Hoewel die regering nie self in veeprodusente se behoeftes aan entstowwe kan voldoen nie, is dit ook nie bereid om beperkinge op privaatmaatskappye wat dit wel kan verskaf, te lig nie. Dit is volgens dr Peter Oberem, besturende direkteur van Afrivet.
Dr Oberem het die kongres van Noordwes se Rooivleisprodusente-organisasie (NWRPO) op 25 Mei by Senwes in Klerksdorp toegespreek en uitgebrei oor entstofvoorsiening deur farmaseutiese maatskappye teen die agtergrond van Onderstepoort Biologiese Produkte, se onvermoë om dit te doen. NWK het ook die geleentheid geborg.
Peter het gewis ‘n donker prentjie geskets oor dié gaping in die mark wat elke Suid-Afrikaner se voortbestaan bedreig.
“Ons betaal belasting vir paaie met slaggate. Ons betaal vir Eskom, maar moet ook vir kragopwekkers en sonpanele betaal. Ons betaal belasting vir die departement van gesondheid, maar ons het almal private mediese fondse. Ons moet leer om alles vir onsself te doen. Dit is van toepassing op dieregesondheid ook.”
“Groot fout by Onderstepoort”
Entstowwe is ‘n basiese vereiste om siektes te voorkom.“Daar is egter ‘n reusetekort aan entstowwe, bestuur en kundigheid by Onderstepoort en daar word ongeveer R500 miljoen vermis wat vir hulle sertifikaat vir goeie vervaardigingspraktyk (GMP) aangewend moes word,” aldus Peter.
Hy het vertel van ‘n Marokkaanse maatskappy wat farmaseutiese produkte aan onder andere Europa verkoop. Die span by Afrivet wou ‘n bepaalde produk van dié maatskappy na Suid-Afrika laat kom en dit registreer vir plaaslike gebruik. Die maatskappy het boonop ‘n GMP-sertifikaat, wat Onderstepoort nie eens het nie.
“Daar is nie ‘n diplomatieke vereniging tussen die twee lande se veeartsenykundige dienste nie. Europa erken dié maatskappy se GMP-sertifikasie, maar nie Suid-Afrika nie,” het hy verduidelik.
“Ons het gesmeek, gekruip, gedreig, briewe geskryf… Marokko vra tans bloot ‘n brief van Suid-Afrika se veeartsenykundige dienste aan, terwyl laasgenoemde daarop aandring dat Marokko ‘n brief moet stuur,” het hy bygevoeg.
Tot 62% van gevalle van epilepsie in die Oos-Kaap kan toegeskryf word aan siste wat deur lintwurms veroorsaak word.
“In plattelandse gebiede van dié provinsie vreet varke menslike ontlasting en wanneer hierdie diere se vleis nie behoorlik gaargemaak word nie, word mense met lintwurms besmet,” het hy verduidelik.
Daar is aansoek gedoen vir die noodregistrasie van ‘n entstof wat die lintwurm in varke doodmaak, maar volgens Peter het dit ook weens burokratiese rompslomp nie gerealiseer nie.
Bek-en-klouseer se ontstaan in SA
Ook plaaslik kan die fasiliteit wat getaak is om hierdie siekte te bekamp, nie entstof teen die siekte voorsien nie. Tog is entstowwe nie die duurste element van ‘n entstofprogram nie, maar eerder die beamptes wat dit moet toedien, asook hulle uitgawes soos brandstof en kos.
Hoewel moderne navorsing toon dat bek-en-klouseer tot 900 jaar gelede onder buffels in Afrika ontstaan het, is die siekte vir die eerste keer in 1514 in Italië beskryf.
Die siekte is vir die eerste keer tussen 1894 en 1930 in suidelike Afrika opgemerk onder beeste wat vanaf Argentinië ingevoer is. Daar was sedertdien ‘n styging in gevalle van die siekte, wat later gestabiliseer het danksy inenting, met wéér ‘n skerp styging die afgelope dekade, met 71 gevalle wat aangemeld is.
Die afwesigheid van ‘n behoorlike heining rondom die Nasionale Krugerwildtuin het tot gevolg dat beeste en buffels in kontak met mekaar kom.
“Die verskuiwing van beeste en boonop die onwettige verskuiwing van dié diere, dra by tot die probleem,” sê Peter.
Die regering het 5 000 diptenks in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Mpumalanga en Limpopo opgerig waarin diere teen die siekte gedip kan word. “Die toestand van hierdie infrastruktuur asook die monitering van die proses is egter besig om agteruit te gaan.”
‘n Oop deur na die regering is nodig
Peter meen die probleem moet eerstens getakel word deur verbeterde toegang tot die staat. “Ons moet behoorlik met hulle kan praat en nie mekaar as vyande beskou nie. Ons merk wel ‘n verbetering hier.”
Heinings en diptenks moet opgeknap word en beamptes moet opgelei word om dit behoorlik te kan benut.
Voorts voer hy aan dat die bedryf van meer moderne entstowwe en diagnostiese toetsing gebruik moet maak. “Daar is antigeen-toetse, net soos in die geval van COVID, waarin ons binne minute kan bepaal of ‘n dier besmet is of nie.”
Selfs karkasse kan vir die virus getoets word. Bek-en-klouseer word laastens in die limfkliere gestoor en deur ‘n karkas te ontbeen en dié kliere te verwyder, kan dit bykomende veiligheid verseker. Die vleis word verouder en vakuumverpak onder 6°C – ‘n temperatuur waarby die virus nie kan oorleef nie.
Sou Suid-Afrika se veeartsenykundige dienste en die departement van landbou dan bilaterale ooreenkomste met verbruikerslande soos China in plek hê, kan hierdie vleis na hulle uitgevoer word.
“Entstowwe moet baie vinniger registreer word en die RPO moet veeartsenykundige dienste nader en die invoer van hierdie stowwe bepleit,” het Peter gemaan.