DEEL 2
Die abnormale hoë reënvaltoestande wat die afgelope somerseisoen ervaar is, het veroorsaak dat verskillende kopvrotte weer in die produksiegebiede van Noordwes kop uitgesteek het. Die verskillende kopvrotte word maklik uitgeken aan die swamgroei wat bo-op en tussen die pitte van die kop waargeneem word. Soos met stamvrotte, kan waarneembare verkleuring (wit, groen, pienk of bruin) gekoppel word aan spesifieke swamme wat die kop infekteer.
Die nat, koel en vogtige weerstoestande tydens bestuiwing het voorsiening gemaak vir infeksiepunte, wat ideaal vir die ontwikkeling van verskillende kopvrotte onder mielies was. Wanneer skade só laat in die seisoen voorkom, is die aangetaste plante geneig om vinniger fisiologiese volwassenheid te bereik, maar die koppe se afdrogingstydperk neem egter langer. Hierdie verlengde tydperk van afdroging skep weer op sy beurt voldoende tyd vir swamme om verder binne-in die koppe te versprei en tot groter opbrengsverliese te lei.
Alle swamme wat die koppe kan infekteer, is ook in staat om toksiene te produseer, wat die inname van sulke besmette graan baie skadelik vir mens en dier maak. Gradering van die besmette graan is dus ‘n groot probleem en produsente kan ook nie dié graan vir voerdoeleindes vir hulle vee gebruik nie.
Diplodia-kopvrot
SIMPTOME
‘n Gedeelte van die kop óf die hele kop word verrot deur ‘n digte, wit skimmel wat tussen die pitte en stronkskedes groei. Infeksies begin gewoonlik by die basis van die kop en ontwikkel na die punt toe. Later verander die wit skimmel na ‘n grysbruin groei oor die skutblare en pitte. Klein, swart vrugliggaampies ingebed in die stronkweefsel en pitbasisse is kenmerkend aan Diplodia-kopvrot. Die mieliekop kan in grootte algeheel gekrimp voorkom. Hoewel die voergehalte en smaak verminder kan word, word Diplodia-kopvrot nie met mikotoksiene geassosieer nie.
OORSAAK
Diplodia-kopvrot word deur die swam Stenocarpella maydis veroorsaak. Infeksie kan vanaf die laat vegetatiewe stadium tot drie weke na baardvorming plaasvind. Dit is algemeen in praktyke waar mielies in monokultuur geplant en verminderde bewerking toegepas word. In warm, droë weerstoestande voor baardvorming, gevolg deur nat toestande, sal kopvrot bevoordeel word.
Fusarium-kopvrot
SIMPTOME
Watteagtige, pienkwit miseliumgroei kom tipies individueel of in groepe voor wat lukraak op die kop versprei is. Geïnfekteerde pitte vertoon ‘n starbust-simptoom (wit streepvorming wat vanuit die basis ontspring). Die infeksie word tipies geassosieer met insek- en voëlskade en is dikwels langs stronkboordertonnels sigbaar.
OORSAAK
Fusarium-kopvrot word deur die swam Fusarium verticilioides veroorsaak. Infeksie kan vanaf die laat vegetatiewe stadium tot drie weke ná baardvorming plaasvind. Dit is algemeen in praktyke waar mielies in monokultuur geplant en verminderde bewerking toegepas word.
Dié spesifieke swam oorleef in die grond op oesreste. Warm, nat weerstoestande twee tot drie weke ná baardvorming en insek-, hael- en meganiese beskadiging aan pitte sal Fusarium-kopvrot bevoordeel. Infeksie deur windoordraagbare spore volg gewoonlik nadat skade aan die kop as gevolg van stronkboorders, bolwurms, voëls, ensovoorts aangerig is. Hierdie pitvrot word geassosieer met die mikotoksien Fumonisin.
Gibberella-kopvrot
SIMPTOME
Gibberella word gekenmerk aan pienk tot rooierige skimmel wat by die punt van die kop ontstaan en na die basis toe ontwikkel. Swamgroei ontwikkel tussen die kopskedes en pitte. Oppervlakkige swart spikkels ontwikkel op die kopskede en stele.
Soms kan die pienk verkleuring van pitte by witmieliekultivars met Gibberella-kopvrot verwar word. Die kenmerkende simptoom van die pienk verkleuring van pitte is ‘n algemene ligpienk, oppervlakkige verkleuring van die kop as gevolg van die produksie van die rooi pigment antosianien. Verkleuring is beperk tot die saadhuid en beïnvloed nie die kleur van die meel nadat dit gemaal is nie. Graan kan soms foutiewelik by silo’s en meulens op beide die afwykings afgegradeer word, wat direkte finansiële implikasies tot gevolg het.
OORSAAK
Mielies word deur windoordraagbare spore van die swam Gibberella zeae besmet. Dié spesifieke swam oorleef in die grond op oesreste. Koel, vogtige weerstoestande (gemiddelde daaglikse temperature onder 22°C) en sewe of meer reëndae gedurende die drie-weke-tydperk ná baardvorming sal Gibberella-kopvrot bevoordeel.
Aspergillus
SIMPTOME
Aspergillus is ‘n grysgroen, poeieragtige skimmel wat by die punt van die kop begin of insekspore volg (Sien foto bo). Aspergillus kop- en pitvrot word met mikotoksiene geassosieer.
OORSAAK
Daar is verskeie spesies Aspergillus-swamme. Aspergillus-kopvrot word deur die swam Aspergillus flavus veroorsaak. Die voorkoms van dié swam is baie meer algemeen tydens warm, droë seisoene. Aspergillus groei by temperature hoër as 32°C en graan met ‘n voginhoud van so laag as 15%. Mikotoksiene (aflatoksien) word deur die swam geproduseer.
Algehele bestuur van kopvrot
Mieliekultivars verskil ten opsigte van hulle vatbaarheid vir verskillende kopvrotte. Geïnfekteerde mieliekoppe kan selfs soveel as 35% minder as gesonde koppe weeg. Kultivars waarvan die koppe in ‘n afwaartse posisie afdroog en wat goed met skutblare bedek is, word sterk aanbeveel. Kultivars met uiters stywe skutblare is meer kwesbaar vir skade as kultivars met los skutblare. Die kultivars wat BT-weerstandbiedend is teen die Europese stronkboorder, kan kopvrot voorkom deur besmettings te verhoed wat toegangspunte vir swaminfeksies skep.
Wisselbou en herfsbewerking kan die voorkoms van hierdie siektes verminder deur swamvlakke in die lande te verlaag. Wisselbou met peulgewasse en/of sonneblom sal mieliereste toelaat om af te breek en dus die swam sonder ‘n gasheer laat om op te oorleef, om sodoende inokulum te verminder.
‘n Belangrike konsep wat produsente moet verstaan, is dat kopvrotte stremmingsverwante siektes is. Enige gebeurtenis wat dus verhoed dat ‘n plant doeltreffend fotosinteer, sal dit onder stremming plaas en daartoe lei dat infeksie deur ‘n verskeidenheid patogene makliker vatbaar word. Die rede hiervoor is dat die plant sy groeitydperk verkort as gevolg van die stremming, om sodoende al die beskikbare energie in graanvulling te stoot.
Praktyke wat plantstres verminder, verminder ook die voorkoms van kopvrot. Algemene stremmingstoestande sluit in:
- Hoë stikstofvlakke.
- Lae kaliumvrugbaarheid.
- Hoë vogtoestande in die middel- tot laatseisoen ná ‘n droë seisoen.
- Vogstremming vroeg in die seisoen en tydens graanvulling.
- Hoë voorkoms van blaarsiektes.
Fisiese skade (as gevolg van meganisasie, insekte, hael en voëls) veroorsaak dat die patogeen die mielieplant maklik binnedring en die vatbaarheid vir kopvrot verhoog.
Daar is geen swamdoders beskikbaar vir die beheer van kopvrotte nie. Swam- en onkruiddodertoedienings vir die beheer van blaarsiektes en insekte kan egter voordelig wees om stres op die plant te verminder, om sodoende die vestiging en uiteindelik die intensiteit van kopvrot te verminder.
Gevolgtrekking
Oor die algemeen ontstaan kopvrot by mielies as gevolg van omgewingstoestande en is daar nie veel wat die produsent kan doen om dit te voorkom nie. Plantstremming is egter wel iets wat die produsent tot ‘n mate kan bestuur. Goeie produksiepraktyke wat gewasstres verminder en opbrengste optimaliseer, is die beste manier om hierdie siektes te bestuur.
Bronnelys
Crop Protection Network, 2022. Diplodia stalk rot of corn. https://cropprotectionnetwork.org/encyclopedia/diplodia-stalk-rot-of-corn [20 April 2022]
Farmer’s Weekly, 2017. Dealing with Fusarium ear rot. https://www.farmersweekly.co.za/farming-basics/how-to-crop/dealing-fusarium-ear-rot/.[20 April 2022]
Graan SA, 2012. Maize stalk rots of importance in the current season. https://www.grainsa.co.za/maize-stalk-rots:-of-importance-in-the-current-season#:~:text=Gibberella%20stalk%20rot%20is%20caused,%2C%20rye% 2C%20sorghum%20and%20wheat.&text=Gibberella%20stalk%20rot%20is%20a,and%20also%20in%20South%20Africa [20 April 2022]
Hybrids B, 2014. Possibility of ear rot. Successful farming. https://www.agriculture.com/crops/corn/how-to-avoid-committing-agronomic-sins-this-season [20 April 2022]
Pioneer, 2022. Fusarium stalk rot. https://www.pioneer.com/us/agronomy/fusarium_stalk_rot_cropfocus.html [20 April 2022]
The Ohio State University, 2022. Troubleshooting abnormal corn ears. https://u.osu.edu/mastercorn/diplodia-ear-rot/ [20 April 2022]
In Deel 3 van hierdie reeks, wat in die September/Oktober-uitgawe van NWK Arena gaan verskyn, word aandag geskenk aan stam- en wortelvrot in mielies.