Dit verg fyn beplanning om ‘n tegnies ingewikkelde onderwerp op ‘n sinvolle wyse vir gesoute produsente aan te bied, sodat ook leke met ‘n belangstelling in landbou dit sal verstaan.
Outeurs wat tegniese artikels vir NWK Arena skryf, spook dus etlike ure om op ‘n insiggewende onderwerp te besluit en dit dan op papier neer te pen. Hulle is Vrydag 10 Maart vir hulle harde werk tydens ‘n erkenningsgeleentheid by NWK se hoofkantoor op Lichtenburg vereer. Slegs outeurs wat in diens van NWK is, word vir dié kompetisie, wat sedert 2018 gehou word, oorweeg.
Daar is Vrydag R13 750 in prysgeld aan die onderskeie wenners oorhandig. Infoworks (uitgewers van NWK Arena) en Bastion het die kompetisie geborg.
Buiten die erkenning van die harde werk wat outeurs verrig om artikels van ‘n goeie kwaliteit die lig te laat sien, dien die kompetisie as aansporing vir outeurs om gereelde bydraes tot die tydskrif te lewer en deurlopend ‘n goeie standaard van artikels te handhaaf.
Arno van Vuuren, Nicolene Smalman (redakteur van NWK Arena) en Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie dien op die redaksionele komitee en was die beoordelaars.
Die puntetoekenning is as volg:
- Aanvanklike indruk (10%)
- Inleiding (10%)
- Inhoud van die artikel (40%)
- Slot (10%)
- Impak of gebruikswaarde van inligting (20%)
- Oorspronklikheid of nuutheid (10%)
Pryswenners
Pieter le Roux (hoof diere- en weidingspesialis by Landbou-adviesdienste), het die eerste prys vir beste individuele artikel ingepalm, met sy artikel, getiteld “‘n Kompakte dekseisoen sorg vir groter vrugbaarheid” wat in die Januarie/Februarie 2022 uitgawe van die tydskrif verskyn het. Hy het ‘n kontantprys van R2 000 ontvang.
“Ek is baie dankbaar! Met die intrapslag ag jy dit bloot as deel van jou werksbeskrywing, maar besef later die waarde daarvan deurdat dit jou verplig om op hoogte te bly met jou bedryf en die jongste verwikkelinge.
“Elke artikel noop jou om te gaan oplees en navorsing te doen oor die onderwerp en die waarde daarvan kom eers later wanneer jy voor ‘n kliënt sit en sy vraag kan antwoord oor jy dit gaan oplees het om ‘n artikel te kan skryf.
“Die kompetisie is amper vir my ‘n bysaak, want ‘n mens probeer maar elke keer jou beste met die skryf van artikels en die prys is ‘n lekker verrassing. Dit is ‘n lekker geleentheid om aan die outeurs erkenning te gee en vir kollegas om gesellig te kan verkeer.”
Rachel du Preez (agronoom by Landboubestuursdienste) was tweede met “Voorkom stam- en wortelvrot met goeie bestuur” in die September/Oktober-uitgawe en Eric Louw derde met “Grondkartering dra by tot volhoubare produksie” in die Maart/April-uitgawe.
Martiens du Plessis (bestuurder van landboustelsels en -projekte by NWK) se “Grondopnames is die fondasie van presisieboerdery” in die Januarie/Februarie-uitgawe was vierde.
Leonard Thaphathi (bestuurder van ontwikkelende landbou) was vyfde met “Have compost ready quickly” in die Julie/Augustus-uitgawe en Bertus Nel (agronoom) sesde met “Tydige identifisering van blaarsiektes voorkom oesverliese” in die Maart/April-uitgawe.
Rachel du Preez het die eerste prys ingepalm in die kategorie artikelreekse vir artikels oor kopvrot van mielies. Martiens du Plessis was in die tweede plek met ‘n reeks artikels oor grondlewende organismes.
Lizandri Horn (graanhandelaar) se artikels oor die oorlog tussen Rusland en Oekraïne wat die mielieprys beïnvloed, is as die beste bedryfsartikels aangewys.
Spesiale oorkonde
Daar het die afgelope 38 jaar reeds 118 van Martiens du Plessis se artikels in NWK Arena (voorheen Noordwes Nuus) verskyn. Verskeie van hierdie artikels het oor tyd ook in ander publikasies verskyn omdat dit ‘n betekenisvolle bydrae tot die landbouwetenskap en die oordraging van landboutegnologie na ons produsente gelewer het.
Martiens bereik aftree-ouderdom by NWK in Junie 2023. Arno van Vuuren, tegniese redakteur van die tydskrif, het met die oorhandiging van die oorkonde gesê dat hy glo dat Martiens hierna steeds aktief gaan bydra tot die uitbouing van die landbou.