Goeie landboukundige praktyke is belangrik om suksesvol te boer. Die span van NWK Landboubestuursdienste is altyd gewillig om produsente by te staan om optimaal te boer.
In hierdie uitgawe gee Martiens du Plessis (bestuurder: landboustelsels en -projekte) riglyne oor grondvogbestuur en bemesting. Pieter le Roux (senior veekundige) deel soos altyd wenke oor weidingsbestuur en dieregesondheid.
Akkerboupraktyke
GRONDVOGBESTUUR
- Die vorige seisoen, wat relatief nat was en oor die algemeen met redelike nat grondprofiele geëindig het, skep ’n gunstige wegspringplek vir die nuwe seisoen. Die voorspellings vir die nuwe seisoen is gunstig, wat die produksievooruitsigte baie positief maak. Produsente moet die beste maak van hierdie geleentheid.
- Alle reënval, insluitende hoë-intensiteit donderbuie, moet doeltreffend in die grond gestoor word. Hou die bogrond ontvanklik vir reënwater sodat dit vinnig kan infiltreer. Dit kan gedoen word deur oppervlakkorse gereeld op te breek, oesreste op die grondoppervlakte te hou en verdigte lae op te hef sodat die water vinnig na die ondergrond kan dreineer.
PLANT OP ’N SKOON SAADBED
- ’n Onkruidvrye saadbed is ononderhandelbaar. Onkruid is sterk kompeteerders, wat veral gewassaailinge se aanvanklike ontwikkeling ernstig onderdruk.
- ’n Wye verskeidenheid onkruide skei ook remstowwe af, wat die gewasse se ontwikkeling inperk. Indien onkruid doeltreffend beheer word, sal al die water en plantvoedingstowwe uitsluitlik vir die gewasse beskikbaar wees.
MOENIE OP BEMESTING BESPAAR NIE
- Kunsmispryse het sedert verlede jaar geweldig gestyg. Al wil ’n mens spaar, is bemesting nie die plek om te spaar nie.
- Hou by die geskikte bemestingspraktyke vir die grond en seisoen se potensiaal. Inteendeel, hou die seisoen dop en gee dalk eerder ’n bietjie ekstra kunsmis. Voldoende grondvog, doeltreffende bewerking, goeie bemesting en doeltreffende onkruidbeheer is steeds die belangrikste aspekte wat tot ’n optimale oesopbrengs lei.
Dieregesondheid en bestuur
BEESTE
- Indien dit betyds gereën het en daar volop groen weiding beskikbaar is, kan beeskuddes nou voluit somerlek (P6 of P12 om die helfte gemeng met sout) ontvang.
- Bulle moet gereed wees vir die komende dekseisoen. Toetsing vir vrugbaarheid, trichomoniase en vibriose moet afgehandel wees of dringend gedoen word.
- Laat dek die verse ’n maand voor die koeie om hulle ’n ekstra maand te kan gun om ná kalwing te herstel, met die oog op goeie herkonsepsie met hul tweede dekking.
- Help koeie en veral verse deur goeie voedingsbestuur om teen dektyd op ’n kondisiepunt van 3,5 uit 5 te wees.
- Behandel die kudde voor die dekseisoen teen inwendige parasiete. Dip gereeld waar nodig.
- Inentings teen beesvirusdiarree (BVD), Slenkdalkoors, knopvelsiekte en drie-dae-stywesiekte moet ook voor dektyd gedoen word.
- Onthoring kalwers in Desember. Wees waaksaam vir brommeraanvalle en behandel betyds.
SKAPE
RAMME
- Alle bestuursaksies by die ramme moet minstens agt weke voor paring afgehandel wees. Ent die ramme met lewendige entstowwe teen bloutong, Slenkdalkoors en so meer sodra hulle by die ooie uitgehaal word. Handel hierdie aksies minstens agt weke voor die volgende paring af.
- Ramme moet gereed wees vir die komende dekseisoen en gemaklik 3 km in 30 minute kan aflê.
- Doseer elke ram in die laaste vier weke voor paring een keer per week met 20 ml koringkiem.
- Knip die ramme se hoewe sodat hulle sonder moeite kan loop en dek.
OOIE
- Ooie wat nou gepaar word, moet in kondisie toeneem om goed ram te vat. Begin met prikkelvoeding vanaf 14 tot 21 dae voordat die ramme bykom tot 21 dae ná die ramme bygesit is.
- Koggel die ooie net vir nege dae en sit dan die ramme by. Koggelramme werk baie goed hierdie tyd van die jaar om die ooie op hitte te kry, maar 14 dae is te lank, want dan sal die vrugbaarste ooie reeds weer van hitte af wees.
- Mikskeer ooie wat gepaar gaan word indien hulle meer as ses maande se wolgroei het.
- Ent ooie teen ensoötiese aborsie ses weke voor paring. Ooie moet ook voor paring met ’n kombinasie-entstof teen bloednier en Pasteurella ingeënt word.
- Neem en ontleed mismonsters om die nodigheid van ’n dosering breëspektrum wurmmiddel te bevestig. Doseer indien nodig.
- As die ooie lanklaas groen weiding gehad het, sal hulle goed reageer op die aanvulling van vitamien A en minerale (inspuitbaar of dosering).
- Ooie met September/Oktober-lammers moet ondersoek word vir vuil spene en vir uitskot gemerk word (veral indien dit die tweede keer is) indien hulle nie ’n lam by hulle het nie. Foutiewe spene of swere in uiers kan ook redes wees waarom hulle nie ’n lam het nie.
- Ooie wat vroeër as Oktober/November gepaar is en binne die volgende ses weke gaan lam, moet teen Pasteurella, bloednier, blou-uier, rooiderm en bloedderm (indien dit in die omgewing voorkom) geënt word. Verder moet hulle teen inwendige parasiete ingespuit word en teen neuswurm gedoseer word. Doseer ook met minerale en maak seker dat hierdie ooie nie kondisie verloor nie, veral die meerling- en tweetandooie.
- Neuswurm is baie aktief van November tot Januarie, en dit word aanbeveel om hierdie dosering ook te doen. Dit is belangrik om nie dragtige ooie met lewendige entstowwe teen bloutong en Slenkdalkoors in te spuit nie. Dit kan aborsies veroorsaak.