Die personeel by NWK se hoofkantoor is bevoorreg genoeg om ‘n besonderse natuurtoneel in hulle midde te sien afspeel. ‘n Broeipaar gevlekte ooruile het in Julie drie uilkuikens uitgebroei en grootgemaak in ‘n uilhuis wat NWK verlede jaar aangeskaf het.
Nicolene Smalman (kommunikasiebeampte) is ‘n groot uilliefhebber. Sy het as TV-joernalis vir die SAUK ‘n insetsel gedoen oor Owl Rescue Centre naby Hartbeespoortdam en só van uilhuise geleer. Dié rehabilitasiesentrum, wat grootliks op die versorging en rehabilitasie van uile fokus, maak uilhuise wat hulle regoor die land laat aflewer. Inwoners in dorpsgebiede kan ‘n uilhuis by hulle wonings opsit. Dit bied ‘n veilige tuiste vir uile om te broei en hulle speel boonop lag-lag klaar met rotte en muise.
Die uile is die eerste keer in Januarie 2022 in ‘n palmboom in die binnehof van NWK se hoofkantoor opgemerk. Nicolene het vir Thean van de Heever (bestuurder van projekte en fasiliteite by Finansiering) gevra of NWK sou oorweeg om ‘n uilhuis hier te laat opsit en hy het dadelik ingestem.
Teen die tyd wat NWK die uilhuis opgedaag het, was die broeipaar egter weer vort. Teen Januarie vanjaar, was die uile terug op hulle pos in die palmboom. Die uilhuis is by die venster van Jacques de Wet se kantoor op die vierde vloer opgesit. Dit is uitgevoer met sagte sand waarop uile graag broei.
‘n Kuiken maak sy verskyning
Op 4 Julie het Jacques laat weet dat hy ‘n kuiken gewaar. Nicolene het op die balkon geklouter om ‘n foto van die kuiken te kry, tot groot ontsteltenis van die kuikens se ouers. Pappa Uil, wat gewoonlik ‘n wakende oog vanuit die palmboom hou terwyl die wyfie in die uilhuis was, het op die reling kom sit, met sy vlerke gesprei. Die paparazzi moes helaas die aftog geblaas. Sy kon toe twee kuikens en ‘n eier sien. Die daaropvolgende week het Jacques laat weet dat daar ‘n derde, kleiner kuiken is. Dié was egter té goed versteek vir ‘n foto.
Op 19 Julie het kollegas Nicolene laat weet dat een van die kuikens “uit die nes geval het”. Sy het ‘n foto van die kuiken vir Brendan Murray van Owl Rescue Centre gestuur. Hy kon egter aan die kuiken se vere sien dat hy die regte ouderdom is om die nes te verlaat. Brendan het verduidelik dat dit heeltemal normaal is. Die uilkuikens bring sowat twee weke op die grond deur voordat hulle finaal op hul eie gaan. Baie uiltjies word in hierdie tyd verkeerdelik van hul ouers geskei, omdat mense in hul onkunde dink die kuikens is beseer en hulle dan optel.
Brendan het Nicolene aangesê om die kuiken uit te los en bygevoeg dat die ander uiltjies binnekort sou volg. Hy het aanbeveel dat beweging naby die uile tot ‘n minimum beperk moet word. Thean het gevolglik opdrag gegee dat die binnehof gesluit moet bly totdat die drietjies mooi groot is en die nes finaal verlaat het.
Daar is intussen nóg twee uilhuise by Owl Rescue Centre bestel. Thean hoop dat daar nóg broeipare hulself hier sal vestig, aangesien hulle help om die groot aantal duiwe se getalle te beheer.
Interessante feite oor gevlekte ooruile
- Gevlekte ooruile is monogaam (het slegs een maat) en begin gewoonlik teen die einde van Julie te broei tot Februarie.
- Hulle lê twee tot vier eiers op ‘n slag, dae uitmekaar. Dit neem 32 dae vir ‘n eier om uit te broei.
- Kuikens verlaat die nes wanneer hulle sowat vyf weke oud is en bring tot twee weke onder op die grond deur voordat hulle vlieg.
- Gedurende hierdie tyd, word die kuikens geleer om te jag. Ouers bring steeds prooi vir hulle om op te voed.
- Kuikens kan teen sowat sewe weke vlieg, maar nog heelwat langer by die ouers bly.
Bron: Wikipedia