Die beoogde wysigings aan Artikel 25 van die Grondwet is nie die grootste bedreiging vir landbou nie, maar eerder die toename in onstabiliteit. Dit is die waarskuwing van prof. André Duvenhage, ‘n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.
André het Agri NW se virtuele kongres met die tema, “Agri NW – ‘n baken van hoop”, op 22 September toegespreek. Hy meen dat dit nou belangriker is as ooit vir georganiseerde landbou om saam te staan op plaaslike vlak en te verenig in gedeelde waardes. “Julle moet die rol van landbou beklemtoon en bemark,” was sy raad.
Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga en Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, het ook die kongres toegespreek. Die sprekers het begin deur ‘n probleemstelling te bespreek, naamlik dat landelike ekonomiese sukses onder druk is.
Probleemstelling
STAATSVERVAL IN NOORDWES IS VAN DIE ERGSTE IN DIE LAND
“‘n Mens sou verwag dat die staat ‘n gunstige ekonomiese omgewing sou skep waarin jy kon fokus op jou kernbesigheid, maar dit is nie die geval nie,” het Piet gesê.
Slaggate, gebrekkige kragvoorsiening, ‘n onveilige omgewing en ekonomiese verdunning is die simptome hiervan en dit is ongelukkig relevant tot die sukses van landbou, al dan nie.
“Selfs al gaan dit goed met landbou-aktiwiteite rondom ‘n dorp, maar die dorp word onaantreklik weens gebrekkige vervoerkettings na en van hierdie landbou-aktiwiteite; asook infrastruktuur wat verval, sit ons met ‘n omgewing wat sistemies verswak.”
Piet het uitgewys dat landbouaktiwiteite in die verlede dikwels tot konsentrasies gelei het waaruit dorpe en stede ontstaan het. “Die verval maak dit egter onmoontlik om aktiwiteite koste-doeltreffend voort te sit.
Hy meen dat die oorsake hiervan skadelike beleid is wat spruit uit ideologiese ambisie, asook staatsverval wat teer op burgerlike verdringing. “Die staat se rol in die stigting van florerende gemeenskappe is afwesig. Burgerlike organisasies raak in ‘n mate hieraan gewoond en moet dan eintlik hulle geskiedkundige wortels herroep en onthou dat die feit dat die dorp in die eerste plek bestaan, ‘n bewys is van die vermoë van hierdie instellings om ook skeppend te wees.”
Piet meen dat ons realisties moet voorberei op verdere skadelike beleid en dat die ambisie van die regering om sake-ondernemings voor te sê hoe hulle moet sake doen en dienste lewer, feller sal word, wat sal lei tot verdere staatsverval.
‘n Geleentheid te midde van hierdie verval, is die samewerking tussen landbougemeenskappe soos hier in Noordwes, om byvoorbeeld paaie te onderhou. “Dit lei tot toenemende verlate gesagsruimtes. Die staat wil hierdie dienste ‘op papier beheer’, maar het nie die vermoë om ‘n teenwoordigheid te handhaaf of selfs gesag uit te oefen nie.”
As ons bly by ‘n passiewe toekomsverwagting en nie ‘n omkeerstrategie bewerkstellig nie, is die vooruitsig verdere sistemiese verval wat gaan lei tot ‘n groter ontvolking van die platteland en die verval van hierdie dorpe.
Die druk op die staat wat tans hier op die platteland is, gaan bloot verplaas word na die metro’s waarheen plattelanders verhuis en ook hier sal later toenemende verval gesien kan word.
Piet het voorts gewaarsku teen ‘n fiskale krisis. “As ons gaan toelaat dat die gelde van betalende ondernemings en gemeenskapslede aan diensverskaffers soos Eskom en waterrade verder in die koffers van munisipaliteite gaan opeindig, gaan die waarborge wat die staat vir Eskom en die waterrade gee, lei tot ‘n onvermoë om die skuld te delg en ‘n baie diep afgradering.
SUID-AFRIKA VERBY DIE KANTELPUNT
André meen dat Suid-Afrika se demokrasie op die vooraand van sy derde dekade voor ‘n groot krisis is. “Die volgende paar jaar gaan beduidend wees vir die huidige bedeling.
Hy het twee geskiedkundige gebeurtenisse in die apartheidsjare vergelyk met onlangse gebeure – die slagting in Sharpville in 1960 met dié in Marikana in 2012; en die protesoptrede in Soweto in 1976 met die onstabiliteit wat ons in Julie vanjaar met die grootskaalse plundertogte in Gauteng en KwaZulu-Natal ervaar het.
“Soos in die apartheidsjare, is ons tans in ‘n periode van groot onsekerheid. Beleggings word negatief geraak, daar is rassespanning (veral tussen swartmense en Indiërs in KwaZulu-Natal) en Cyril Ramaphosa se leierskap word grootliks bevraagteken.”
André meen voorts dat die staat weens politieke en institusionele verval nie meer sy funksies kan vervul nie. Die land is tans ‘n sogenaamde de facto-staat, wat gekenmerk word aan staatsverswakking, ‘n korrupte staat en staatskaping.
Radikale wetgewings soos die voorgestelde wysigings aan Artikel 25 van die Grondwet; die Wet op Vuurwapenbeheer, asook die nasionale gesondheidsversekering, is deel van die tweede fase van die ANC se poging om ‘n nasionale demokratiese rewolusie te bewerkstellig.
Ons is tans in ‘n tydperk van groot onsekerheid, wat versigtig maar ook daadkragtig aangepak moet word. “Die land is voor die grootste maatskaplike, ekonomiese en politieke uitdagings sedert 1994. Selfs die wese van die 1994-akkoord en 1996-grondwet is op die spel, sou die voorgestelde wetgewings deurgevoer word. Sal ons nog kan waarde heg aan die grondwet met sy hersiene inhoud en uiters swak toepassings?”
Oplossings
LANDBOU HET BEPAALDE PYLE IN SY KOKER
- Geskiedkundige wortels: Daar is ‘n bewese rekord dat landbou tot die onstaan van dorpe gelei het en die ruggraat is van suksesvol funksionerende gemeenskappe. Al die elemente wat dit voorheen moontlik gemaak het, is steeds daar. “Trouens, met vandag se tegnologie is dit selfs makliker,” meen Piet.
- Kapitaal: Landbou is ‘n kapitaalkragtige bedryf. “Die ondernemings binne dié bedryf het die vermoë om langtermyngerig te dink, langtermynbesteding aan te gaan en opbrengs op hierdie kapitaal in die vorm van winste oor ‘n tydperk te verdien.”
- Netwerke: Landbouorganisasies het groot gesag en invloed op die regering en media. Die vertrouensverhoudinge met ander gemeenskapsorganisasies is ook belangrik.
Piet het twee oplossings voorgestel:
- Primêr: Keer staatsverval om, deur burgerlike verdringing om te keer. “Betree die verlate gesagsruimtes binne die staat en gaan hier skeppend te werk,” is Piet se raad. Hy het hier verwys na waar Agri NW en sakeliga saamwerk om ‘n betaalmeesterlitigasiestrategie in Noordwes, spesifiek in Lichtenburg en Vryburg, van stapel te stuur. Dit is daarop gemik om finansiële administrasie oor te neem en toe te sien dat die geld nie weens korrupsie of wanbesteding verdwyn nie.
- Sekondêr: Beleidsverbetering en -verwerping. Dring op plaaslike vlak aan op verantwoordbaarheid en vervolg korrupte staatsamptenare krimineel of laat hulle gepenaliseer word. “Dit moet egter met ‘n fermheid gepaardgaan. Landbou het wel die vermoë om met fermheid aan hierdie gesprek deel te neem. Maak samewerking gesog en weerhou dit as die beleidsomgewing nie aan jou standaarde voldoen nie, want landbou is ‘n gesogte omgewing om mee saam te werk,” het Piet gesê.
DAAR IS HOOP IN DIE HANTERING VAN GELEENTHEDE
Suid-Afrika is weer in ‘n proses om orde te definieer en mense en groepe moet nader aan mekaar beweeg, meen André.
“Ons gaan dringend moet herbesin. Daar is bepaalde waardes binne hierdie omgewing wat baie belangrik is, soos die privaatbesit van ‘n ontwikkelingsgerigte staat waar die staat eienaarskap en bepaalde ondersteuning gee.”
Hy stem saam met Piet dat verantwoordbaarheid ononderhandelbaar is, omdat dit bepaal hoe orde gedefinieer en toegepas word.
André het beklemtoon dat belangegroepe op plaaslike vlak moet saamstaan om na oplossings vir probleme te soek.
“Daar is geen twyfel nie dat landbou ‘n belangrike strategiese bedryf is waarsonder die land nie kan funksioneer nie. As ons nie die onderskeie landbouorganisasies (soos Agri SA, TLU SA en Saai) bymekaar kan uitbring nie, sal ons ook nie die land bymekaar kan uitbring nie. ‘n Deel van hoop lê daarin om mense bymekaar te kry rondom gedeelde waardes om die pad vorentoe te neem.”
Hy het voorts beklemtoon, “Ons kan tans nie meer bekostig om ‘n stelsel van politieke korrektheid te beklemtoon nie. Daar moet sterk standpunt ingeneem en waardes geformuleer word; bedelings moet gebou en strategieë ontplooi word. Weereens is dit belangrik om mense rondom dit te verenig.”
AGRI SA VEG VIR PRODUSENTE
Christo het beaam dat hoewel landbou baie uitdagings ervaar, dit ook baie geleenthede geniet soos rekordoeste en groeiende uitvoere.
Hy het verwys na die maniere waarop Agri SA veg vir landbou se voortbestaan veg, soos om aktief deel te neem aan openbare verhore en met die regering te skakel oor probleme wat die sektor ervaar.
“Ons is van diens tot produsente en verenig wel landbou, wat deesdae baie gefragmenteerd is. Agri SA is ook nie net in konfrontasie met die regering nie en fokus op beïnvloedings- en fasiliteringsdienste.”
Die organisasie bewerkstellig netwerke en verhoudings op plaaslike en internasionale vlak en skep hoop deur ontwikkelingsprogramme, soos sy Jongboer van die jaar-kompetisie.