Die 15 deelnemers aan NWK se Beginnerboerprojek se mielieopbrengste was effe laer as dié van verlede jaar. Dit was nietemin hulle twee beste oes sedert die projek in 2014 van stapel gestuur is.
Volgens Anche Suurd, landbou-ekonoom by NWK se Landboubestuursdienste, kan dit hoofsaaklik aan uiterse weersomstandighede toegeskryf word.
“Baie van die deelnemers het swaar neerslae en groot hoeveelhede reën gekry toe die mielies nog klein was en het in Maart ‘n droogte met hoë temperature beleef,” het sy verduidelik. Deelnemers het vanjaar sowat 5,55 t/ha mielies behaal, teenoor verlede jaar se 6,45 t/ha.
Tog het hulle die hoogste opbrengs sonneblom sedert die aanvang van die projek behaal – 1,88t/ha hierdie jaar teenoor verlede jaar se 1,82 t/ha.
Deelnemers aan die program het op 28 September die afgelope jaar se verrigtinge met ‘n geselligheid by Dudfield afgesluit en bestekopname oor hul prestasies en struikelblokke geneem.
Robert Pretorius het die hoogste opbrengs op mielies behaal met 7,32 t/ha. Hansie Kruger het die hoogste opbrengs op sonneblom behaal met 2,35 t/ha. Louis Wessels het ‘n prys ontvang vir die deelnemer wat die beste met administratiewe bestuur gevaar het.
Anche meen dat deelnemers aan vanjaar se projek oor die algemeen goed gevaar het. “Daar was ‘n paar nuwe toetreders tot die projek vir wie die nougesette rekordhouding ‘n groot aanpassing was, maar ons is vol vertroue dat hulle reeds volgende jaar baie beter sal vaar.”
Hansie Kruger, Pieter Gouws en Chris Liebenberg het hierdie jaar die projek voltooi.
Volgens Anche lyk die vooruitsigte vir volgende jaar ook rooskleurig. “Weersomstandighede lyk baie positief. Tog is reën op die regte tyd belangrik, veral wanneer gewasse in die saad kom. Die aanduidings is ook dat die pryse van gewasse sal terugkeer na normale vlakke, veral dié van sonneblom.”
Die Beginnerboerprojek
DOEL VAN DIE PROJEK
Die Beginnerboerprojek is in 2014 van stapel gestuur. Dit strek oor ses jaar en het ten doel om nuwe toetreders tot landbou by te staan. Die einddoel is om ‘n produsent te vestig met genoeg sekuriteit om na ses jaar kommersieel te kan boer.
Dis tipies jong boere wat sonder NWK se hulp nie sou kon boer nie en heel waarskynlik in die buiteland sou gaan werk. NWK ontwikkel dus sy toekomstige kliënte en vestig produsente met ‘n passie vir die bedryf. Die fokus is nie streng op resultate nie, maar sien eerder toe dat die bepaalde produsent alles in sy vermoë doen om NWK en sy eie risiko te beperk.
HOE DIE PROJEK WERK
NWK finansier al die direkte insetkoste wat nodig is om ‘n deelnemer se oes te realiseer. ‘n Derde van die opbrengspotensiaal word begroot vir bemarking aan die begin van ‘n seisoen.
Die span van NWK loop ‘n pad saam met die beginnerboere. Hulpbronne word voor ‘n seisoen deeglik ondersoek en geëvalueer om NWK se risiko te beperk. Landboubestuursdienste besoek die deelnemers weekliks en gee raad oor wat gedoen moet word. Boeredae word jaarliks aangebied wat dien as opleidingsessies. Kundiges van Finansiering en Graan lewer ook insette aan die deelnemers.