’n Vasgestelde en kompakte dekseisoen is noodsaaklik vir ’n winsgewende koei-kalf-onderneming. Daar is verskeie voordele, maar een van die belangrikste is dat die onderneming in sinchronisasie met die omgewing kom. Meer en swaarder kalwers met ’n meer eenvormige ouderdom kan gespeen word indien lang kalfseisoene verkort word en die kalf-persentasie verhoog kan word.
Die kalfpersentasie van kommersiële vleisbeeskuddes in Suid-Afrika is na beraming 62% tot 65% (Grobler et al, 2014; Bradfield, 2021). Hierdie statistiek beklemtoon die feit dat die mens nie altyd in harmonie met die natuur boer nie en dat daar steeds te min klem en seleksiedruk op vrugbaarheid geplaas word (Bradfield, 2021). Die doel behoort te wees om koeie wat laat of glad nie dragtig raak nie, en nie elke jaar kalf nie, betyds te identifiseer.
Sinchroniseer kalftyd met die seisoene
Suid-Afrika is ’n land van diversiteit. Dit geld ook vir ons hulpbronne, wat in verskillende dele van die land drasties verskil. Hoe verder oos ’n mens byvoorbeeld beweeg, hoe hoër is die reënval en daarmee saam die opbrengs en gehalte van veld.
Diere in die ooste het nie nodig om soveel energie aan te wend om aan hul daaglikse behoeftes te voldoen soos byvoorbeeld in die droë weste van die land nie. Dit maak dus sin om in laasgenoemde gebiede met kleinerraamdiere te boer, waarvan die onderhoudsbehoeftes laer is en die raamgrootte by die omgewing pas.
In die somerreënvalgebiede piek grasproduksie (en -gehalte) oor die algemeen in die somer, en produsente weet wanneer hul weiding jaarliks maksimale opbrengs lewer.
Die optimale dektyd is wanneer daar met kalftyd die beste gebruik gemaak word van die goedkoopste goeie gehalte voerbron, naamlik somerveld (Bergh, 2004). Aangesien die reënval in verskillende gebiede verskil, vind die piek grasproduksie ook op verskillende tye in die somer plaas en is dit belangrik om die kalftyd hiermee te sinchroniseer.
Dektyd kan teruggewerk word vanaf die tyd wanneer ’n gebied die beste grasproduksie verwag, sodat dit ooreenstem met die tydperk wanneer die koeie se voedingsbehoeftes op hul hoogste is.
Die diere op die plaas met die hoogste behoefte is die eerstekalfverse. Hulle moet gelyktydig kalf, soog en weer dragtig raak terwyl hulle nog groei. Hierna is dit die koeie wat pas gekalf het, wat ’n kalf moet soog en weer dragtig moet raak. Verse en koeie se siklusse moet ooreenstem met die tyd wanneer die hulpbronne optimaal produseer.
VRUGBAARHEID
Die belangrikste eienskap wat die winsgewendheid van elke veevertakking bepaal, is vrugbaarheid (Grobler et al, 2014). As ’n koei of ooi nie elke jaar op ’n bepaalde tyd ’n kalf of lam produseer nie, is daar niks om te verkoop nie. Dit maak nie saak hoe mooi sy lyk of wat haar herkoms is nie – as daar nie aanteel is nie, is daar ook nie wins nie.
Dikwels hoor ’n mens dat koeie elke jaar kalf, maar daar is nie rekords van wanneer nie, want die bulle loop die hele jaar by die koeie. In só ’n stelsel is rekordhouding nie net moeilik nie, maar onmoontlik. Wanneer diere seisoenaal kalf, is dit eenvoudig om rekords te hou en dadelik te weet watter diere oorslaan.
OPTIMALE DEKTYD VIR BEESTE
In beginsel word die tyd van die jaar gekies wanneer koeie die optimale kondisie vir teling bereik het. Dit is gewoonlik drie maande ná die maand met die hoogste reënval. In die somerreënvalgebied word die beste herkonsepsie behaal wanneer koeie tussen ongeveer een maand voor tot een maand ná die eerste effektiewe reën kalf (Bergh, 2004).
Indien die eerste effektiewe reën meestal in Desember verwag word, strek die ideale kalftyd vanaf November tot Januarie. Die ideale dektyd in hierdie voorbeeld sal dus vanaf Februarie tot April strek.
Gekontroleerde dekking
Seleksie vir vrugbaarheid behoort gepaard te gaan met gekontroleerde dekking, waar die produsent presies weet hoeveel “kanse” hy sy vroulike diere moet gee om dragtig te raak. Wanneer bulle ongekontroleerd of deurlopend by die koeie loop, kan daar kwalik bepaal word hoeveel keer ’n koei gedek word alvorens sy dragtig raak.
So kan gesê word dat sy “elke jaar” kalf, maar haar interkalfperiode bly onbekend en is nie noodwendig die gewenste 365 dae nie. Die grootste nadeel hiervan bly egter die feit dat hierdie belangrike maatstaf van vrugbaarheid onbekend is aan die produsent.
Die vraag is dikwels hoe lank die bulle by die koeie moet loop in ’n kompakte dekseisoen. Die antwoord is eenvoudig: Dit is net so lank as wat nodig is om die koeie dragtig te kry. Indien al die koeie teoreties binne die eerste 21 dae dragtig is, waarom dan die bulle langer by hulle hou?
Weens die herstelperiode wat ’n koei ná kalf benodig voordat sy weer op hitte kan kom (die sogenaamde anestrusperiode), moet sy ten minste 63 dae gegun word om weer dragtig te raak.
Al wil ons graag vroulike diere die beste kans gun om dragtig te raak, kan die dekseisoen ook nie langer as drie maande strek nie – anders is dit eenvoudig nie meer ’n kompakte dekseisoen nie. ’n Dektyd van 75 tot 80 dae (365 minus 285 vir dragtigheid = 80 dae) is beter as 90 dae, maar die ideaal vir lakterende koeie is 65 dae en 45 dae vir droë koeie en verse (Bergh, 2004). ’n Kompakte dekseisoen verg ’n optimale voedingstatus en kondisie van die koeie.
Die veeprodusent se grootste verantwoordelikheid is om seker te maak dat vroulike diere “geen verskoning” het om dragtig te raak nie. Daar mag geen twyfel oor die bul se gesondheid en vrugbaarheid wees nie. Daar mag ook geen twyfel wees oor die koei se kondisie en gesondheid nie.
Een van die grootste sondebokke is koeie wat laat gekalf het en nog nie skoon is nie. Dit raak ’n bose kringloop, want sulke diere is geneig om elke jaar al hoe verder agteruit te skuif en uiteindelik ’n jaar oor te slaan. In hoogs vrugbare, suksesvolle kuddes word sulke diere uitgeskot.
Koeie wat laat kalf se vroulike nageslag word dikwels steeds in die teelkudde opgeneem. Sulke verse gaan waarskynlik dieselfde neiging as hul moeders toon. Dit verlaag die kudde se vrugbaarheid mettertyd. Met ’n kompakte dekseisoen word hierdie diere gou geïdentifiseer en uitgeskot, wat die seleksiedruk vir vrugbaarheid sterk verhoog.
Voor- en nadele
Voordele van ’n kompakte en gekontroleerde dekseisoen:
- Verhoogde vrugbaarheid in die kudde en dus meer bemarkbare kalwers.
- Benut veldweiding wanneer dit optimaal produseer teen die beste gehalte, terwyl die koei/vers se voedingsbehoeftes ook die hoogste is tydens haar produksiesiklus.
- Koeie wat nie op hitte kom nie, word vroegtydig geïdentifiseer.
- Kudde-aksies kan gesinchroniseer word. Dit sluit dragtigheidsondersoeke, inentings, parasietbeheer, dek, kalf, speen en bulvrugbaarheid in.
- ’n Eenvormige kalweroes en beter mededinging deur die bemarking van ’n eenvormige “pakkie” speenkalwers.
- Gefokusde aandag op kritiese bestuurstye soos kalftyd, wanneer almal se aandag dan vir ’n kort tyd op een belangrike aspek gefokus is. Dit verlaag die risiko van verliese tydens hierdie fases.
- ’n Kompakte dekseisoen vereenvoudig rekordhouding en die vermoë om die kudde se voedings- en produksiekostes te bepaal.
Nadele van ’n kompakte en gekontroleerde dekseisoen:
- ’n Kompakte dekseisoen behoort “in beton gegiet” te wees. Sodra dit begin vorentoe “kruip”, is daar geen manier om om te draai nie.
- Daar word effens meer bulle benodig as in ’n heeljaar-dekstelsel.
- Bulle moet buite dektyd apart gehou word van die res van die kudde.
Omskakeling na ’n kompakte dekseisoen
Ten spyte van al die voordele van ’n kompakte dekseisoen is die vraag wat die meeste gevra word steeds: Wat gaan die koste van omskakeling wees? Ongelukkig is dit só dat daar wel koste is om van ’n heeljaar-dekking na ’n kompakte dekseisoen om te skakel. Die rede hiervoor is dat ’n dektyd baie moeilik of glad nie vervroeg kan word nie, maar slegs aangeskuif kan word.
’n Koei kan nie korter as nege maande dragtig wees nie. Dus word die koei se droë periode doelbewus verleng totdat sy uiteindelik in die gewenste tydgleuf vir dekking inpas. Dit is selde moontlik vir ’n produsent om al die koeie in sy kudde vir so lank onproduktief te dra.
Die beste manier om dit te doen en verliese tot ’n minimum te beperk, is om dit oor ongeveer vyf jaar in te faseer. In jaar een word die bulle vir twee maande uitgehou, jaar twee vir vier maande ens., tot die dektyd by die verlangde maksimum lengte van drie maande en die regte stadium van die seisoen uitkom.
Wanneer die dekseisoen drie maande oorskry, gaan die hoofdoel van seisoenale kalwing verlore. Koeie wat in maand vier dragtig raak, gaan in die volgende seisoen by die bul kom voordat sy gekalf het. Hulle het byna geen kans om dragtig te raak nie.
Op ’n plaas waar daar van ’n heeljaar-dekking na seisoenale dekking oorgeskakel moet word, kan die huidige primêre kalftyd as beginpunt dien om die ideale dektyd vir ’n kompakte dekseisoen te bepaal. Dit is die drie maande waarin die meeste koeie normaalweg kalf.
SEKONDÊRE DEKSEISOEN
Een van die hoofredes waarom sommige produsente ’n tweede dekseisoen implementeer, is om verse te akkommodeer wat op 15 tot 18 maande gereed vir dekking is. Dit kan as groot skade beskou word indien hierdie verse onproduktief onderhou word, om eers op 24 maande gedek te word om by die kudde se normale dektyd in te pas.
Dit bied egter ook aan ’n produsent die geleentheid om ’n koei wat nie in die primêre dekseisoen dragtig geraak het nie ’n tweede kans te gee. Dit is veral belangrik wanneer sy moontlik ’n geldige “verskoning” kon hê waarom sy nie gevat het nie, byvoorbeeld ’n probleem by die bul.
Hier is egter ook ’n geleentheid om ’n koei wat op die oog af ’n gunsteling is ’n tweede kans te gun, wat sy nie werklik verdien nie. Dit sal noodwendig die kudde se vrugbaarheid nadelig beïnvloed.
Samevatting
’n Kompakte dek- en kalfseisoen hou talle voordele vir veeprodusente in. Dit sluit in verhoogde vrugbaarheid en winsgewendheid, beter en makliker kuddebestuur, rekordhouding en die vermoë om die kudde se behoeftes met die natuurlike produksiesiklus van die veld te sinchroniseer. Produsente wat nog nie hierdie praktyk geïmplementeer het nie, behoort die kopskuif ernstig te oorweeg.
Bronnelys
- Bergh L, 2004. Breeding seasons for cattle in South Africa. SA-ANIM SCI 2004, vol 5: http://www.sasas.co.za/Popular/Popular.html. (https://www.sasas.co.za/wp-content/uploads/2012/10/Bergh2004PopSci_0.pdf)
- Bradfield M, 2021. Optimaliseer voerhulpbronne met ’n gedefinieerde, kort dekseisoen. SIMM-biose, September 2021. Beskikbaar by Plaas Media (Edms) Bpk
- Grobler SM, Scholtz MM, Greyling JPC en Neser FWC, 2014. Reproduction performance of beef cattle mated naturally following synchronisation in the central Bushveld bioregion of South Africa. S. Afr. j. anim. sci. vol.44 n.5