“Jou kudde lê in jou hande!” Met dié vermaning het die bekende Dok Faffa Malan sy aanbieding by NWK Retail se boeredag op Zeerust afgesluit. Dié dag is op 11 November 2021 by Kareespruit aangebied.
Dr Faffa se aanbieding was net so energiek en insiggewend soos altyd, al het dié bekende veearts vroeër vanjaar “by die dood omgedraai” weens COVID-19. Hy het weer sy drie “h’s” van dieregesondheid beklemtoon:
- Heinings: “‘n Stukkende heining kan jou ondergang beteken. Nie net kan jou vee wegdwaal nie, maar ongesonde diere kan met jou kudde in aanraking kom.”
- Hekke: “Streng toegangsbeheer is baie belangrik.” Dr Faffa het produsente aangeraai om die bande van voertuie wat op hulle plase kom, met ‘n F-10-oplossing af te spuit en ook aan besoekers skoon rubberstewels te gee.
- Harsings: “Dink vooruit. Oorweeg moontlike risiko’s.”
Hy het beklemtoon dat almal in die landbousektor verantwoordelik is vir voedselsekerheid en daarom ook voedselveiligheid. “Die meeste verspreiding van siektes vind by veilings plaas. Jy kan die beste voorsorg tref, maar enige bees kan siektes daar aanbring en versprei.”
Produsente is ook aangemoedig om seleksie in te span om swak en siek diere uit te skot. “Vra hoekom ‘n bepaalde dier meer bosluise het as ‘n volgende een. Die toekoms van jou kudde en diere se gesondheid lê in seleksie. Kies ook diere wat minder vreet, maar meer gewig aansit.”
Biosekuriteit
Biosekuriteit rus op drie bene:
- Omgewing: Hoe lyk jou water en lug? Dit alles beïnvloed dieregesondheid. “Het jy al jou boorgate laat toets vir moontlike tekorte?”
- Mense: Hoe lyk die veeartse wat jou plaas besoek? Gee jy vir hulle skoon oorpakke om aan te trek? Sorg ook dat jou werkers skoon oorpakke en waterstewels het. “Een verkeerde besluit kan jou vernietig,” het Dr Faffa weer gewaarsku.
- Diere: Nuwe diere móét vier weke lank onder kwarantyn wees voordat hulle by ‘n bestaande kudde gevoeg word. Dit is omdat bosluise, wat talle siektes oordra, se lewensiklus 21 dae is. “Die larf wat uitbroei en sewe dae later tot ‘n nimf ontwikkel wat nóg sewe dae later ‘n volwaardige bosluis word,” is nie sigbaar nie, maar reeds op jou diere,” het hy verduidelik. Siektes soos Afrika-rooiwater word juis tydens die nimffase oorgedra.
Dr Faffa het produsente aangemoedig om hulle honde gereeld te ontwurm, omdat hulle wurms na vee en wild kan oordra.
Rotte veroorsaak astronomiese skade
Heinrich Havemann wat spesialiseer in pesbeheer by BASF, het uitgebrei oor knaagdiere en die skade wat hulle veroorsaak.
Rotte, muise en nagmuise beskadig geboue, gestoorde produkte en landbougewasse en rig ook indirekte skade aan wild en pluimvee aan deur hulle kos te vreet en dit te besmet met urine en hare. “Een volwasse rot produseer tot ses liter urine per jaar, 16 000 stukkies ontlasting en 300 000 hare.”
Knaagdiere se snytande groei tot 11 cm per jaar en hulle knaag daarom voortdurend om dit kort te hou. “Hulle kake kan krag van tot 1 bar voortbring en hulle byt ses keer per sekonde.”
MOEILIK OM TE BEHEER
Knaagdiere se voortplantingsvermoë is geweldig goed en ‘n teelpaar kan onder gunstige toestande tot 2 000 kleintjies binne ses maande voortbring, sou hulle elke drie weke ‘n werpsel van tien kleintjies hê. Hulle is intelligent, het goeie instink en navorsing wys dat hulle boonop weerstandig raak teen die meeste gifstowwe op die mark.
Tot 98% van rotgif bestaan uit ‘n antikoagulant wat veroorsaak dat hulle doodbloei. Dit kan natuurlik ook tot die dood van roofdiere soos uile en aasvoëls lei, veral as hulle knaagdiere vang wat veelvuldige gif ingeneem het wat nie tot dadelike vrektes lei nie.
‘n Omgewingsvriendelike alternatief
BASF verskaf Selontra, wat basies uit ‘n oormaat vitamien D3 bestaan. Dit het ‘n laer toksisiteit en knaagdiere verkies dit bo ander kos weens sy smaaklikheid. Selontra lê kalsium in die sagte organe neer wat lei tot verharding en uiteindelik die dood veroorsaak. Kolonies kan binne sewe dae uitgewis word.
Die hoeveelheid vitamien D3 in Selontra is nie giftig vir uile en ander voëls nie. Die kanse vir sekondêre vergifting in honde is ook minder deurdat hulle simptomaties vir hierdie tipe vergiftiging behandel kan word.
Heinrich het produsente gemaan om rotgif altyd in sogenaamde lokaasstasies te sit en ook nie hulle eie mengsels met verskillende gifstowwe uit te sit nie. “Dit is teen die wet en jy kan swaar tronkstraf opgelê word,” het hy gewaarsku.
Pas lyndrade op
Ruan van Wyk, ook van BASF, het uitgebrei oor die produk Arsenal Power wat met groot sukses op lyndrade gebruik word.
Lyndrade word beskadig deur brande, diere wat hul koppe daardeur druk om te vreet en dit dan plat druk, asook drade wat roes weens nat gras wat deurlopend daaraan raak en natuurlik, reën. Dit is daarom belangrik om dit skoon te hou van onkruide met ‘n produk soos Arsenal Power. “Met materiaal teen sowat R21 160 per kilometer en arbeid teen sowat R10 000 per kilometer, kan dit tot R31 160 per kilometer kos om ‘n heining te vervang,” het Ruan gesê. Deur lyndrade, spoorlyne en plaasopstalle met ‘n onkruiddoder te behandel, hoef dit nie so gereeld vervang te word nie.
Ander voordele van Arsenal Power, sluit in:
- Langdurige nawerking.
- Dit is reënvas binne twee ure nadat dit gespuit is.
- Goeie uitklopaksie.
- Dit is omgewingsvriendelik.
- Dit skep padreserwes vir brande.
Ruan het produsente ook aangeraai om wenakkers skoon te hou, omdat trekkers hier deur onkruid ry en dit dan in die lande versprei.