Die winkelbestuurder van NWK Retail in Sannieshof het groot sukses behaal met sy Witdorpers by die Dorper- en Witdorper-wêreldkampioenskappe, wat vanaf 3 tot 6 Mei in Bloemfontein plaasgevind het. Henk Greeff (53) het ‘n groot liefde vir dié skaapras en hoop om wanneer hy die dag aftree, voltyds op die Greeff-familiegrond naby Grootpan met hulle te boer.
Altesaam 20 van Henk se diere het aan die Dorper- en Witdorper-wêreldkampioenskappe deelgeneem. Hy het ‘n derde plek in die ooilam-groepsklasse behaal, asook ‘n tweede plek in die afdeling waarin sestand- en volbekramme (sowat drie jaar en ouer) meegeding het. Algeheel het hy ‘n sesde plek en twee sewende plekke behaal.
Skoue is ‘n goeie maatstaf
Sowat 1 200 Dorpers en Witdorpers het aan dié skou deelgeneem – die meeste nóg in dié skou se geskiedenis. Daar was 15 klasse vir die Dorperramme en 15 klasse vir die ooie, asook dieselfde aantal klasse vir die Witdorperramme en -ooie, met tussen 40 en 70 diere in ‘n klas.
Hoewel produsente van ander wêreldlande sou kon meeding, het daar uiteraard slegs Suid-Afrikaners geskou weens die verbod op uitvoere as gevolg van die bek-en-klouseer-uitbreking vroeër vanjaar.
Henk is ‘n gereelde mededinger by skoue. Hy het verlede jaar wel nie so baie meegeding nie, omdat hy ernstig siek was met COVID-19. Hierdie jaar is hy egter gerat om te wys wat in die diere van die Henk Greeff Witdorperstoet steek.
Sy voorbereiding vir ‘n skou begin vier tot ses maande voor die tyd. Deelnemende diere word geselekteer vir die regte eienskappe en dan deurlopend op hok gehou en gevoer. Henk gebruik SS200 van Voermol en vertel dat dit fyn balansering verg, omdat deelnemende diere ook nie te veel gewig moet aansit nie. “Sommige diere se pootgewrigte sak uit onder ‘n swaar gewig en hulle word dan in elk geval gepenaliseer,” verduidelik hy.
Henk meen skoue is ‘n goeie leerskool vir stoettelers en ‘n bewys dat hulle diere aan die nodige standaarde voldoen, maar hy beklemtoon die stres waaronder deelnemende diere dikwels verkeer.
Viertandooie (sowat twee jaar oud) moes al gelam het of sigbaar dragtig wees tydens die skou om die ras se vrugbaarheid te kan beoordeel. Die vervoer van die diere en baie hantering kan egter aborsies tot gevolg hê. “Van die ooie raak ook te vet om te lam en die lammers vrek dan by geboorte weens komplikasies,” voeg hy by. Ramme wat oorvoer word, se lewensduur is ook korter. Enige diere wat vir lang tydperke gevoer word, kan prulfoute ontwikkel.
Twee van Henk se deelnemende ooie was ten tye van die skou dragtig en sou teen Junie lam. Hy jaag deelnemende diere ná afloop van ‘n skou dadelik veld toe sodat hulle oortollige gewig kan afskud.
Agter die skerms
Buiten vir goeie voeding, gaan daar baie werk in die voorbereiding van die dier se voorkoms vir ‘n skou. Hulle word vooraf drie keer in vier maande geskeer. “Lang hare vereis meer energie van voedsel om gesond en blink te bly,” verduidelik Henk. “So deur die hare kort te hou, word die energie in voeding omgeskakel in die nodige spier- en vetkombinasie. Op die dag van die skou mag die hare slegs sowat 1 cm lank wees, sodat beoordelaars die dier se bouvorm en vetverspreiding beter kan sien en voel.”
Hoewe word ook gereeld geknip. Voor die diere na die skou vervoer word, word hulle met Omo-seeppoeier gewas en die hare vertoon hierna spierwit. “Daar mag donker pigment op die vel wees, maar steeds binne die rasstandaard,” verduidelik Henk.
Spesiale jassies word dan vir die diere aangetrek sodat die hare kan skoon bly, en hul koppe en boude word weer die oggend van die skou gewas.
“TRUUKS” OP SKOUDAG
Omdat die diere so lank op hok staan, kan hulle styf vertoon wanneer hulle voor die beoordelaars moet loop. Henk laat daarom sy ramme op die oggend van die skou ‘n entjie loop sodat enige stywe spiere kan ontspan.
Die skape se gereelde hanteerders reis saam na die skou. “‘n Skaap moet sy hanteerder ken. As ‘n vreemde man hom vashou, staan hy nie lekker nie,” sê Henk.
Hierdie hanteerders mag egter nie saam met die diere die ring binnegaan nie. “Beoordelaars ken al die boere se hanteerders en mag daarom bevooroordeeld wees,” verduidelik Henk.
Tog meen Henk dat beoordeling in elk geval tot ‘n mate subjektief is. “Dit gaan beslis oor rasstandaarde, maar elke beoordelaar het op die ou einde sy eie smaak.”
‘n Besonderse ram
Henk het tans 120 groot ooie, wat stoet- en kommersiële diere insluit. Hy het slegs 56 hektaar se somerweiding op Geyerspan in die Grootpan-omgewing beskikbaar en kan dus nie die kudde verder uitbrei nie. Die diere oorwinter op mieliereste.
Sy groot trots is sy ram genaamd Centum, wat ‘n stewige 135 kg weeg – sowat 10 kg swaarder as die gemiddelde gewig van ‘n sestandram. Dit is Centum wat die tweede plek op die wêreldkampioenskappe behaal het. Hy was verlede jaar die reserwekampioen by die skou in Rustenburg.
Sy kuddenommer is 100 en Henk het raakgelees dat Centum die Latyns vir dié getal is. Daar was teen druktyd baie van Centum se lammers “op pad” en Henk kry ook talle navrae oor sy saad. Henk steun tans slegs op natuurlike dekking.
Hy beoog om op 11 Oktober vanjaar aan NWK Retail se gewilde slaglamskou deel te neem, en hy wil graag weer volgende jaar aan die Overvaal en Bosveld Dorperklubs se streekskampioenskappe deelneem. As lid van die Overvaal Dorperklub, wil Henk en ander lede weer Lichtenburg se skou op dreef kry.
Hy het tweelingseuns op hoërskool en hoop om vir hulle ‘n stoetery agter te laat waarmee hulle volhoubaar sal kan voortboer.
Sy raad aan ander telers wat skou, is eenvoudig: “‘n Ou moet ‘n liefde hê vir dit waarmee jy wil skou en kyk vir goeie genetika. Die voeding moet ook reg wees. Jy moet lief wees vir ‘n ding, anders kan jy dit maar los,” glimlag hy.
‘n Beoordelaar se indrukke
JJ Seymore, ‘n bekwame Dorper- en Witdorper-inspekteur en beoordelaar van die Lichtenburg-omgewing, was ‘n ringbeampte by die wêreldkampioenskappe. Hy vertel dat dié onlangse skou “een van die beste skoue” was waar hy as ringbeampte opgetree het. “Die diere was van uitstaande gehalte,” vertel hy.
Daar was al voorheen deelnemers van Namibië en Botswana. “Die res van die wêreld het nog nie vantevore in Suid-Afrika geskou nie en was slegs toeskouers. Daar is bloot te veel protokolle wat gevolg moet word om dit logisties en finansieel haalbaar te maak,” sê JJ.
“Tog het Suid-Afrika dit as ‘n wêreldskou geëien, omdat die Dorper hier geteel en ontwikkel is, spesifiek vir sy vleiseienskappe en gehardheid. Die beste genetika is in Suid-Afrika beskikbaar en Brasilië en Australië se Dorpers word hiervandaan ingevoer.”
Die ideale Dorper moet homself kan onderhou, asook vleis kan produseer en herproduseer tydens abnormale omgewingstoestande. “Dis presies wat die Dorperras so ideaal en spesiaal maak. Die dier kan in die warmste, droogste dele van die land aanpas, asook in die koudste dele van die wêreld, soos Kanada.”
Van die mees algemene prulfoute is onder andere:
- Die pote is pap (dit beïnvloed beweeglikheid).
- Tande pas nie op die bokake nie.
- Die pigment is foutief.
- Siektes soos absesse, omlope of vuilbek kom voor.
“By die kampioenskappe is dit uiteindelik tegniese punte wat die wenner bepaal, omdat die sewe diere wat uiteindelik in die finale rondte kompeteer so naby aan mekaar is. As jy soos Henk ‘n tweede plek behaal, is dit ‘n uitsonderlike prestasie, aangesien slegs eienskappe van ‘n hoë gehalte aan jou ‘n plek verseker. Henk het Centum boonop self uit sy eie kudde geteel,” vertel JJ.