Dit is altyd ’n voorreg om aan die einde van die jaar met dank te kan terugkyk op ’n geseënde jaar, ondanks al die onsekerhede en uitdagings wat die sake-omgewing en markte in NWK se rigting stuur.
Ten spyte van die COVID-19-pandemie het die landboubedryf voortgegaan en kos vir die nasie geproduseer. Landbouers word in sekere kringe opnuut gewaardeer. Dit was ’n uitdaging om ’n balans te vind om personeel, klante, verskaffers en produsente teen die onsigbare en hoogs aansteeklike virus te beskerm en steeds van diens te wees. Ek hoop sekere politici se oë gaan ook oop om die belangrikheid van die landbousektor te erken en weg te doen met die drakoniese wetgewing wat op die landboubedryf van toepassing is.
Ek het vanjaar opnuut besef watter besondere rol mense soos ons lojale aandeelhouers, klante, personeel en sakevennote byna daagliks in ons bedryf speel. Elkeen van hierdie belangegroepe lewer sy eie unieke bydrae en daarom sal NWK voortgaan om dit soos ’n kleinood te bewaar.
’n Groot dankie aan die klante, wat NWK met die verskaffing van insetmiddels en die bemarking van hul graan ondersteun en vertrou het. Dankie ook aan die personeel, wat elke situasie met kalmte en wysheid bestuur het om die risiko’s te beperk.
Baie sterkte aan elkeen wat die afgelope jaar ’n geliefde, familielid of vriend verloor het. Ek vertrou dat julle ook in die komende feesgety krag en vertroosting sal ervaar.
My wens is dat elkeen ’n besondere geseënde Kersfees saam met jou gesin sal geniet. Mag 2022 vir jou vrede en voorspoed inhou, met genoeg reën en sonskyn – elkeen op sy tyd.
Groete
Heinrich Krüger
Voorsitter NWK Beperk