Ek lees onlangs ’n mediaverklaring oor die Suid-Afrikaanse maatskappy K-Way, wat in September 2021 sy 40ste bestaansjaar herdenk het. Dié maatskappy het oor die afgelope vier dekades betekenisvol bygedra tot die plaaslike ekonomie deur werkskepping en besigheidsontwikkeling.
Die Kaapstad-gebaseerde fabriek het in hierdie tydperk ’n handelsnaam in die tegniese en ontspanningskleremark gevestig wat waarskynlik welbekend is aan elke Suid-Afrikaner. Hulle doelwit is om elke klant voldoende toe te rus om die heersende elemente te kan trotseer – ongeag van waar hulle hulself bevind. K-Way is vandag ’n wêreldleier in innoverende ontwerp, tegnologie en omgewingsvriendelike besigheidstegnieke – voorwaar ’n ambassadeur vir die land.
K-Way se strategiese handelsmerkdirekteur, Martine Vogelman, word soos volg in die mediaverklaring aangehaal: “We stand for technical excellence, affordability, and in recent years have also incorporated a fashion element to our gear. We also love the standing joke that when South Africans (used to) travel, you could spot the SAA counter by all the people wearing K-Way jackets. We are proud of our products and proud of our heritage.”
Die handelsmerk het in 1981 ontstaan toe Cape Union Mart die destydse Hepworth-fabriek in Kaapstad se middestad bekom het. Arthur Krawitz, vader van die huidige voorsitter, was toe in beheer van Cape Union Mart en hy was bekend daarvoor dat dinge op die “K-Way-manier” gedoen moes word. Die “K” het uiteraard vir Krawitz gestaan. Gevolglik is die fabriek herbenoem na K-Way en kort daarna het die kleredrag ook hierdie naam begin dra.
Volgens Vogelman moet alle K-Way-produkte aan vier kriteria voldoen:
- Die gehalte moet hulle klante se verwagtinge oortref.
- Die produkte moet uitstekende waarde vir geld verteenwoordig.
- Die produkte moet voldoen aan die doel waarvoor dit ontwerp is.
- Waar dit prakties moontlik is, moet die produkte unieke waardetoevoeging-eienskappe hê.
Hierdie trots Suid-Afrikaanse verhaaltjie het my onwillekeurig met die vraagstuk gelaat of ons as landbouprodusente ook ’n soortgelyke goedvoelstorie oor ons eie bedryf kan vertel. Met watter passie produseer ons ons produkte? Het ons ook ’n waardeproposisie wat ons vir ons klantebasis wil aanbied? Het ons spesifieke gehaltekriteria wat ons in ag neem wanneer ons die produksieproses beplan en uitvoer? Dra ons produkte ’n voorkeurhandelsmerk waarvoor die verbruiker spesifiek uitkyk wanneer ’n keuse op die winkelrak gemaak moet word?
In ’n sekere sin verskil die landboubedryf van sekere ander vervaardigingsektore deurdat daar soveel onvoorspelbare veranderlikes, soos die klimaatstoestande, is waarmee rekening gehou moet word en wat dikwels die produksie-uitkomste dikteer. Dis iets waaroor die produsent nie veel beheer het nie.
Daar is egter ook baie duidelike ooreenkomste met ander vervaardigingsektore, waarvan ’n belangrike een is dat die landbouprodukte wat ons produseer uiteindelik ook ’n eindverbruiker het – in die meeste gevalle is dit die tuisteskepper wat kos en klere vir haar gesin aankoop.
Sy wil graag die versekering hê dat die onderskeie produkte wat sy aankoop ook aan sekere eienskappe voldoen, soos die vier kriteria van K-Way wat hierbo aangehaal is. Indien sy nie dié versekering het nie, word een produk maklik op die rak teruggesit en ’n ander keuse word uitgeoefen.
Ek twyfel sterk daaroor of landbouers wêreldwyd regdeur die bank produseer met die verbruiker in gedagte. Die korrekte aanwending van chemikalieë en bemestingstowwe, sinvolle watergebruik, die lewering van gesonde huide, velle en vleis, produkte wat vry is van letsels, vlekke en ander gehalteprobleme – hierdie is alles aspekte wat ons eindverbruikers in ag neem wanneer hulle ons produkte aankoop.
Moontlik is dit nodig dat ons net weer ’n slag introspeksie moet doen hieroor. Uitstekende produkte verkoop hulself. Ons kan oorvloedig produseer sonder die vrees dat surplusse sal ontstaan – mits ons net die beste vir ons verbruikers kan aanbied.