Toe die einste vriend by wie André du Preez COVID-19 aangesteek het hom by die hospitaal aflaai, het André nog vir hom gesê: “Nee man, jy gaan my weer die naweek kom haal. Jy kan sommer oorslaap, sien jou nou-nou.” Min het André geweet dat hy 101 dae in Wilmed Park Privaathospitaal in Klerksdorp sou deurbring – 84 dae hiervan in die intensiewe sorgeenheid en 77 dae aan ’n ventilator gekoppel.
Hy het nog oomblikke voordat hy na die intensiewe sorgeenheid verskuif is, tussen swaar en benoude asemteue deur, vir sy gesin die resep vir ’n lekmengsel vir sy beeste op sy plaas naby Nietverdiend opgesê.
Vandag, bykans agt maande later, is André inderdaad ’n lewende wonderwerk. Sy gesin is vier keer na die hospitaal ontbied omdat hy na verwagting enige oomblik sou sterf, maar hy het keer op keer sy veggees getoon.
Sy verhaal, wat ook op RSG se Agter die masker uitgesaai is, is aangrypend en ‘n wekroep aan almal, maar veral produsente, om hul boerderye só te posisioneer dat dit ‘n lewensveranderende gebeurtenis, soos ernstige siekte, sal oorleef.
Toe COVID-19 tref
André vertel dat hy COVID-19 aanvanklik afgemaak het as griep. Die vriend wat by hom gekuier het, het later daardie aand laat weet dat hy positief getoets het vir dié virussiekte. André se vrou, Wanda, het twee dae later begin simptome toon, en André kort hierna. Hy het op 22 Julie verlede jaar positief getoets en is deur dr Daniel Mans op Lichtenburg behandel, wat hom dadelik in die hospitaal laat opneem het.
Omdat Wanda self siek was, het die betrokke vriend André na Klerksdorp geneem. “Hy self is die Dinsdag in die hospitaal opgeneem en reeds weer die Vrydag ontslaan,” onthou André.
Sy toestand sou egter aanhou versleg en hy is ná twee weke na die intensiewe sorgeenheid verskuif. Hier het André langs ’n sakevrou van Lichtenburg, Lalie Loots, gelê. Skuins oorkant hom was die bekende melkboer, Johan Strydom – albei ernstig siek met COVID.
Besoeke aan pasiënte met COVID word streng beperk. Wanda en Johan se vrou, Elsa, het om die beurt by hulle mans gekuier en dan aan mekaar terugvoer gegee oor hulle vordering. André het daagliks 14 drups met baie sterk medikasie van hoë skedules ontvang. “Daar is elke tweede dag bloed getrek en dan is die medisyne weer verander. COVID is soos ’n skelm wat jou oral aanval,” vertel Wanda.
Die boerdery moet aangaan
André verbou mielies, sojabone, winterkoring en suikerboontjies. Sy beesvertakking bestaan uit Brahmane, Simmentalers, Simbras, Beefmasters en Charolais. Hoewel sy twee seuns, André (27) en Waldo (26), saam met hom boer, was André die hoofbesluitnemer. “Hulle was nog in die leerproses om eendag die boerdery oor te vat. Ons het in daardie stadium ’n maatskappy gestig waarin elkeen ’n derde aandeelhouding sou hê,” vertel André.
Hy was onder sterk verdowing in die intensiewe sorgeenheid en Wanda en die seuns was aan hulle eie lot oorgelaat. “Ek weet nie hoe het ons dit gedoen nie. Dit was nag,” sê Wanda. André voeg by: “Genade van Bo.”
Wanda en die seuns het nommers nagegaan op André se selfoon. Hulle het verkoopsverteenwoordigers van saad en kunsmis gebel om te hoor of hy die vorige jaar by hulle aangekoop het en watter kultivars geplant is. “Ons was só in die diep kant en moes water trap. Toe die koring afkom, het ons somergewasse ingesit en lande bewerk. Ons moes net. Daar was nie ’n pa wat ’n handtekening kon maak nie,” vervolg Wanda.
Dit was ’n spanningsvolle tyd in die Du Preez-huis. “Ons het baie koppe gestamp,” vertel Wanda. “Die seuns sou vir my vra waarom ek iets nie weet nie, waarop ek uit frustrasie sou antwoord dat hulle hom in die intensiewe sorgeenheid moes gaan wakker maak en vra,” glimlag sy.
Die egpaar het ook ’n dogter, Wané, wat optometrie by die Universiteit van die Vrystaat studeer. Wanda moes ook vir haar sterk staan.
André voeg by dat hulle in hierdie tyd hul ware vriende leer ken het. Hy vertel hy het ’n kalmte oor hom gehad en geweet die boerdery is in goeie hande.
Seuns word manne
Waldo sê dat hy en André junior ook aanvanklik gedink het dat hulle pa sommer binnekort uit die hospitaal ontslaan sou word. “Ons het aangegaan en die gewone werk gedoen. Ná twee weke toe hy na die intensiewe sorgeenheid gaan en ons besef dis ernstig, toe begin ons wakker skrik en besef: Die bal is in óns hande.
“God se hand was heeltyd oor ons. Ons het boere gehad wat saamgestaan het en gesê het as ons enige hulp kort, hulle het die kennis. Ons gif-rep het ingespring, ons saad-rep, ons grondkundige…” vertel Waldo.
Skielik het besluite ter waarde van miljoene rande op hulle skouers gerus. Hulle het geen tekenregte gehad nie en het dus slegs dit wat in die bankrekenings was tot hul beskikking gehad. Daar is in hierdie tyd ook opgebergde graan verkoop. “Jy kan nie meer net uitgee nie en moet vooraf beplan vir dieselaankope, saad en kunsmis.” Hulle grondkundige het hulle bygestaan met ’n kostebepaling van kunsmis en raad gegee oor die spilpunte en topbemesting.
André junior voeg by: “Ons kon hom nie bel om te vra ‘Wat nou?’ nie. Daar was niks beplan nie. Ek en Waldo het toe besluit dat saad en kunsmis sy (Waldo se) afdeling sou wees. Ek moes die spilpunte regkry, pivets moes loop, trekkers, landevoorbereiding, planters, al daardie goed moes gedoen word.”
Die broers het saam besluit oor watter kultivars hulle wáár sou plant en wat die plantestand moes wees, geskoei op die grondgehalte en waterbeskikbaarheid. Dit was vir André junior moeilik om op sy werk te fokus omdat sy gedagtes deurlopend by sy pa in die hospitaal was.
“Met die koring het alles só uitgewerk: Twee van my vriende van Amerika het ons kom help en ons het die plaas op ons eie bestuur. Dit was onwerklik. Ek het afgeklim van een planter af, oor op die ander planter,” vertel Waldo.
Dit was uitdagend. “Toe is dit Desember en die koring moet afkom. Eendag het ek lekker hartseer en geïrriteerd geraak, want my pa het nie gesond geword nie en watter kant toe nou? Toe sê een ou vir my: ‘Jy moet jou grootmensbroekie aantrek, want daar is nie nou tyd om te huil nie. As jy nou gaan huil, gaan jy alles verloor.’”
André junior vertel van een van die vier kere wat die hospitaal die gesin ontbied het. “Ek was op die verste plaas. Ek het nét daar gestop, uitgeklim en die land ingestap. Ek het op my knieë geval en gebid. Ek het regtig hard gebid. Dit was ’n oop land. Ek het die Here gevra waarom ons hierdie stryd moet deurgaan en veg. Hoekom voel dit of ons klippe dra, oor heuwels, kaalvoet?”
Hy het die Here gevra vir ’n teken dat Hy by hulle was. “Daar was ’n doodse stilte en ewe skielik het daar ’n sterk dwarrelwind uit die bloute gekom en om my gedraai. Ek het Sy teenwoordigheid gevoel en Hy het gesê: ‘Alles sal okay wees, solank ons in Hom glo en Hom vertrou.’” Hy raak emosioneel as hy vervolg: “Hier sit ons vandag. Ons kan nie vir beter vra nie. My pa is hier by ons.”
Waldo erken hulle het vinnig hard en in ’n oogwink méns geword. Hy sien ook God se hand in die feit dat sy pa hom sowat ’n maand vóór sy hospitaalop name aangesê het om by hom te sit en te kyk hoe hy lone op grond van die “klokstelsel” uitwerk. Waldo kon toe ook dié belangrike taak verrig toe sy pa nie kon nie.
“Vir die eerste keer het ek besef waarom lê ’n boer wakker as dit reën in koringtyd. Dan lê jy wakker en hoop dis reëndruppels wat val en nie hael nie.”
’n Stryd om lewe en dood
Die dae wat André in die hospitaal deurgebring het, het weke geword – en die weke maande. Hy is vir die eerste keer ná sowat drie weke onder swaar verdowing weer bygebring en het nie geweet waar hy was nie. “Hy word wakker en hoor dit is Augustus, dan slaap hy weer vir weke. Dan weer… dan is dit al September,” sê Wanda. André voeg by: “Ek het genuine glad nie tred gehou met tyd nie.”
Johan Strydom is intussen oorlede en Wanda het besluit om André nie daarvan te vertel nie. Hy kon egter aan kommunikasie tussen die verpleegpersoneel aflei dat Johan sy stryd teen COVID-19 verloor het. “Dit is ’n skok. Dadelik wonder jy wanneer is dit jou beurt? Ek het baie keer met YHWH (Yahweh) gepraat en gesê: ‘Kom haal my. Waarom moet ek hierdie geveg deurgaan? Jy kom haal vir Johan.’ Dis nie lekker nie. Jy sit maar die heeltyd en wonder, as jy vanaand aan die slaap raak, gaan jy môreoggend wakker word?” vertel André.
Hy het vreemde drome gehad. Twee van hulle was van hom in ’n bloedrooi vertrek waarin ’n doodse stilte geheers het. André sou dan vir God vra of hy op pad hel toe was of in die dal van die doodskaduwee. “Dan ruk Hy my daaruit en ek sien my twee seuns en die verpleegsusters huil en rondhardloop terwyl hulle sê: ‘Hy is terug, hy is terug.’”
Wanda en die seuns is op 8 Oktober vir die vierde keer haastig na Wilmed Park ontbied. André was op die sterkste dosis medikasie en daar was medies gesproke niks meer wat hulle vir hom kon doen nie. Die suster het aan Wanda gesê dat André só diep verdoof was dat hy haar nie sou kon hoor nie.
Nietemin het ’n stem, wat sy glo dié van die Heilige Gees was, aan haar gesê om met André te praat. Sy het afgesak en in sy oor gefluister. André onthou haar woorde: “Veg vir my en die kinders.” Toe Wanda opkom, het André ’n roggelgeluid gemaak. Wéér het sy afgebuk en met hom gepraat en wéér het André dié reaksie getoon.
Dit was ’n wipwarit. Die dokters het gesukkel om André van die ventilator te speen en hy het boonop ernstige infeksies soos sepsis en Candida opgedoen. Hy is uiteindelik uit die intensiewe sorgeenheid na ’n gewone saal oorgeplaas, waar hy nog tien dae sou spandeer voordat hy op 4 November ontslaan is – betyds vir sy 52ste verjaardag op 14 November.
Herstelpad is nog lank
Toe die tragea uiteindelik uit André se keel verwyder is en sy herstelpad begin het, sou hy en Wanda vinnig besef dat dit ’n steil een sou wees. André het 30 kg verloor, grootliks spiermassa, en was uiters swak. Sy balans was aangetas en hy kon byvoorbeeld nie ’n lepel by sy mond uitbring om te eet nie. As sy kop gejeuk het en hy sy hand sou optel om dit te krap, sou dit op ’n heel ander plek as die jeukplek uitkom.
Hy het met intensiewe fisio- en arbeidsterapie begin, wat by sy huis op Grootpan voortgesit is. Hy is die eerste aand terug by die huis met die suurstofbottels “en al” die stort in om te was – ’n oefening wat ’n volle 90 minute sou duur.
Vandag kan André nog net kort entjies stap voordat hy uitasem raak en as hy lang gesprekke voer, benodig hy dikwels hierna ook suurstof. Skanderings wys dat André se hart vergroot is en hy fibrose op die longe het. Sy gehoor is ook aangetas en sy stembande is beskadig. Medici reken dat, vir elke dag wat ’n pasiënt in die intensiewe sorgeenheid deurbring, dit hulle sowat ’n week neem om te herstel.
André is daarom hoopvol dat hy in die komende maande nog grootliks sal herstel. “Voor ek siek geword het, het ek altyd vir die Here gesê ek wil rustiger raak – ek het twee seuns, ek het my vrou afgeskeep. Ek wil kalm raak en ek wil gewig verloor. Toe gee Hy vir my albei,” lag hy.
“Vir nou se boer… ja, my kragte is nie daar nie.” Wanda voeg by dat dit vir die hele gesin ’n aanpassing is. “Dit is ’n breinding vir ons almal. Vir die kinders ook. Soms raak hulle geïrriteerd omdat hul pa nie meer is soos hy was nie. Dis realiteite waaraan ons almal gewoond moet raak.
“Toe ons see toe gegaan het, kon hy nie van die kar af strand toe loop en terug nie, dan was hy doodmoeg. Dis vermoeiend om hom daar te kry.”
André erken dat hy die boerdery vinniger aan sy seuns oorgegee het as wat hy sou wou. “Baie boere sukkel daarmee en boer tot hulle 80 jaar oud is, maar as ons sien hoe goed hulle aangaan, weet ons hulle sal okay wees. Ons is nog te jonk vir aftree, maar ek moet dit rustiger vat. Ek sal daar wees vir die seuns en help waar ek kan. Ek is steeds deel van die besluitneming.
“Ek is dankbaar vir my seuns en wat hulle reggekry het. Die oes wat hulle ingesit het… Ek het al gedink hulle is beter boere as ek. Die kragte is min, maar ons sal dit doen. Ek lewe. Ek is dankbaar daaroor.”
’n Lewende getuienis
“Vriende het na my gekom en gesê dat hulle nooit ’n gesprek met God gehad het nie, maar vandat ek in die hospitaal was, het hulle 03:00 soggens vir my gebid, asook vir hulself en hul boerderye.
“As ek in die hospitaal moes lê vir één mens om ’n beter verhouding met God te hê, dan is ek happy. Dan weet ek ten minste ek het iemand nader gebring aan Hom.
“Ek het een keer duidelik Sy stem gehoor: ‘Wag.’ Waarvoor weet ek nie. My tyd en Sy tyd is nie dieselfde nie. Hy sal vir my ’n doel hê. Ek moet ’n getuienis gaan lewer aan mense daarbuite: Daar lewe ’n God, YHWH en COVID-19 is nie ’n foefie nie.”
Betrek die gesin by jou boerdery
Wanda is dankbaar dat sy toegang tot die boerdery se bankprofiel gehad het en die nodige betalings kon maak. “As ek nie die seuns gehad het nie, sou ek dadelik die lande verhuur het,” voeg sy by.
André se raad aan produsente is: “Al is jy hóé kwaad vir jou vrou, deel met haar die pin van jou bankrekening. Deel met haar die belangrikheid van jou boerdery, waar jou goed staan, waar die testament is. Deel jou boerderybelange met jou vrou,” beklemtoon André.
Hy vervolg: “Ek het besef dis nodig. Die Heilige Gees het vir Wanda gesê om daardie goed bymekaar te maak. Ons het elke kind se besonderhede in ’n boekie in ’n kluis. Jy weet nie wat môre met jou gaan gebeur nie, of met jou seun of vrou, maar ek het die pins om daarna iets te doen.
“Laat jou gesin betrokke wees by jou boerdery. Al is jou seun maar vyf jaar oud, vertel hom van die boerdery. Môre is hy twaalf en sal hy onthou.”
Klik op die skakel om na die RSG-onderhoud met André te luister: https://omny.fm/shows/rsg-dokument-r/agter-die-masker-deel-2-deur-est-de-klerk