Vir die meeste mense is ’n voertuig ’n onmisbare deel van hul lewens. Santam Versekering het bevind dat gemiddeld 70% van alle voertuie op die paaie nie verseker is nie. Dit maak verhaling moeiliker omdat ’n suksesvolle eis grootliks afhang van die bestuurder se finansiële vermoë om sodanige skadevergoeding te betaal. Maak dus seker jou voertuigversekering is voldoende.
As dit kom by voertuigversekering, is dit altyd beter om soveel moontlik inligting deur te gee – openbaar eerder te veel as te min. Al die inligting word gebruik om jou risiko en premie te bepaal. Die nie-openbaarmaking van inligting kan tot die repudiëring van ’n eis lei.
Voertuigpremies
Die volgende punte word in aanmerking geneem wanneer voertuigpremies bepaal word:
DIE VOERTUIG
Tipe voertuig: Sommige voertuie is ’n baie hoë risiko vir diefstal en kaping. Hierdie voertuie sal ’n hoër premie hê en bykomende bybetalings of -sekuriteit kan vereis word.
Onderdele: Die beskikbaarheid van onderdele is steeds ’n wesenlike probleem weens COVID-19 en die opstande in KwaZulu-Natal. Sommige voertuie se onderdele moet ingevoer word of is baie duur. As só ’n voertuig gekoop word, moet die eienaar voorbereid wees daarop dat die herstelwerk langer kan neem weens die beskikbaarheid van die onderdele. Baie duur onderdele het ’n hoër eisekoste tot gevolg. Dit kan jou eisegeskiedenis beïnvloed en jou premie kan verhoog. ’n Paneelklopper in jou omgewing kan dalk ’n goeie aanduiding gee van onderdele se beskikbaarheid en pryse.
Kleur van die voertuig: Gekleurde voertuie en voertuie met metaalverf se premies is duurder as dié van gewone wit voertuie. Metaalverf kan die hersteltyd beïnvloed omdat paneelkloppers moet seker maak dat die kleur ooreenstem met die res van die voertuig s’n. Dit verhoog die eisekoste. ’n Verdere punt vir oorweging is die sigbaarheid van voertuie op die paaie – ’n grys, silwer of swart voertuig is moeiliker om te sien.
Opsporingstelsel: Sommige versekeraars vereis ’n opsporingstelsel as ’n voertuig bo ’n sekere waarde is óf as dit ’n hoë risiko is. Korting word meestal deur die versekeraars toegestaan as ’n kliënt op eie inisiatief ’n opsporingstelsel geïnstalleer het, maar die korting is deesdae relatief min. Dit hou wel die voordeel in dat die voertuig nagespoor kan word in geval van kaping of diefstal. Die kans dat dit teruggevind kan word, is goed en sodoende pas die kliënt self risikobestuur toe.
Gebruik van die voertuig:
- Privaat gebruik: Normale gebruik is kerk toe, werk toe en winkels toe.
- Besigheidsgebruik: Dit is wanneer die voertuig gebruik word om ook kliënte te besoek. Die premie is dan duurder. Dis belangrik om te onthou dat ’n voertuig wat op ’n persoonlike polis verseker is, nie goedere vir ’n sake-onderneming mag vervoer nie. Dit word as besigheidsgebruik geag en die voertuig moet dan op ’n kommersiële polis verseker word. Dit gaan nie net oor die goedere nie, maar ook oor die aanspreeklikheid.
- Boerderygebruik: Wanneer die voertuig in die boerdery en vir die boerdery gebruik word. Onthou dat ’n voertuig wat op ’n persoonlike polis verseker is, nie goedere vir boerderydoeleindes mag vervoer nie. Dié voertuig moet op ’n agri-polis verseker word. Die aanspreeklikheid van die gebruik speel hier ook ’n rol, byvoorbeeld vir die vervoer van onder andere werknemers.
ADRES
Adres deur die dag: Sekere kliënte se voertuie staan by hul werksplek onder ’n afdak agter hekke met wagte, terwyl ander se voertuie in die straat staan.
Oornagadres: Die omgewing waar die voertuig oornag en die sekuriteit by dié adres is belangrik. ’n Persoon wat in ’n sekuriteitskompleks met ’n elektroniese motorhuis woon, se risiko is minder as een wat op ’n plaas woon waar die voertuig onder ’n afdak staan. Tuisteskeppers en pensioenarisse se voertuie staan gewoonlik deur die dag by dieselfde adres as die oornagadres.
DIE EIENAAR/BESTUURDER
Huwelikstatus: ’n Persoon se huwelikstatus word in berekening gebring om die risiko van ’n kliënt te bepaal. Getroude persone se premies kan goedkoper wees – afhangende van hul eisegeskiedenis.
Beroep: Die risiko vir eise van ’n persoon wat in ’n kantoor werk, ’n pensioenaris of ’n tuisteskepper is, verskil wesenlik van byvoorbeeld dié van ’n student of ’n persoon wat meer moet rondry.
Bestuurder: Die bestuurder van die voertuig het die grootste invloed op die premie. Die volgende punte is van belang en het ’n invloed op die premie en dekking:
- ’n Persoon wat onder 25 jaar oud is se risiko vir ’n ongeluk is baie meer as iemand wat 47 jaar oud is.
- Iemand wat sy lisensie minder as twee jaar het se risiko is meer as iemand wat al vir 20 jaar bestuur.
- Dit is altyd belangrik om te openbaar as die versekerde se kind die voertuig bestuur. Dit verhoog dalk die premies, maar op die eisestadium kan dit probleme veroorsaak indien dit nie genoteer en die tariewe reg uitgewerk is nie. Die voordeel van laasgenoemde is dat die kind reeds ’n geskiedenis as bestuurder opbou, wat ’n positiewe invloed op sy/haar premie het indien hulle later hul eie versekering moet uitneem.
Daar is wel ’n verskil tussen ’n gereelde bestuurder en ’n genomineerde bestuurder.
- Met ’n genomineerde bestuurder word ’n bestuurder genomineer wat die voertuig alleen bestuur. Hiervoor word ’n kortingsvoordeel toegestaan. Dit kan egter ook probleme skep wanneer ’n noodgeval ontstaan. Indien enigiemand anders die voertuig dan bestuur, kan die eis afgekeur word.
- ’n Gereelde bestuurder verwys na die persoon wat die voertuig die meeste van die tyd bestuur. Dit beteken dat enige persoon met ’n geldige rybewys die voertuig met toestemming of in ’n noodgeval mag bestuur, maar die mees gereelde bestuurder van die voertuig word genoteer.
Lisensiekode: Maak seker dat jy die regte lisensiekode het vir dit wat jy met die voertuig wil doen, byvoorbeeld iemand met ’n kode B-lisensie mag nie ’n woonwa of groot waentjie sleep nie. ’n Verkeerde lisensie kan die weiering van ’n eis tot gevolg hê. Dis makliker om aansoek te doen vir ’n C1-lisensie, want dan word parkering nie beoordeel nie. Daar is versekeraars wat die voertuigpremie as gevolg van ’n C1-kode belaai of bykomende bybetalings daarstel.
Kilometers per maand: Sommige versekeraars het nou dié voordeel wat jy op jou persoonlike polis kan neem as jy nie baie kilometers ry nie. As ’n versekerde byvoorbeeld minder as 5 000 km, 10 000 km of 15 000 km per jaar ry, kan die voertuigpremie verminder. Daar is wel ’n vereiste dat die kilometerlesing jaarliks deurgegee moet word.
ANDER PUNTE
Huurkoop: Dit is belangrik om die huurkoopeienaar/bank se belange op die polis te noteer. Die meeste huurkoopeienaars/banke vereis ’n jaarlikse bevestiging van dekking om te bewys dat die voertuig nog omvattend verseker is. Indien dekking nie bewys kan word nie, word die versekering as deel van jou huurkoop hanteer, wat jou paaiement verhoog.
Krediettekort met of sonder reswaarde:
- Gewone krediettekort: Dit is belangrik om jou makelaar in kennis te stel van die totale uitstaande skuld op jou voertuig. Voertuie word teen hul herverkoopwaarde verseker. As jou uitstaande voertuigskuld by die huurkoopeienaar meer is as die versekerde bedrag op jou polis, sal jy persoonlik aanspreeklik gehou word vir die verskil.
- Krediettekort met reswaarde of ’n ballonbetaling: Baie kliënte is nie daarvan bewus dat hulle ’n reswaarde op hul finansieringkontrak het nie. Maak dus seker dat daar nie ’n reswaarde volgens die kontrak is nie. Sommige versekeraars versoek die bedrag van die reswaarde, terwyl ander die persentasie benodig. Om dié dekking te geniet, moet dit spesifiek op die polis genoteer word.
Motorhuur: Hierdie is ’n belangrike punt om in ag te neem as jy versekering uitneem. Jy dink dalk jy het genoeg voertuie en sal oor die weg kan kom as een van die voertuie moet ingaan vir herstelwerk. Maar wat gebeur as daar tydens ’n vakansie ’n ongeluk plaasvind? Hoe kom ’n mens by die huis? Indien twee voertuie gelyk by die paneelklopper staan, hoe dan gemaak? Ongelukkig raak die hersteltyd langer weens die skaarste van onderdele. Daar is verskillende opsies beskikbaar van kleiner motors tot die SUV-tipe. Die motorhuurpremie hang af van die motorgroep wat gekies word.
Slaggat- en banddekking: Die meeste versekeraars sluit hierdie dekking uit as net ’n band beskadig is. Sommige van die versekeraars bied die opsie om dekking te koop teen ’n bykomende premie, maar kliënte moet daarvoor vra.
BYBETALINGS
Daar is baie opsies beskikbaar as dit by bybetalings kom. Sommige van die versekerdes verkies om ’n bybetaling af te koop. Deur maandeliks ’n bietjie hoër premie te betaal, het die versekerde dan geen bybetaling ten tyde van ’n eis nie. Ander versekerdes verkies weer ’n hoër bybetaling om sodoende ’n laer maandelikse premie te betaal. Die besluit berus by die kliënt.
Ten slotte
Goeie advies is baie belangrik vir voertuigversekering en gesien in die lig van bogenoemde is dit te verstane waarom daar eise is wat gerepudieer word of waarom kliënte slegte eise-ervarings deurgaan. Elke vraag wat gevra word, beïnvloed die premie en bepaal ook die risiko.
NWK & IP Makelaars is beskikbaar vir enige kwotasies en advies. Kontak jou makelaar vir meer inligting en opsies.
Kontak gerus NWK & IP Makelaars indien jy meer wil uitvind oor die lisensiekodes en die gebruik daarvan.