Winston Churchill is onder andere bekend daarvoor dat hy volgens oorlewering die kortste toespraak ooit gelewer het. Daar is egter heelwat omstredenheid oor die akkuraatheid van die feite oor die geleentheid waar hy hierdie bekende woorde geuiter het. “Never, never, never give in” word meer dikwels geassosieer met die moed wat hy sy volk en weermag wou inpraat tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe dinge maar redelik sleg met die Britse volk gegaan het.
Die spesifieke toespraak is tydens ‘n besoek aan sy alma mater, Harrow School, op 29 Oktober 1941 gelewer. Dit blyk dat die paar woorde nie die volle omvang van sy toespraak was nie. Sommige bronne meld dat die toespraak by hierdie geleentheid ten minste 20 minute geduur het en dat hierdie spesifieke aanhaling meer bedoel was om te verwys na die suksesse wat die Britte tydens die oorlog behaal het, nadat hulle hulself aanvanklik in ‘n uiters benarde posisie teenoor die Nazi’s bevind het.
Hoe dit ook al sy, hierdie woorde het oor die jare vir baie mense wat op moedverloor se vlakte gesit het as inspirasie gedien om weer te probeer – wat ook al die terugslag wat hulle beleef het. Dit wil ‘n mens amper terugvat na die woorde van Nehemia, wat vir die volk gesê het “Kom ons bou!” (Nehemia 2:18) nadat hulle die besluit geneem het om die stad Jerusalem se mure te herbou. Ten spyte van al die teëspoed wat die volk beleef het, het hulle besluit om self aksie te neem en konstruktief te werk te gaan om hulle geliefde stad onder moeilike heersende omstandighede te herstel.
In ‘n persverklaring wat op 6 Junie 2022 deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Graan- en Oliesadehandel (SACOTA) uitgereik is, word die hervatting van die verskeping van mielies wat vir uitvoere vanuit die Oos-Londense hawe bestem is, toegelig. Die eerste vrag mielies is alreeds oor die naweek van 4 Junie 2022 gelaai, nadat die betrokke hawe vir die afgelope tien jaar geen landbou-uitvoere hanteer het nie.
Hoewel daar tans nog ‘n aantal logistieke beperkings op die uitvoer van mielies vanuit hierdie hawe bestaan, is die goeie nuus dat dit ‘n bykomende fasiliteit beskikbaar stel wat die druk op die ander hawens kan verminder en addisionele uitvoerkapasiteit kan skep. Dit is ‘n waardevolle ondersteunende faktor in die afset van die land se steeds groeiende mielieproduksie en die surplusse wat dit in die plaaslike mieliegraanmark skep.
Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee se laaste syfers (26 Mei 2022) beloop die huidige seisoen se geskatte mielieoes na verwagting 14,7 miljoen ton, wat effens meer is as die afgelope vyf seisoene se gemiddeld van 14,4 miljoen ton. Dis ook heelwat meer as wat die plaaslike mielieverbruik van net minder as 12 miljoen ton is. Die addisionele uitvoerkapasiteit kan gevolglik betekenisvolle verligting bring in die uitvoere van surplus landboukommoditeite en sodoende waardevolle buitelandse verdienste moontlik maak.
Ten spyte van die talle oënskynlik onoorkombare uitdagings wat die landboubedryf in die gesig staar, is daar van tyd tot tyd hierdie kosbare deurbrake wat reuse treë vorentoe moontlik maak. Die plaaslike landboutoneel word gekenmerk deur die vordering wat gemaak word met produksievolumes en die implementering van hoë-tegnologie hulpmiddels.
Die logiese gevolgtrekking hieruit is dat Suid-Afrika se produksie van verskeie landboukommoditeite die potensiaal het om surplusse te produseer. Ons kan gevolglik nie bekostig om op te hou werk aan die geleenthede wat dit bied om die bedryf op ‘n beter voet te plaas nie. “Never, never, never give in”.