Die jaarlikse erkenningsgeleentheid van NWK se Lojaliteitsprogram is nou meer inklusief deurdat die toppunteverdieners in verskillende produkkategorieë ook nou vir hul lojaliteit beloon word. Nóg ʼn toevoeging tot die geleentheid, is die erkenning van klante wat die meeste punte uit aankope verdien het, asook die beste persentasie groei in punte jaar op jaar getoon het.
Voorheen is slegs die algehele toptien-punteverdieners tydens NWK se jaarlikse erkenningsgeleentheid uitgesonder, maar nou word ook die toppunteverdieners in dieregesondheid en veevoer, landbouchemikalieë, landbousaad, kunsmis, brandstof en smeermiddels, boumateriaal, besproeiing asook meganisasie, vereer.
Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy kon Vrydagaand uiteindelik ná ʼn pandemie en streng inperking van twee jaar weer hierdie topklante se toekennings tydens ʼn spoggeleentheid by NWK se opleidingsentrum in Lichtenburg aan hulle oorhandig.
“Die bestuur en direksie het dit goedgedink om die erkennings meer inklusief te maak deur die kategorieë waarin erkenning vir prestasie gegee word, uit te brei sodat daar ʼn groter poel kliënte by hierdie geleentheid betrek kon word,” het Jacques de Wet, bemarkingsbestuurder van NWK, verduidelik.
Theo Rabe, groephoof- uitvoerende beampte van NWK, het sy toespraak begin deur vir Elsa Strydom, die weduwee van Johan Strydom, in die besonder welkom te heet. Johan, een van die toppunteverdieners, is verlede jaar aan COVID-19 oorlede.
“Hy was lank een van ons lojale klante en het ook nie geskroom om kritiek te gee as dit nodig was nie,” het Theo hom onthou.
Klante is vir NWK belangrik
“Ons as NWK is geseën met ʼn groot groep lojale klante. Dit word deur NWK se sake en groei die afgelope paar jaar weerspieël.
“Ons het die afgelope paar jaar baie aandag daaraan (klanteverhoudings) gegee. Julle is uiteindelik die eienaars van NWK. Die bestuur en direksie van NWK bestuur die maatskappy namens julle. Dis vir ons ʼn riem onder die hart dat julle ons besigheid ondersteun. Julle as die eienaars van NWK moet trots wees op hierdie besigheid.”
Theo het voortgegaan deur te sê dat die Lojaliteitsprogram die aandeleprys stu deur die fondse wat NWK teruggee aan die program en dat die maatskappy daarna streef om sy produsente te behou en hulle groei in hul aandeelhouding te bied.
“Daar is ook aandeelhouers wat ouer word en wil uittree, so hierdie program is die ideale middel om daardie aandele terug te koop. Jou belegging kan verder in kapitaal groei en jy kan boonop dividende op daardie aandele ontvang.”
NWK se Lojaliteitsprogram is in 2017 van stapel gestuur en daar is reeds R49,5 miljoen se waarde in hoofsaaklik aandele aan lede toegeken. Die Omnia-toekenning beloop ʼn verdere R3,1 miljoen en die waarde van die totale toekenning is dus R52,6 miljoen.
“ʼn Totaal van 9 111 006 NWK Beherend aandele is reeds toegeken. Dit kom neer op sowat 7% van die totale uitgereikte aandele van NWK Beherend wat net die afgelope vyf jaar deur die Lojaliteitsprogram verhandel is,” het Theo afgesluit.
WENNERS
- Richard Hobson van Botselo Farming (Edms) Bpk was 2019/2020 se toppunteverdiener en het reeds verlede jaar ʼn LekkeSlaap-koopbewys van R25 000 ontvang. Die ander nege was M. Nel Boerdery (Marius Nel), F.P. van Rooyen Boerdery (Frik van Rooyen), Shomene (Edms) Bpk (Rupert Richter & Roland Liebenberg), J.H.A. Nieuwoudt (Johan Nieuwoudt), J.J. Steyn (Johan Steyn), Tommiesrus (Edms) Bpk (Louis Meyer), L. Van Wyk (Lourens van Wyk), J.P. Strydom (Johan Strydom) en Vlakpan Trust (Kobus du Preez).
- Shomene (Edms) Bpk van Rupert Richter en Roland Liebenberg het die meeste punte uit aankope verdien terwyl Bestcor Products van Raubé Malan die beste groei in punte jaar op jaar gedurende 2019/2020 getoon het. Hulle het elk ʼn NWK Retail-koopbewys ter waarde van R5 000 ontvang.
- In die onderskeie produkkategorieë, was die wenners van 2019/2020 Kallie Peters van F.K. Peters (landbouchemikalieë), Kobus du Preez van Vlakpan Trust (landbousaad), Harry du Preez van Herculette Boerdery (dieregesondheid en veevoer), Gerhard Swanepoel van Dura-Flex Dam Linings (boumateriaal), Louis Meyer van Tommiesrus (Edms) Bpk (kunsmis), Carel Carrol van Carrol Family Enterprises (brandstof en smeermiddels), Marco Duister van High Point Trading 609 CC (besproeiing) en Danie Reichel van D.J. Reichel (meganisasie). Ook hulle is elkeen met ʼn NWK Retail-koopbewys van R5 000 beloon.
- Richard Hobson van Botselo Farming (Edms) Bpk was wéér die toppunteverdiener in 2020/2021 en het weer met ʼn LekkeSlaap-koopbewys van R25 000 weggestap. Die ander nege was PGL Boerdery (Edms) Bpk (Pieter van Zyl), M. Nel Boerdery (Marius Nel), D.A. Mare (Dawie Mare), Shomene (Edms) Bpk (Rupert Richter & Roland Liebenberg), Vlakpan Trust (Kobus du Preez), Tommiesrus (Edms) Bpk (Louis Meyer), F.J. van der Linden (Frans van der Linden), I.F. Maré (Cois Maré) en L. Van Wyk (Lourens van Wyk).
- In die onderskeie produkkategorieë, was die wenners Kallie Peters van F.K. Peters (landbouchemikalieë), Frans van der Linden van F.J. van der Linden (landbousaad), Harry du Preez van Herculette Boerdery (dieregesondheid en veevoer), Jan Haasbroek van SJR Staalwerke BK (boumateriaal), Tiaan Boshoff van C.C. Boshoff (kunsmis), André Wessels van Vrywes Boerdery (brandstof en smeermiddels), Rassie Jacobs van J-Cat Plant Hire (besproeiing) en Dawie Mare van D. A. Mare (meganisasie).
- Rupert Richter en Roland Liebenberg se Shomene (Edms) Bpk het die meeste punte verdien uit aankope terwyl Fanie Hartman se SJB Hartman Trust die beste groei in punte jaar op jaar gedurende 2020/2021 getoon het. Bogenoemde wenners het elk ʼn NWK Retail-koopbewys ter waarde van R5 000 losgeslaan.
Om vir NWK se Lojaliteitsprogram te registreer, besoek www.nwklojaliteit.co.za