Diversifikasie deur middel van sogenaamde intergewasverbouing is dalk net die teenvoeter vir hoë kunsmispryse. Jacob van der Westhuizen van Sirkel W Boerdery naby Nigel in Gauteng, het dié nuwe neiging by TLU SA se Jongboerkonferensie toegelig. Dit is op 10 Junie by die Voortrekkermonument in Pretoria aangebied en NWK was ‘n platinumborg.
Intergewasverbouing
Intergewasverbouing (intercropping) is ‘n multi-verbouingspraktyk waar twee of meer gewasse gelyktydig in dieselfde stuk grond verbou word. Die primêre doel is om die maksimum gekombineerde opbrengs op ‘n bepaalde oppervlak te bereik deur die optimalisering van beskikbare hulpbronne.
“Baie van hierdie individuele gewasse wat saam geplant word, sal nie noodwendig dieselfde maksimum opbrengs behaal wanneer dit in ‘n monokultuur verbou word nie. Die somtotaal is egter baie kragtig en beter,” het Jacob verduidelik.
Dit is ‘n ou praktyk en argeoloë kan bevestig dat daar tot 1 000 jaar nC bewyse van intergewasverbouing in Noord-Amerika gevind is, wat vermoedelik oorgespoel het na die Asteke in Meso-Amerika.
MIELIES, BOONTJIES EN PAMPOENE – DIE DRIE SUSTERS
Daar is drie gewasse wat, indien hulle saam verbou word, ‘n baie goeie uitwerking op mekaar het en goeie opbrengste lewer – mielies, boontjies en pampoene.
“Mielies is die ‘oudste’ van dié drie sussies en hou toesig oor die jonger twee. Dit skep ‘n raamwerk vir boontjies om teen op te rank en laasgenoemde bind weer stikstof en stel dit beskikbaar vir die mielie.
“Pampoene wat op die grond rank, skep ‘n lewendige deklaag wat waterinfiltrasie verbeter, onkruide onderdruk en verdamping vanaf die grondoppervlak teenwerk. Dit skep boonop ‘n gunstige mikroklimaat vir grondlewe onder die plante,” het Jacob bygevoeg.
Produsente kan ook ‘n inkomste met ‘n sekondêre gewas verdien terwyl die primêre een nog gevestig word.
Voor- en nadele
VOORDELE VAN VERSKILLENDE WORTELSTELSELS
Jacob het die voordele wat die wortelstelsels van lusern en mielies vir mekaar inhou, toegelig. “Lusern se wortels strek diep en is sterk. Veronderstel daar is ‘n tekort aan een of ander grondelement in die wortelsone waarin die mielies groei, dan kan die lusern byvoorbeeld daardie kalsium of fosfaat uit die dieper laag van die grondprofiel onttrek waarna dit deur die wonderlike wisselwerking van grondmikrobes vrygestel word waar mielies se wortels dit wel kan kry. “Verskillende worteluitskeidings het ook sáám ‘n positiewe uitwerking op die verskillende tipes grondlewe.”
DIE ANDER KANT VAN DIE MUNTSTUK
Die nadele van intergewasverbouing, sluit in:
- Dit is nie altyd geskik vir ‘n gemeganiseerde boerdery nie (dink maar aan die oesproses)
- Dit is tydrowend deurdat dit meer aandag en gespesialiseerde bestuursinsette verg en dus meer intensief is.
- Verlaagde produktiwiteit van die plantproses, onkruidbeheer en oesproses mag verhoogde arbeidskoste vir hierdie operasies meebring.
- Deeglike beplanning ten opsigte van kultivarkeuses, behoorlike spasiëring en onkruidbeheerprodukte (omdat dit ‘n invloed op verskillende spesies kan hê) is krities.
- Tydsberekening is uiters belangrik.
WAAROM IS BEPLANNING SÓ BELANGRIK?
- Waar meer as een gewas saam geplant word, kan hulle met mekaar kompeteer vir lig, vog en voedingstowwe, óf mekaar komplimenteer.
- Gewasse kan dus ‘n positiewe uitwerking op mekaar hê, byvoorbeeld ‘n peulgewas wat stikstof vir ‘n primêre grasgewas bind, of
- Dit kan ook negatiewe gevolge hê, waar byvoorbeeld ‘n sekondêre gewas só sterk vir vog tydens die primêre gewas se kritieke fase kompeteer, dat sub-optimale prestasie by beide voorkom.
Verskillende tipes
Daar is verskillende tipes intergewasverbouing:
GEMENG
Hier word twee of meer gewasse in ‘n mengsel, sonder gedefinieerde rye, saamgeplant. Gars en ertjies sáám werk goed. Gewasse moet só gekies word dat, as daar ‘n peulgewas is, die peule nie sal oopspring as die gewas reeds oesgereed is, maar die gars, is nog nie. Die gewasse word met ‘n meganiese stroper op die gewone manier geoes en daarna met ‘n sifproses van mekaar geskei.
“Mielies en boontjies werk ook goed, hoewel ‘n meganiese oesproses wel moeilik is. Daar kan wel kuilvoer gesny word en dit sal ‘n baie goeie proteïenkomponent hê. Dit kan ook lewendig deur vee benut word,” Het Jacob bygevoeg.
RYE
Twee of meer gewasse word in afsonderlike rye geplant, soos sonneblom en sojabone. “Iemand wat nie bang is vir ‘n ‘Sclerotinia-bom’ nie, kan hierna kyk.”
AFLOS
‘n Tweede gewas word geplant nadat die eerste reeds goed gevestig, maar nog nie oesgereed is nie. Boontjies, blaarslaai en uie byvoorbeeld word in afwisselende rye geplant. “Dis ‘n sogenaamde push en pull-sisteem.”
Jacob het dit soos volg verduidelik: “Jy plant byvoorbeeld Desmondium-peulplante tussen mielies. Stronkboordermotte hou nie van die reuk nie en dit hou hulle weg. Pennisetum purpureum (Napiergras) word dan rondom mielies geplant.
“Stronkboordermotte verkies om hul eiers bo-op dit te lê. Die Pennisetum purpureum se blare skei ‘n taai stof af wat die boorders se larwes vasvang en laat sterf. Dit word met groot sukses in byvoorbeeld Kenia ingespan, waar GM-produkte nie aanvaar word nie. Sodra koring goed in Kenia gevestig is, word daar sojabone tussen-in geplant. Die koring word meganies geoes sodra dit ryp is. Die stroper sny dan die boonste deel van die sojaplant af en dit word as’t ware gesnoei.
“Die effek van die plant om aan te hou groei en sytakke te hê, word dus opgehef en dit inisieer baie meer sytakke, wat ‘n baie goeie opbrengsverhoging kan meebring,” het Jacob verduidelik.
“Wanneer mielies op V6- of V8-stadium (kniehoogte) is, word daar ‘n mengsel van weidingsgewasse tussen mielies geplant. Dit word só gekies dat dit onkruid onderdruk, moontlike verdigtingslae ophef en stikstof bind. Wanneer die mielies droog word, word meer lig deurgelaat vir die gewasse onder en jy het goeie kwaliteit winterweiding beskikbaar. Jy diversifiseer dus jou boerdery deur groot besparings op lekkoste.”
Skaapprodusente kan dit ook oorweeg om, sodra meerjarige weidings die dormante stadium betree, kleiner grane volgens hul natuurlike planttye te plant. “Net vóór dit, word hierdie kampe baie straf deur die skape bewei. “Die klein grane ontkiem en gaan deur hulle natuurlike lewenssiklusse. Net voor hulle stroopgereed is, word meer lig deurgelaat, die natuurlike weiding kom uit die dormante stadium en begin groei,” het Jacob verduidelik.
Volgens ‘n ontleding deur dr Christine Jones, ‘n Australiese grond-ekoloog, lei ‘n verskeidenheid van gewasse op weiding tot ‘n verhoging in die volgende:
- Swamme (tot 862%).
- Bakterieë (350%).
- Protosoë (640%).
- Nematode (met tot 1 000%).
- Organiese koolstof (204%).
- Beskikbaarheid van voedingstowwe (172%).
- Waterhouvermoë (200%).
‘n Produsent wat hierdie metode inspan, diversifiseer nie net deur ‘n tweede inkomstestroom beskikbaar te stel nie, maar hy het geen sintetiese bemesting op sy weiding nodig nie en hy bespaar tot 70% aan bemesting soos aanbeveel op ‘n konvensionele stelsel.
STROOK
Twee of meer gewasse word in afsonderlike stroke wyd genoeg vir bewerkings, geplant, soos mielies en hooi. Die stroke mielies is wyd genoeg om by die meganisasie in te pas wat op die betrokke plaas gevolg word.
Jacob het verwys na Brasilië waar koffieplantasies begin swaarkry het weens hittestres. Navorsers van die Universiteit van Sao Paula het toe ‘n agtjaarlange studie op ‘n stuk grond gedoen waar hulle verskillende kultivars van makadamianeute saam met die koffiebone geplant het.
‘n Spesifieke kultivar uit Hawaii, het besonder goed gewerk. “Dié bome groei nie so hoog nie en skep dus net genoeg skaduwee om die temperatuur van die koffie in ‘n optimum te bring. Die bome het ook nie ingemeng met die meganiese oes van die koffiebone nie. Dié studie het gelei tot ‘n ekonomiese voordeel van 178%, bó suiwer stande van koffie.”
Ten slotte
Jacob het sy voorlegging opgesom deur te sê dat intergewasverbouing ‘n praktyk is wat positiewe resultate in verskeie gewasse kan meebring, terwyl ‘n laer afhanklikheid van sintetiese bemesting en chemiese produkte moontlik is.
“Dis nie ‘n goue plan wat op elke plaas sal werk nie, maar eerder ‘n saadjie om te plant in elke jongboer hier se kop. Deeglike beplanning en groot kopskuiwe is nodig om dit te kan doen.”