Ons moes op 1 November stem vir ’n politieke party om ons belange op munisipale vlak te bevorder.
In Noordwes is dit werklik ’n betreurenswaardige petalje, met al die munisipaliteite onder administrasie. Inwoners koop krag, maar munisipaliteite versuim om hierdie geld aan Eskom oor te betaal en wend dit eerder aan vir hul hemelhoë salarisse. Paaie word toenemend onrybaar, daar is meer stukkende as werkende straatligte en onderbrekings in krag- en watervoorsiening neem toe soos wat infrastruktuur weens ’n gebrek aan instandhouding breek.
Die provinsiale regering was baie verbaas om te verneem dat die Clover-fabriek op Lichtenburg sy deure sluit omdat dit weens bogenoemde probleme net nie meer winsgewend kan produseer nie. Talle van dié fabriek se werknemers het reeds betrekkings in ander provinsies aanvaar toe die regering skielik wakker skrik en summier vergaderings met Clover se bestuur wou belê – dit nadat laasgenoemde se talle pleidooie vir ’n werkbare oplossing telkens op dowe ore geval het.
Meer mense is afhanklik van maatskaplike toelae in Suid-Afrika as wat daar belastingbetalers is. Soos wat die regering die belasting bly opstoot, verlaat al meer betalers bloot die land.
In die aanloop tot die verkiesing het ek na insetsels op RSG geluister, waar omroepers met die onderskeie politieke partye se leiers gepraat het om te hoor hoe hulle beplan om gebrekkige dienslewering te verbeter. Hulle verteenwoordig partye waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Sommige van dié partye is gebore omdat politici maar net nie kan saamstaan nie en dan afstig om hulle eie partye te begin.
Dit gaan nog lank vat om die ANC uit die kussings te lig, indien dit ooit gebeur. Wie dán die leisels sal oorvat, sal net die tyd leer.
Nuwe besems vee skoon, maar waar politiek en korrupsie ter sprake is, vat dit net soveel langer. Ons hier op die platteland het egter nie die luuksheid van tyd nie. Tensy dinge drasties vinnig verbeter, gaan ons toenemend ons bekwame jeug moet afstaan aan verstedeliking of erger nóg, emigrasie.
Is dit individue en die privaat sektor se werk om die infrastruktuur in stand te hou? Nee. Is dit egter ons plig? Ja! Kyk maar net na die verbetering wat alreeds in Lichtenburg sigbaar is danksy NWK, Afriforum en ander plaaslike sake-eienaars wat hande vat om slaggate te herstel.
Wéés die verskil wat jy wil sien! Tel daardie papiertjie op jou sypaadjie op. Meld die stukkende straatlig of gebarste pyp aan – moenie wag vir iemand anders om dit te doen nie. Vra jou buurman, wat ’n loodgieter is, of hy nie die pyp sal herstel nie.
Dit vat ongelukkig langer om weer op te bou as wat dit vat om af te breek. Ons kan net sowel iets opbouend doen terwyl ons wag op beter dae.