Bestaande tegnologie ontwikkel deesdae teen ’n blitsvinnige pas. Die omvang van hierdie uitbreiding van kennis is verstommend en dit is bykans ondenkbaar waar ons vlak van kennis oor ’n paar jaar gaan wees – byvoorbeeld van slegs enkele jare gelede se opspraakwekkende maanlandings tot die beoogde vestiging van menslike bevolkings op Mars.
In die landbousektor het die vordering wat met geneties-gemanipuleerde organismes (GMO’s) gemaak is vir groot treë in die kostedoeltreffende produksie van verskeie gewasse gesorg. Dis ook in die mediese wêreld doeltreffend geïmplementeer. Uiteraard was en is daar steeds weerstand teen hierdie nou gevestigde praktyk, en dit spruit hoofsaaklik voort uit die feit dat die man op straat nie noodwendig veel sê het oor hoe die tegnologie in die praktyk aanvaar is nie.
’n Effens nuwer tegnologiese ontwikkeling in genetiese navorsing is Crispr. Hierdie tegniek maak die permanente redigering van genome met die hulp van die Crispr/Cas9-stelsel moontlik. Daar is uiteraard heelwat kommer oor hoe hierdie kragtige stuk gereedskap gebruik kan/moet word. Navorsers in Amerika het reeds hierdie metode gebruik om menslike embrio’s te redigeer. Mense se eerste reaksie is dat die navorsers hulle besig hou met dinge waaraan die mens nie moet karring nie.
Wat dit egter opwindend maak, is dat die DNS van lewende selle gewysig kan word om ’n organisme te skep waarvan die DNS-samestelling gedeeltelik of heeltemal verander is sodat die organisme se nageslag die “nuwe” genetika permanent sal besit.
’n Navorsingspan onder leiding van Junjiu Huang van die Sun Yat-sen Universiteit in Guangzhou, China, het onlangs daarin geslaag om basis DNS-pare te redigeer sonder om die DNS-string te sny. Die tegniek kan guanien (“G”) na adenien (“A”), en sitosien (“C”) na tiamien (“T”) omskakel.
Die Chinese het ’n redelik algemene resessiewe bloeddefek (ß-talassemie), wat met ernstige of fatale bloedarmoede geassosieer word. Deur guanien om te skakel na adenien, kan die siekte moontlik permanent verwyder word. Die deurbraak hou heelwat opwindende toepassings in, maar die morele vraag bly steeds staan: Gaan dit nou moontlik wees om “ontwerperbabas” op voorskrif van die ouers te verwek? In hierdie stadium is die meeste lande se wetgewing redelik streng oor hoe die tegnologie aangewend mag word en navorsingsprojekte word streng gekontroleer – veral waar die mens ter sprake is.
Na beraming beland soveel as 40% van alle vars voedselprodukte, soos groente en vrugte, op die ashoop. Daar is ’n aantal redes hiervoor, maar die vernaamste oorsaak is dat dit sleg word weens oksidasie wat ’n verbruining van die produk veroorsaak. In die geval van avokado’s is die verbruining relatief vinnig en gee dit aanleiding tot ’n produk wat nie meer aantreklik vertoon nie – ná slegs enkele ure se blootstelling aan suurstof.
’n Groep biotegnoloë van die maatskappy GreenVenus het onlangs daarin geslaag om die geen wat tot hierdie verbruiningsproses in avokado’s aanleiding gee, “af te skakel” deur die Crispr-tegniek te gebruik. Die vrugte se rakleeftyd word hierdeur heelwat verleng en verskeie nuwe teellyne, wat weerstand teen verbruining bied, is nou in die vooruitsig.
’n Soortgelyke deurbraak is nou ook deur ChileBio gemaak, waar die rakleeftyd van piesangs, wat ’n soortgelyke verbruiningsprobleem as avokado’s het, merkbaar verleng kan word. Die voordele hiervan is voor die hand liggend vir beide die produsent en die verbruiker.
Crispr-tegnologie is reeds ’n groot bedryf en dit geniet wêreldwyd aandag, met groot bedrae wat belê word om die onderskeie ontwikkelings te ondersteun. Daar is met reg ’n aantal morele kwessies wat die meeste mense bekommer, maar net soos wat almal mettertyd meer gemaklik geraak het met die GMO-kwessie, kan hierdie tegnologie ook ’n groot bydrae lewer om voedselsekerheid en moontlik ook die hantering van sekere ernstige siektes aan te spreek. Kan ons dit met die nodige verantwoordelikheid hanteer? Die tyd sal leer.