Die ekonoom Theo Vorster se raad aan produsente is om die politieke omgewing te benader soos die rugbyspan wat jy ondersteun: “Stry daaroor, maar fokus op jou besigheid”. Hy meen dat produsente oor vyf jaar eerder hulle grond aan ‘n buurman kan afstaan wat beter as hulle boer “en nie aan Cyril Ramaphosa en die ANC nie”.
Theo het Wolmaransstad Studiegroep se Groendag op Woensdag 6 April 2022 naby dié dorp toegespreek. Dit is deur NWK Retail Wolmaransstad geborg. Hy het ‘n politieke oorsig gegee en uitgebrei oor die ekonomie en sê hy is meer optimisties oor sake as drie, vyf en selfs tien jaar gelede.
ANC verloor steun
“Die feit dat die ANC beduidend onder 50% stemme in die munisipale verkiesing behaal het, beteken nie noodwendig dat hulle in die nasionale verkiesing wéér so ver onder 50% sal eindig nie,” het Theo begin. Dit lyk boonop nie of hulle só ver onder 50% sal eindig dat hulle ‘n sterk koalisievennoot sal nodig kry nie. Hulle sal dan eerder met kleiner partye soos COPE, die IVP en ander kleiner entiteite ‘n informele koalisie aangaan.
Die afgelope munisipale verkiesing het ‘n uiters lae stempersentasie gehad. Daar is sowat 40 miljoen mense in Suid-Afrika wat oud genoeg is om te kan stem. ‘n Derde van hulle is nie eens geregistreer om te stem nie. Slegs een uit sewe stemgeregtigdes het vir die ANC gestem. Die DA wat die grootste opposisie is, werf maar een uit 14 van stemgeregtigdes se stemme en die EFF, een uit 30.
“Die vraag is dus of ons weer só ‘n lae stempersentasie gaan kry of gaan ons ‘n stygende stempersentasie sien en vir wie?”
Die kollig sal val op onafhanklike kandidate en of hulle partye gaan vorm.
Tweespalt binne die regerende party
Die onderskeie ANC-takke gaan in Desember die leierskap van die party verkies. Mpumalanga het reeds sy kongres gehad en hier was die aanduiding dat die Cyril Ramaphosa-faksie se leier die gunsteling was en nie dié van David Mabuza nie. “Dit lyk ongelukkig nie dieselfde in KwaZulu-Natal nie. Die groepering ten gunste van radikale ekonomiese transformasie se kandidate lyk sterker.”
Theo voorspel dat diegene wat hul by Ace Magashule skaar, vir Cyril by die leierskapskonferensie gaan uitdaag oor ANC beleide wat nog nie deurgevoer is nie. “Hulle gaan hom vra waar hy trek met grondonteiening sonder vergoeding, asook die voorgestelde nasionalisering van die Reserwebank en die aanwending van staatspensioenfondse om staatsentiteite staande te hou.”
Theo het gewaarsku, “Dis op hierdie stadium krities vir Suid-Afrika dat die radikale ekonomiese transformasie (RET) se kandidatelys nie deurkom nie. Dan gaan ons terugkeer na ‘n Jacob Zuma-era.”
Cyril Ramaphosa se skaakskuiwe onder die loep
Theo meen dit was duidelik tydens die opening van die staatsrede vroeër vanjaar dat Cyril vir die eerste keer optree asof hy ‘n tweede termyn as president gaan dien.
“In sy staatsrede het hy die klem geskuif na die privaatsektor. Die staat kan nie werk skep nie en daar moet ‘n omgewing vir die privaatsektor geskep word om te belê en werk te skep.”
Volgens Theo is die aanstelling van Raymond Zondo as hoofregter, asook die daarstelling van ‘n proses waarvolgens privaatmaatskappye, soos Remgro, kan tender om die spoorlyne vir goedere te gebruik op hoofroetes, alles “penne in die grond” deur Cyril.
Waak teen RET-faksie
Theo het weer beklemtoon dat, buiten vir die twyfelagtige morele standaarde van diegene wat RET voorstaan, die ANC se steun waarskynlik só kan daal dat ‘n koalisie met die EFF dan skielik op die kaarte kom, sou die RET-faksie as gunstelinge oorkom.
Hy het verduidelik dat, hoewel mense dikwels meen die president meer daadwerklik moet optree, sy magte dit nie noodwendig toelaat nie. “Cyril kan nie mense arresteer nie, hy kan nie mense hof toe vat nie.” Die president kan wel bekwame mense by die Nasionale Vervolgingsgesag, asook ‘n gesoute polisiekommissaris aanstel en hulle noop om hul werk te doen.
Volgens Theo is dit gewis ‘n fyn lyn wat Cyril moet handhaaf, want dieselfde individue teen wie hy hom sou kon uitspreek, vir hom moet stem in die ANC se komende leierskapskonferensie.
Russiese ekonomie kan beduidend krimp
Inflasie en rentekoerse het wêreldwyd ná die ergste van die COVID-19-pandemie gestyg, met die Amerikaanse inflasie vir die eerste keer in 40 jaar hoër as dié van Suid-Afrika.
Theo meen die Russiese president, Wladimar Poetin, het drie groot foute gemaak met die inval van Oekraïne: Hy het gedink ‘n baie groot deel van Oekraïnse bevolking gaan hul ondersteun en met ope arms verwelkom; hy het nie die sterk toegeruste Guerilla-teenveldtog met gevorderde westerse wapens verwag nie; en hy het gereken die weste is ‘n gefragmenteerde alliansie.
Laasgenoemde het egter vinnig saamgestaan en regerings-, privaat- en internetsanksies ingestel, wat gewoonlik maande vat.
Die graderingsagentskap Moody’s, reken dat, sou die oorlog tussen Rusland en Oekraïne nóú stop, die Russiese ekonomie met tussen 8% en 10% gaan krimp. “As hierdie oorlog tot Junie aanhou, kan die Russiese ekonomie met tot 20% krimp. Dit behels een uit elke vyf transaksies wat nie plaasvind nie en een uit elke vyf werksgeleenthede wat verlore gaan.”
Vir Suid-Afrikaanse produsente en die res van die wêreld, is logistieke kanale en vervoer tydens hierdie oorlog van belang. Skepe vaar nie tans na Rusland nie. Produsente kry nie versekering op hul oeste wat soontoe moet gaan nie en Russiese banke kan hulle nie betaal nie.
“Tussen 7% en 10% van ons sitrus gaan na Rusland. Laasgenoemde is egter uit die wêreldbetaalstelsel gehaal. Nie net moet ons nuwe markte vir hierdie 7% tot 10% soek nie, maar die res van die wêreld ding ook om hierdie markte mee,” het Theo verduidelik.
Die wêreldbetaalstelsel word ook beduidend deur die oorlog beïnvloed. “Dis amper asof ons terug is by ‘n ruilhandelstelsel,” verduidelik Theo.
Tog is die Russiese ekonomie baie klein in wêreldterme, aldus Theo. Dis Amerika se veertigste grootste handelsvennoot en hoewel Amerika daagliks 2 000 vate olie vanaf Rusland invoer, voer dit 8 miljoen vate (die res van elders in die wêreld) in totaal per dag in.
Suid-Afrikaanse graanprodusente sit op hete kole omdat Rusland ‘n basiese rolspeler in die grondstofmark vir kunsmis is. Theo het benadruk dat dit daarom in ons belang is dat die oorlog gouer eerder as later eindig.
Slotsom: Sake lyk rooskleuriger, maar…
Theo is meer op sy gemak met die huidige ekonomiese en politieke situasie as ‘n dekade gelede. “Daar is ‘n groter rasionaliteit in die regering se besluitneming en samewerking met die privaatsektor is beter.”
Tog meen hy dat landbou dringend aandag aan die watergesprek sal moet gee. “Hoe water hanteer word, asook die kwessie rondom waterregte en water waterlisensies nodig is. Dit gaan ‘n groter politieke speelbal word as die grondvraagstuk.”