Produsente moenie ultrahoëdrukstrookbeweiding (UHDSB) met oorbeweiding verwar nie. Met laasgenoemde kom die dier eers oor ‘n jaar weer op ‘n stuk kaalgevrete veld en het dit kans gehad om behoorlik te herstel. Voorts vreet diere nie selektief nie en die veld word ten volle benut.
Dit is enkele van die voordele van dié praktyk wat Pieter le Roux, hoof diere- en weidingswetenskaplike by NWK, by Klippan se jaarlikse vee-inligtingsdag op 22 Februarie uitgewys het.
Die geleentheid is op Jaco du Preez se plaas aangebied en ook deur Michael van Rooyen (landbou-ekonoom en bestuurder van Adviesdienste by NWK) en dr Shaun Morris (‘n veearts verbonde aan Octavoscene) toegelig.
UHDSB
VERHOOGDE PRODUKSIE PER HEKTAAR
Die doelwit met UHDSB is verhoogde produksie per hektaar, nie verhoogde produksie per dier nie.
Pieter het eerstens ‘n paar begrippe omskryf voordat hy die voordele van UHDSB uitgewys het.
Hy het weidingskapasiteit verduidelik as die beweibare gedeelte van ‘n homogene plantegroei-eenheid (gras en blare), uitgedruk in terme van die area benodig om een vee-eenheid oor ‘n lang periode te onderhou, sonder dat die plantegroei of grond agteruit gaan.
‘n Vee-eenheid is egter nie eenvoudig net ‘n bees nie. ‘n Grootvee-eenheid (GVE) word omskryf as die ekwivalent van ‘n 450 kg-os wat 500 g/dag in gewig toeneem op weiding met 55% verteerbare energie. Die os se metaboliseerbare energie- (ME) behoefte is 75 megajoule (MJ) per dag of ongeveer 10 kg droëmateriaal (DM) per dag.
‘n Koei van 550 kg is ongeveer die ekwivalent van 1,2 GVE (12 kg to 13 kg DM/d) en dieselfde koei met ‘n kalf is ongeveer 1,6 GVE (15 kg tot 16 kg DM/d).
Drakrag van ‘n veld is die langtermyn potensiaal van ‘n gebied om vee te dra in terme van beskikbare veldweiding en/of bos/struike en/of geproduseerde ruvoer, sonder dat die totale ekostelsel agteruitgaan.
Byvoorbeeld, die drakrag van ‘n 600 ha plaas is 100 GVE of van die 60 ha kamp is 10 GVE. Dit impliseer normaalweg ‘n minimum tydperk van ‘n jaar.
Veebelading is die aantal vee-eenhede wat die bestuurder aan enige voerbron in die voerstelsel oor ‘n spesifieke tydperk toeken. Byvoorbeeld, die veebelading op oesreste is 50 GVE op 100 ha vir twee maande.
Oorbeweiding kom voor wanneer die drakrag of weidingskapasiteit van ‘n gebied oorskry word. Dit behels dus te veel diere vir ‘n gegewe gebied oor ‘n verlengde periode of om die stuk veld by herhaling te belaai. Die netto effek is dat hergroei te vroeg weer deur die dier benut word. Dit benadeel die bedekking, spesiesamestelling en groeikrag van die weiding.
UHDSB is die aanwending of toepassing van ‘n ultrahoë veelading (enige tipe herbivoor) oor ‘n baie kort weiperiode. Met ander woorde, dit is wanneer diere teen ‘n baie hoë veelading vir ‘n baie kort tyd op ‘n gegewe oppervlakte wei voordat hulle geskuif word en behels ‘n veelading van tot 700 GVE/ha/dag.
VOORDELE VAN UHDSB
- Selektiewe benutting van veld word uitgeskakel deurdat die dier alle spesies benut danksy sterk kompetisie met ander diere.
- Die hoef-aksie asook ‘n hoë konsentrasie mis en urine skep ‘n gunstige mikroklimaat vir vogindringing en ontkieming van saad (deurlugting vs kompaksie).
- Die kaalgevrete stroke kan as brandbane dien.
- Veldsamestelling verbeter oor tyd.
- Verhoogde inkomste per hektaar.
- Dit verg min kapitaalinsette.
- Verhoogde drakrag deur hoër grasproduksie, belading en minimum seleksie.
- Beide mens en dier leer die stelsel ken en hantering is uitstekend.
- Verbeterde dieregesondheid danksy minder parasiete.
DIT VEREIS ‘N KOPSKUIF
UHDSB word die beste aangewend wanneer daar voltyds twee arbeiders is om die diere te skuif na ‘n volgende strook sodra een kaalgevreet is.
Dit is nie nodig dat die diere deurlopende toegang tot water het nie, aangesien hulle eerste prioriteit is om te vreet. Die veewagters sal hulle vir hoogstens ‘n uur per dag na ‘n waterbron neem waar hulle dan ook sommer hul lek kan kry.
Pieter het verwys na ‘n reeds suksesvolle beesprodusent wat gewonder het hoe hy nóg meer produktief kan wees. Deur UHDSB in te span, het hy binne sewe jaar sy produkopbrengs van 34 kg/ha tot 65kg/ha verhoog en sy winste het van R500/ha na R900/ha gestyg.
Uitdagings van die graanmark
DIE PRENTJIE VERANDER VINNIG
“As jy my as landbou-ekonoom op 22 Februarie 2022 gevra het wat om te doen, sou ek jou in alle waarskynlikheid aangeraai het om ‘n prys (vir mielies) vas te maak,” het Michael gesê. Slegs twee dae later, het ‘n oorlog tussen Rusland en Oekraïne uitgebreek. ‘n Maand later het graanpryse meer as verdubbel. “Die graanmark is ongelooflik wisselvallig. Daar is soveel veranderlikes wat dit beïnvloed,” het hy bygevoeg.
China se destydse beleid waarvolgens elke huisgesin slegs een kind mag gehad het, het nou ‘n krimpende werkersklas in dié land tot gevolg.
Varkboerderye word gevolglik verklein, wat weer tot verminderde invoere van mielies lei.
NIE ‘N MAKLIKE BESLUIT NIE
“Ek kan dus nie vir jou sê wat jy hierdie maand vir jou mielies gaan kry nie, ek kan bloot ‘n prentjie skets van wat mág gebeur.”
Michael erken daar is baie “kundiges” daarbuite, met baie raad. “Boere moet daagliks baie onsekerhede trotseer. Op die ou end moet jy seker wees van jou strategie en ‘n berekende besluit neem, geskoei op al die inligting tot jou beskikking.
“As dit in daardie stadium ‘n goeie finansiële besluit was en daar is ‘n prysstyging die volgende maand, moet jou nie daaroor verknies nie, dit gaan jou teen die mure uitdryf,” maan hy.
“Daar is nie ‘n goue resep nie. Dit is nie ‘n verlies as jy dit (die geld) nié gehad het nie,” is sy raad.
Bestuur van diarree in beeskalwers
KOLOSTRUM IS GOUD WERD
Shaun het verduidelik dat dragtige koeie dooie entstowwe twee maande vóór kalwing toegedien word en dan drie weke later ‘n skraagdosis ontvang.
Kolostrum (ook bekend as biesmelk of eerste melk) word twee weke vóór kalwing gevorm en is van onskatbare waarde vir die pasgebore kalf se immuunsisteem. Dit is ryk aan proteïen, energie, vetoplosbare vitamiene en minerale en moet so gou as moontlik ná geboorte ingeneem word, omdat die vermoë van die derm om die teenliggaampies op te neem, uurliks verminder.
Teenliggaampies wat gevorm is danksy die entstowwe wat die koei voor kalwing toegedien is, word deur biesmelk aan die kalf oorgedra.
Kalfies by voerkrale wat nié biesmelk ontvang nie, is nege keer meer vatbaar om longontsteking te ontwikkel. Immunoglobulien (teenliggaampies) in biesmelk begin teen 21 dae verminder en ‘n kalf begin tussen sewe en 28 dae diarree ontwikkel.
Shaun het daarop gewys dat kalfies bakterieë kan inneem wanneer hulle aan die ma drink, omdat die uier en spene vuil raak as die dier in ‘n stowwerige omgewing gekalf het. Sou daar bloed in die melk wees weens mastitis, neem die kalf ook bakterieë in.
Faktore wat die hoeveelheid teenliggaampies in biesmelk beïnvloed:
Die kwaliteit van volwasse koeie se kolostrum is beter as dié van verse. Beesras speel ook ‘n rol – Jerseys het die beste kwaliteit biesmelk en Holsteins die swakste. Die hoeveelheid immunoglobulien begin vanaf nege ure ná kalwing afneem en die ideaal is dat die kalf biesmelk binne ses ure ná geboorte inkry.
Daar is ook minder teenliggaampies in biesmelk teenwoordig in April en Mei weens ‘n afname in die voedingswaarde van die veld. ‘n Warm somer het ook ‘n negatiewe invloed op die hoeveelheid teenliggaampies in biesmelk.
OORSAKE VAN DIARREE
Die rota- en koronavirusse, salmonella en Cryptosporidium veroorsaak diarree. Volgens Shaun word baie van hierdie infeksies voorafgaan deur besmetting met E.coli.
Hy het produsente gemaan om kalfies met diarree ten alle tye met handskoene te hanteer om te keer dat hulle self siek word. Dit is belangrik om skoon beskermende klere aan te trek voordat jy ‘n volgende kalf hanteer om kruisbesmetting te voorkom.
Kalfies ontwater vinnig en tekens van ontwatering sluit in ‘n vel wat nie onmiddellik terugsak as jy dit trek nie; ‘n droë, wit tong; ingesonke oë en vaal korneas.
Dit is belangrik dat die kalf aanhou melk inneem, al is dit in kleiner hoeveelhede, meer gereeld.
Sou jy intussen ‘n kalf aan diarree verloor, beveel Shaun aan dat jy ‘n monster van die ingewande (met die stoelgang in) neem en na ‘n veearts stuur om die presiese oorsaak van die besmetting te bepaal sodat ‘n entstof vir jou plaas vervaardig kan word.
Produsente kan hulle eie elektrolietaanvullings maak om siek kalfies mee te behandel, deur ‘n liter rooibostee te meng met agt eetlepels suiker (glukose) en vier eetlepels sout (natrium).