Ek sit hierdie stukkie en skryf te midde van nog ’n rondte kragonderbrekings. Ons gebied het sedert vroegoggend nie elektrisiteit nie omdat die infrastruktuur nie ’n ligte reënbui of twee kon deurstaan nie. Daar is terselfdertyd ook weer ’n geskeduleerde onderbreking weens die diensverskaffer se onvermoë om deurlopend krag aan sy gebruikers te voorsien.
Dit is ironies dat ’n verskaffer sy gebruikers soebat om tog net nie sy produk te gebruik nie… Dis ’n geskarrel om die diere se krippe vol te kry te midde van die uitmergelende hitte van die laaste tyd. Moeilike tye om enige onderneming aan die gang te hou as dit so gaan.
Sowat ’n week gelede ontvang ek die volgende wysheid van ’n vriend af: As we grow older, real beauty travels from the face to the heart, appeal turns to charm, hurt to wisdom and great moments to shared memories. The true beauty of life is not how happy you are now, but how happy others are because of you (Skrywer onbekend).
Ek swets weer ’n keer as die krag vir die soveelste keer afgaan en ek ’n werksdokument op die rekenaar moet herwin omdat ek dit nie betyds weer ge-save het nie. Dis voldoende rede om sommer erg negatief te raak. Dan onthou ek hierdie wyse woorde en kyk dit gou weer op. Opnuut word ek tussen die oë getref met die realiteit dat ons tot ’n baie groot mate vir ons eie geluk verantwoordelik is, asook vir die geluk van die mense rondom ons.
Alles gaan oor keuses. Ons kies om negatief of positief te wees. Dis ook ons keuse of ons deel wil wees van afbrekende gesprekke en of ons in ware wysheid ons eie lewens opbouend wil rig, en ’n betekenisvolle bydrae wil lewer in ander mense se lewens wat dit dalk broodnodig het.
Ek het ’n aantal jare gelede ’n kursus bygewoon waarin die aanbieder met groot erns verduidelik het hoe ’n mens vir jouself lewensdoelwitte moet saamstel en die bereiking daarvan dan deurlopend moet visualiseer, en aan jouself moet bevestig hoe dit gedoen gaan word. Hy het ook groot gewag gemaak daarvan dat ’n doelwit nie die eindpunt mag wees nie, maar dat ’n mens deur die doelwit moet kyk na wat daarna bereik gaan word. Indien jy dit nie doen nie, is dit die einde van die pad.
Só sit ek in hierdie tye en beplan aan die nuwe plantseisoen wat voor die deur lê. Die proses is redelik eenvoudig – stel ’n produksiebeplanning met opbrengsmikpunte saam, kry die insette se pryse, bepaal die insetkoste per hektaar, kyk of die marge bo produksiekoste sin maak en maak seker dat die begroting klop.
Ek is dadelik angstig wanneer ek die geweldige stygings in die pryse van kunsmis, elektrisiteit, brandstof en chemiese produkte bekyk. Hoe op aarde moet ’n produsent bybly om volhoubaar te boer met hierdie prystendense? Dit lyk nie asof die oorlog gou verby gaan wees nie en dit plaas uiterste druk op die pryse van sekere grondstowwe. Dit lyk ook nie asof die brandstofpryse weer na meer bekostigbare vlakke gaan beweeg nie.
Die plaaslike ekonomie hou ook nie veel belofte in nie en die land gaan swaar gebuk onder ondoeltreffendheid, wat vir ’n buitelander (en ook vir die meeste van ons) onbegryplik is. Dis op hierdie punt wat ’n ligte sweet op die vel uitslaan en ’n mens in amperse desperaatheid met die hand in die hare laat sit voordat ’n totale hooploosheid oor jou spoel.
Dan onthou ek skielik weer die woorde van die kursusaanbieder waarna ek hierbo verwys het. Kry tussentydse doelwitte, beplan hoe jy daardeur gaan werk en hoe jy uiteindelik jou droom gaan bereik. Daar is verseker heelwat uitdagings op die tafel vir die komende produksieseisoen, maar daar was ook voorheen soortgelyke uitdagings. Ons het ook daardeur gekom deur nie vas te kyk teen die lae hekkies wat nou onmiddellik voorlê nie. En dan moet ons beslis ook nie vergeet van die wyse woorde hierbo, wat ons aanspoor om ’n verskil te maak in die lewens van die mense rondom ons, nie.