Ek was nogal senuweeagtig oor die Economic Freedom Fighters (EFF) se beplande nasionale stilstand op 20 Maart. NWK het op 16 Maart aangekondig dat dit alle bedryfspunte op 20 Maart sou sluit om sy werknemers en klante teen hierdie dreigende onheil te beskerm.
Dié aankondiging is op NWK Limited se Facebook-blad gepubliseer en is deur 17 966 gebruikers gesien en 113 keer gedeel. Dit het kritiek ontlok, onder andere dat NWK hiermee reg in die EFF se hande gespeel het. Werklik? Miskien… Ek wil egter graag vir lesers die alternatief skets deur my eie ervaring van onluste te deel.
As joernalis was ek al telkemale in protesoptogte vasgevang en in een geval selfs beseer. Dis asof woedende betogers bonatuurlike magte bekom. Teikens word met verstommende akkuraatheid met klippe bestook, munisipale vullishouers van staal wat maklik ’n ton weeg, word met min moeite omgekeer en betonstrukture word tot op die grond afgebreek. Winkeleienaars dink nog hulle sluit hulle deure, dan is die massas reeds binne en besig om voorraad van die rakke af te vee of weg te dra.
Die polisie vuur skokgranate af, maar sal tydens fisiese kontak met woedende betogers hoogstens rubberkoeëls afvuur om hulle af te skrik. Met die opstande by Blydeville naby Lichtenburg in 2017, het ek met my eie oë gesien hoe lede van die polisie se onluste-eenheid betogers met ketties skiet. Hoekom? Marikana.
Hulle mag slegs van lewendige ammunisie gebruik maak wanneer hulle lewens of dié van ander omstanders bedreig word, en word van moord aangekla as hulle daarvan afwyk. Die Marikana-slagting in 2012 het egter vir ’n polisielid gewys dat daar ’n fyn lyn is tussen ’n lewensbedreigende situasie en, as dit van die howe, vakbonde en politieke partye afhang, ’n vergryp aan mag.
Ek het as TV-joernalis vir die SABC op Mahikeng gewerk toe dié hoofstad van Noordwes in April 2018 letterlik tot stilstand gedwing is deur woedende inwoners wat die koppe van die destydse premier, Supra Mahumapelo, en voormalige hoof van Noordwes se Departement van Gesondheid, dr Thabo Lekalakala, geëis het. Wat dáár gebeur het, was niks minder nie as ’n staatsgreep.
Ons as inwoners kon nie brandstof ingooi, kos koop of die dorp verlaat nie. Tydens my verslaggewing by die provinsiale staatshospitaal hier het ek op die lyk van ’n tenger vrou in ’n bed in een van die sale afgekom. Yskoud. Lankal vergete. Die pasiënt langs haar was aan haar eie genade oorgelaat omdat die gesondheidspersoneel gestaak het. Sodra hierdie protesoptogte verby is, is dit ook nie net ’n geval van business as usual nie. Strukture word geplunder en moet eers herstel word. Gesteelde voorraad moet vervang word. ’n Reeds opgehoopte teaterlys van ’n hospitaal raak net al hoe verder agter.
Die gevreesde 20 Maart het aangebreek. Wat die dag sou oplewer, was ’n ope vraag. Die uiteinde? Die land het die EFF ’n vet toffie gewys, met slegs sowat 15 000 van sy ondersteuners wat in enkele van die groot metro’s relatiewe stil optogte gehou het.
Buiten vir Ikageng buite Potchefstroom, waar EFF-ondersteuners en die polisie slaags geraak het, weet ek nie van een dorp in Noordwes waar hulle buitengewoon oproerig was nie. Waar die winkels oop was, het sake normaal voortgegaan. Dit kon egter soveel anders uitgedraai het.
NWK het duisende rande in omset verloor deur sy bedryfspunte op hierdie dag te sluit. Dis ’n feit. Ek salueer egter my werkgewer, wat hiermee opnuut gewys het dat dit nie net op winste ingestel is nie, maar absoluut sy werknemers en klante se belange op die hart dra.