Jaag jou drome na deur elke dag die beste in jou werk en vir jou kliënte te doen. Wees altyd opreg en eerlik, en hanteer hulle met respek sodat jy onmisbaar vir hulle word. Dit is die raad van Marthina Wessels (53), wat onlangs tot finansieringskonsultant by NWK se Finansieringsdepartement bevorder is. Sy is slegs die tweede vrou ooit om hierdie posisie by NWK te beklee en die eerste een in bykans twaalf jaar.
Pas klaar met matriek, het Marthina in 1989 by die Departement van Gesondheid se verkrygingsadministrasie in Pretoria begin werk. Sy het in 1992 teruggekeer na Lichtenburg, waar sy by verskeie prokureursfirmas as invorderingstikster gewerk het.
Marthina het op 4 Februarie 2008 by NWK se versekeringsafdeling begin werk en het in 2009 by Finansiering as assistent-kredietkontroleur aangesluit. Haar werk het behels dat sy kliënte se limiete moes bestuur en alle administrasie en navrae moes hanteer. Sy het ook opdrag gegee vir die registrasie van verbande, opstel van borgdokumente, en dit later op die stelsels ingelees en sekuriteitskaste bygehou.
In 2013 het Hans Rothman, ’n finansieringskonsultant wat meer as drie dekades by NWK werksaam was, Marthina onder sy vlerk geneem. Sy het nog altyd meer gedoen as wat haar posbeskrywing van haar vereis. Hoewel sy toe net ’n finansieringsanalis was, het sy reeds die werk van finansieringskonsultant ook begin verrig, wat behels het dat sy moes bepaal of ’n kliënt meer sekuriteit benodig en of sy surplus voldoende is. “Ek hou daarvan om meer te leer en nie net te doen wat ek weet nie,” verduidelik sy.
Met Hans se aftrede is sy pos geadverteer en Marthina se aansoek was suksesvol. Sy geniet dit om nou op ’n daaglikse basis met kliënte op ’n persoonlike vlak te kan skakel. “Jy leer ’n ander kant van hulle ken as net die professionele…”
Sy weet nie waarom so min vroue tot dusver hierdie posisie by NWK beklee het nie. “Dalk het hulle bloot nie die ambisie gehad nie.” Sy vind nie dat haar manlike kollegas of produsente dit ’n moeilike omgewing maak om in te werk nie.
Marthina is ’n gesoute rolbalspeler. Die gogga het haar in 2012 gebyt en as lid van Lafarge se rolbalklub, neem sy gereeld aan toernooie deel. Sy is ook “verslaaf” aan hekel en lief vir tuinmaak.
Heinrich Krüger, voorsitter van NWK se direksie en ’n kliënt van Marthina, beskryf haar as baie lojaal en pligsgetrou. “Sy ken haar werk en vat nie kortpaaie nie. Sy doen die regte ding. Sy bly binne die beleid wat neergelê is, ongeag die kliënt se status of posisie.”
Hy het bygevoeg dat sy haar werk vinnig en met groot presisie doen. “Sy gee altyd spoedige terugvoer ná enige navrae ontvang is. Haar handel, wandel en werkswyse verdien respek en sy hoef dit nie af te dwing nie.”
Nóg ’n direksielid en kliënt van Marthina, Christo van Niekerk, praat met groot lof van haar. “Dit wat jy haar vra, word onmiddellik gedoen of is rééds gedoen. Wat haar geskik maak vir dié pos, is die feit dat sy deeglik en toegewyd is en take tydig afhandel.”
Christo sê sy het ’n baie gemaklike verhouding met produsente. “Sy respekteer elkeen en word gerespekteer.” Hy meen dat die dissipline wat sy as sportvrou openbaar, haar ook in die werksplek help. “Niks is ooit vir haar te veel moeite nie.