OFM en NWK het hande gevat in ‘n opwindende inisiatief om ‘n Agri-uur aand by NWK se Opleidingsentrum in Lichtenburg aan te bied, waartydens kenners waardevolle pitkos aan produsenteklante van NWK verskaf het met hul aanbiedings.
Arno van Vuuren, bestuurder van Landboubestuursdienste by NWK, Charl Saunderson van Nooitgedacht Dorperstoet en dr Johnny van der Merwe, landbou-ekonoom by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, het die gehoor op 17 November toegespreek.
Pieter Möller, ‘n bekende stem oor OFM as dit by landbousake kom, het later ‘n paneelbespreking met die drie sprekers gelei.
‘n Ommeswaai is nodig
“Die spel is besig om te verander. Jy het nou spykerskoene nodig as jy in die landbou wil bly. Met gewone vellies gaan jy net nie meer uit die blokke kom nie,” het Arno begin.
Beskikbare landbougrond is baie beperk en produsente kan nie geografies uitbrei nie. Sowat ‘n derde van hierdie grond is boonop ernstig gedegradeer en nie meer geskik vir landbouproduksie nie.
Teen 2050 gaan ons ‘n bevolking hê wat eenvoudig ontplof. Aardverwarming se gevolg is reeds duidelik sigbaar en weerpatrone is besig om te verander. Skoon water raak skaars.
Insetkoste en die prys van arbeid styg ook. “Die konsep van boer soos ons altyd geboer het, is nie meer op die tafel nie. Ons moet anders dink,” het Arno gesê.
Hy het grafieke van Peter Johnston van die Universiteit van Kaapstad vertoon. Volgens laasgenoemde se navorsing, gaan Lichtenburg se maksimumtemperature teen 2040 met tot 4°C styg, wat produksie geweldig onder druk gaan sit.
Daar is dus dringende aanpassings nodig, op die volgende wyses:
- Beskikbare oppervlaktes moet beter benut word.
- Meer kos moet geproduseer word vir ‘n groter bevolking.
- Die verbruiker soek egter kos wat eties geproduseer is.
- Lewer groter opbrengste met dieselfde hoeveelheid of minder water.
- Optimaliseer mannekraggebruik.
- Gebruik insette optimaal en verhoog uitsette met dieselfde insette.
DINK UIT DIE BOKS, MAAR HÓÉ?
- Benut beskikbare rekenaartegnologie ten volle – soos ‘n geografiese inligtingstelsel (GIS), GPS en alternatiewe produksie.
- Oorweeg alternatiewe, meer doeltreffende produksiestelsels soos vertikale plase, hidroponika en akwaponika.
- Pas waterslim produksiepraktyke toe deur vogbestuur, geskeduleerde besproeiing, bewerking, rywydtes en onkruidbeheer.
- Vervang ondoeltreffende arbeid met outonome stelsels.
- Gebruik konnektiwiteit om inligting doeltreffend te bestuur – met ‘n slimfoon is al hierdie inligting in die palm van jou hand.
Die gebruik van digitale tegnologie in presisieboerdery het die wyse waarop produsente gewasse benader en lande bestuur, verander. Dit maak boerdery meer winsgewend, doeltreffend, makliker en veiliger. Die topvyf tegnologiese uitvindings wat tans in boerdery aangewend word, sluit in:
- GIS-sagteware en GPS-landbou.
- Satellietbeelde.
- Beelde geneem deur hommeltuie.
- Boerderysagteware en aanlyn data.
- Verbinde data-stelsels.
NEIGINGS IN EUROPA – VREEMDE FOEFIES OF DIE TOEKOMS?
In Europa word met sogenaamde nuwe-generasie voedsel geëksperimenteer wat ‘n meer etiese aanslag het. “Garnale” word byvoorbeeld uit plantaardige materiaal gekweek. “Dit lyk en proe soos garnale, maar dit was nie naby die see nie. Die markte aanvaar dit. Inteendeel, van die verbruikers sê dit proe meer aangenaam as garnale wat wel uit die see kom,” het Arno uitgebrei.
Kos word toenemend by huise afgelewer, eerder as wat die verbruiker sy huis verlaat om dit te gaan koop. Daar word ook twee keer gedink voordat kos wat naby aan die vervaldatum is, maar nog nie verlep of verrot is nie, weggegooi word.
Volgens die VN se voedsel- en landbou-organisasie, gaan tussen 20% en 40% van die wêreld se gewasopbrengste weens peste en plae verlore. “Ons produseer dit, maar dit kan nie by die verbruiker uitkom nie, ten spyte daarvan dat ons 2 miljoen ton se insekdoder gebruik,” het Arno gesê. Dit terwyl die mark kos verwag wat met minder insek- en onkruiddoders geproduseer word.
Hommeltuie word tans doeltreffend ingepas om insek- en onkruiddoders vinniger toe te dien. Hulle neem ook beeldmateriaal van die groeipunte van onkruide en dit word dan met ‘n laser doodgemaak.
Koeie se gedrag is redelik voorspelbaar en halsbande word ingespan om hulle temperature te meet om te bepaal of hulle op hitte is en ook om algehele kuddegesondheid vas te stel.
Infrarooikameras in store kan ontsteekte uiers optel en sodoende mastitis identifiseer. Ketone (gasse) wat die diere uitasem kan ook ontleed word om voedselbalanse te bestuur.
‘n Robot genaamd Bonirob doen grondontledings sonder dat jy ‘n voet op die grond hoef te sit. Verskillende gewasse word ook op een stuk grond plant, gebaseer op grondeienskappe.
Handvrye stelsels bied opwindende moontlikhede, soos trekkers sonder ‘n stuur of kajuit. “Jy sit in jou kantoor en programmeer die werktuig. Dit doen die werk in die land, haak die implement af en parkeer homself in die stoor.”
Vertikale boerdery word ook met groot sukses oorsee toegepas en behels basies dat gewasse binnenshuis geproduseer word. “Jy hoef boonop nie onkruid- of insekdoders te gebruik nie en optimale UV-beligting word met behulp van UV-ligte verkry. Die gewasse is só skoon omdat dit in ‘n stofvrye omgewing geproduseer word, dat dit nie gewas hoef te word voor dit tafel toe gaan nie.”
Slyp die byl
Charl het nie die gehoor oor sy Dorpers toegespreek nie, maar hulle eerder aangemoedig om hul kennis te verbreed.
“Daar staan ‘n lyn van 35 000 boere tussen hierdie land en hongersnood. Julle moet vir 60 miljoen mense onder moeilike omstandighede kos produseer en ek haal my hoed af vir julle.”
Hy het Arno se standpunt dat hulle vir meer mense op slimmer maniere kos sal moet gee, beaam en hulle aangeraai om tegnologie te omarm, al hou hulle nie daarvan nie.
“Jou groei gaan jou volhoubaarheid verseker. Gun jouself een dag ‘n maand waartydens jy jouself slyp.”
In 2017 toe die droogte in die Boesmanland waar Charl boer, reeds sewe jaar lank geheers het, het hy by die Universiteit van die Vrystaat in landbou begin studeer.
“Terwyl ek daar was, het ek gegroei, mense ontmoet wie ek kon kruisverwys en byl slyp het by my ‘n leefwyse geword.”
Hy het byvoorbeeld op pad na Lichtenburg, by ‘n produsent gestop wat met ‘n ander tipe dier boer en notas gemaak oor sy voeding en siektebeheer. “Ek kan nou my siektes afwaarts en my produksie opwaarts bestuur, want ek het my byl geslyp,” het Charl verduidelik.
Hy het benadruk dat produsente se byle nuwe hoeke het wat geslyp moet word. “Dit is in ons hande om die land se voedselsekerheid te verseker. Ons moet ons uitdagings in die oë kyk. Dit is nie hier om ons te breek nie, maar om ons te definieer.
“Ons boer omdat ons wil boer. Moenie toelaat dat iets jou entoesiasme steel nie. Hou landbou vas en moet dit nie laat gaan nie – jou land het jou nodig!”
Verbruikerspatrone beïnvloed pryse
Kommoditeitspryse het met die uitbreking van COVID-19 oor die algemeen op ‘n sterker vlak gebly, hoewel verbruikersvraag baie verskuif het, het Johnny afgeskop.
“Verbruikers het minder geld aan brandstof, alkohol en ander luukshede bestee. Verbruikerspatrone het ook geskuif en mense het meer gebraai. Slaghuise het tydens vlak 5 van die inperking tot 50% meer voete gehad.”
Slagpryse (R53/kg) is tans op ‘n redelik sterk vlak, in teenstelling met speenkalfpryse (R40/kg). “Dit is ongesond en nie volhoubaar vir voerkrale nie, veral as jy die relatiewe hoë mieliepryse in ag neem.”
Dit kan grootliks toegeskryf word aan die onlangse lang droogte wat gelei het tot die verkleining van kuddes en verminderde slagtings. “Vraag en aanbod is dus skeefgetrek,” het Johnny verduidelik.
Suid-Afrika, Namibië en Botswana is nou weer in ‘n fase van kuddebou en teeldiere is daarom duur.
“Desember is ‘n goeie maand vir slagtings weens ‘n hoër vraag wat slagpryse opwaarts druk, maar dit neem weer af in Januarie en Februarie.”
COVID – WAT IS VOLGENDE?
Die aantal gevalle het afgeneem en verbruikers spandeer weer meer geld aan brandstof om op vakansie te gaan. “Vroeg in die nuwe jaar moet skoolkinders en studente weer na die boeke terugkeer en dit alles verskuif spandering weg van landbou af.”
Die vraag na skaapvleis word hoofsaaklik deur hoër inkomstegroepe bepaal. “Slagpryse was drasties hoog in Augustus weens ‘n hoër vraag en laer aanbod. Tog het verbruikers weerstand gebied en die prys het intussen met R20 gedaal.”
Lammers bly skaars omdat produsente nou in ‘n kuddeboufase is. Die aanbod bly dus beperk wat pryse hoër sal hou.
Die aanplanting van sonneblom het wêreldwyd toegeneem weens goeie pryse en dié van soja, hoofsaaklik weens die hoër insetkoste van mielies. “Produsente moet egter in gedagte hou dat verbruikersvraag kan taan sou rentekoerse styg en daarom sal prysstrategie belangrik wees in die komende seisoen.”
Dankie produsente
Omroeper Yolanda Maartens agter die mikrofoon vir Mid-Morning Magic.OFM het op Donderdag, 18 November 2021, regstreeks vanaf NWK Retail Lichtenburg uitgesaai. Dit is as deel van hulle “Dankie Donderdae”-veldtog waartydens produsente bedank word vir hulle bydraes tot landbou. Die omroeper Yolanda Maartens het die program Mid-Morning Magic vanaf 09:00 tot 12:00 aangebied.