nuwe seisoen te beplan, voor te berei en die planne uit te voer – en nou is die hoë styging in insetpryse ’n bykomende uitdaging op die tafel. Daar is weinig wat produsente aan die insetkostekant kan doen, wat beteken dat die uitsetkant of opbrengs deurlopend na hoër vlakke verskuif moet word.
Die resultate van die vorige seisoene gee egter juis onder hierdie omstandighede ’n oplossing vir die dilemma van ’n kosteknyptang. Die opbrengste wat onlangs behaal is, is nie meer net die rekordoes van ’n besondere nat reënseisoen nie. Baie produsente herhaal hierdie prestasies nou op ’n gereelde basis en dit word slegs moontlik gemaak deur veranderde denke. Produsente het reeds verskeie veranderinge in hulle produksieprosesse gemaak en só daarin geslaag om hul opbrengsvlakke betekenisvol te verhoog. Die vernaamste veranderinge is waarskynlik te sien in grondvoorbereiding, rywydtes en plantestand, bemestingspraktyke en onkruidbeheer.
Die geskiedenis bevat heelwat bewyse van trappe of spronge wat in terme van gewasopbrengste gemaak is. Dink byvoorbeeld aan die rol wat wetenskaplike gewasbemesting begin speel het, die beskikbaarstelling van die eerste bastergenetika in die sestigerjare en die vordering wat met GMO-gewasse gemaak is. Plaaslik, en veral in die westelike graanproduksiestreke, is ’n paar groot treë gegee met die aanpassings in produksietegnieke en kon opbrengste behaal word wat voorheen ongekend was in hierdie gebied. Die hoeveelheid graan wat per millimeter reënwater geproduseer word, het in slegs enkele jare verdubbel. Dit het ’n reuse bydrae gelewer tot die goeie marges wat die afgelope aantal seisoene behaal is.
Die vraag wat onwillekeurig by ’n mens opkom, is hoe lank graanprodusente op hierdie vlakke sal kan produseer voordat die kosteknyptang hulle weer inhaal. Dis in hierdie geval waar die gonswoord “volhoubaarheid” na vore tree. Indien diegene in die landboubedryf volhoubaar wil bly produseer, sal verbetering deurlopend moet plaasvind. Wat is dan die volgende opbrengstrap wat ons kan – nee móét – gee?
Die antwoord op hierdie vraag is nie eenvoudig nie, waarskynlik omdat van die tegnologieë wat vir hierdie stap benodig word, nog uitgevind moet word. Daar bestaan egter reeds voor die hand liggende antwoorde ten opsigte van die beginsels wat toegepas moet word om in harmonie met die natuur te produseer. Onder sulke produksietoestande kan hulpbronne die geleentheid kry om weer op hoër produksievlakke te stabiliseer. Iets soos herlewingslandbou bevat die oplossings vir die volgende trap in opbrengsverhogings. Toegegee, daar is verskeie uitdagings en slaggate hierin – maar geen landbouer kan in stryd met die natuur volhoubaar produseer nie.
Om volhoubaar te bly produseer, sal die landboubedryf – en spesifiek elke produsent op sy unieke stuk grond – die beginsels van omgewingsvriendelike praktyke moet omarm en implementeer. Dis die enigste oplossing om produksie op ’n mededingende en winsgewende vlak te kry en dit daar te hou.