‘n Grootskaalse projek om sowat 400 km se grondpaaie in die platteland van Noordwes meer toeganklik te maak, het vandag naby Kameel afgeskop.
Dié projek is uiteindelik van stapel gestuur nadat NWK onlangs ‘n memorandum van verstandhouding met Noordwes se departement van openbare werke en paaie onderteken het, waarvolgens dit sy hulp aan die regering bied om die provinsie se grondpaaie meer begaanbaar te maak. NWK skenk ook gereeld teer om slaggate in Lichtenburg se sentrale sakegebied te herstel.
Eerste fase skop af
Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy onderneem die grondpadprojek in samewerking met Agri NW en het nagenoeg R500 000 beskikbaar gestel vir die eerste fase, wat na verwagting vier weke sal duur.
Met die stroopseisoen onderweg, sal daar tydens hierdie fase van die projek gefokus word op grondpaaie wat na en van NWK se silokomplekse lei, sodat produsente tydens hierdie kritieke stadium hul graanoeste so maklik as moontlik by die silo’s kan kry.
“Ons paaie is in ‘n haglike toestand en lei tot groot ongelukkigheid onder ons bevolking. Groot skade word deur elke persoon wat paaie gebruik, gely. As ‘n sake-onderneming het die vervalle paaie NWK al ‘n geruime tyd gelede genoop om ‘n ooreenkoms met die provinsiale regering te sluit sodat iets aan die situasie gedoen kon word,” het Theo Rabe, groephoof- uitvoerende beampte van NWK, verduidelik.
“Al die skade wat gely word, veral deur ons produsente, dra by tot die stygende prys van voedsel. Veral die prys van arm gemeenskappe se hoofbron van voedsel bly styg weens skade aan toerusting en die ontoeganklikheid van paaie.”
NWK het onlangs die nodige magtiging en vrywaring bekom om, in samewerking met ander sakevennote, aan grondpaaie te begin werk. ‘n Kontrakteur is onmiddellik aangestel om die paaie te skraap.
Paaie rondom onder andere Rostrataville, Sannieshof, Boschpoort, Coligny, Grootpan, Lusthof en Taaiboschpan, gaan ook tydens hierdie fase geskraap word.
“Die padnetwerk is kardinaal om die hele voedselproduksieketting doeltreffend te laat werk en te sorg dat eindverbruikers bekostigbare voedsel op hul tafels het. Die bydraes deur vennote soos NWK en Agri NW, sal help om uitgawes vir die produsent en uiteindelik die eindverbruiker, laer te hou,” het Theo vervolg.
“Dit sal boonop ander padgebruikers wat met busse en taxi’s op hierdie paaie na hul werksplekke en skole moet reis, bevoordeel. Baie vragmotors gebruik ook hierdie paaie om graan na die onderskeie verwerkingsaanlegte te vervoer.”
Ander paaie in Noordwes sal in komende fases van die projek geprioritiseer word.
Navrae
Produsente met navrae word versoek om die bestuurder van hulle naaste NWK-handelswinkel of -silo te skakel. Vir navrae in verband met die projek, skakel vir Ian Britt, bestuurder van Silodienste by NWK – by 076 791 7030.