‘nSakeman wat maar elf jaar gelede die eerste keer sy hand aan boerdery gewaag het, het skoonskip gemaak by die onlangse Bloemskou deurdat sy 15 Santa Gertrudis-stoetdiere altesaam 23 linte ingepalm het.
Marius Freeman (57) van Kameeldoringvlakteboerdery naby Delareyville en sy seun, Juan (30), het onder andere die Santa Gertrudis-vers-, verskalf-, bulkalf- en intermediêre asook reserwekampioen opgelewer.
Ten tye van die Bloemskou het Jumardi Santas se diere die meeste punte (68) aangeteken.
Van die 13 rasse wat daar meegeding het, is hulle FF2129 boonop op 5 Mei as die intermediêre interras-bulkalfkampioen aangewys.
‘n Droom word waar
Marius se oupa het destyds in Vredendal geboer. Hy was in Welkom op skool en het gereeld “saam met koshuisbrakke op plase gekom.”
Hy vertel: “Ek wou nog altyd boer, dis seker maar in ‘n ou se bloed.” Hoewel hy eers die sakewêreld betree het, het hy nooit sy droom om te boer, laat vaar nie.
As sakeman in Mbombela (Nelspruit), het hy vyf jaar lank elke jaar Nampo toe gegaan om na die verskillende beesrasse te kyk en met kenners te gesels. Marius het die onderskeie rasse se joernale gevat en vir sy IT-tegnici gegee met die opdrag: “Vat die tabelle en vergelyk hulle. Kry vir my die beste vleisbees.”
Sy keuse is uiteindelik verfyn tot vier rasse: Limousin, Beefmaster, Hereford en die Santas. “Toe kry ek die raad: ‘Kyk na die prentjie. Waarvan hou jy? Watter look?’ Toe kies ek die Santa,” vertel Marius.
Vandag is hy bly oor sy keuse. “‘n Santa hoef jy nie jare lank te voer of op te piep nie, hy sit vinnig gewig aan. Hulle kalf klein en ervaar min probleme. Die Santa het genoeg melk en kruis mooi met enige ras.”
Klimaat noodsaak ‘n skuif
Marius was gelukkig genoeg om uit die staanspoor goeie genetika te bekom deur die diere van ‘n Santa Gertrudis-teler van Ermelo oor te neem wat nie meer met hulle wou aangaan nie. Hy het in 2012 met hulle in Dullstroom, Mpumalanga begin boer.
Hoewel die Santas maklik in enige omgewing aanpas, het Marius las gehad van siektes soos Asiatiese rooiwater weens al die bosluise. “Ek moes ook voer in die winter. Dáár word hulle mooi vet op die suurveld, maar slegs van November tot Maart, dan moet jy begin voer,” verduidelik hy.
In 2017 was die grond by Kameeldoringvlakte in die mark en kon Marius sy boerdery hier kom vestig.
Vóór veilings het hy deeglik sy huiswerk gedoen deur na die diere te gaan kyk en hulle te inspekteer. As hy tevrede was, het hy hier diere gekoop om sy kudde mee uit te brei. “My besigheid kon my finansier om goeie diere aan te koop. Dit is deel van die sukses – die genetika wat ons aangekoop het.”
In aanloop tot die skou
Dis ‘n moeilike balans om ‘n dier skougereed te kry, maar nie te vet nie, vertel Marius en Juan.
“Skoue se toekoms was onseker weens bek-en-klouseer. Ons haal gewoonlik teen Desember diere uit vir Mei se skou, maar het hierdie jaar eers Februarie begin selekteer.” Die ouers het ‘n belangrike rol gespeel in die 15 diere wat Juan gekies het. Toe het die proses om hulle mak en skougereed te kry, in alle erns begin.
Eerstens word hulle in ‘n drukgang gesit en gekam. Tog is Santas oor die algemeen baie rustig, met ‘n mooi geaardheid. “Ons teel hulle vir temperament. As ek tussen hulle loop, wil ek nie rondkyk wie my jaag nie,” sê Marius. Hierna is hulle na ‘n ring buite gelei en weer gekam, voor hulle na nóg ‘n kampie gevat is waar daar met hulle geloop is. Hierdie proses het ‘n hele paar weke geduur.
Hulle steun op gebalanseerde voer van Voermol wat spesiaal vir hulle by Hoopstad versak word. Die diere word stadig gevoer sodat hulle mae nie brand nie. “Dit is baie belangrik,” benadruk Marius. “Bly weg van warm kos. Ons voer glad nie in ‘n kraal nie, eerder in kampies van sowat 7ha.”
Uiteraard word bulle wat te vinnig te veel gewig aansit onvrugbaar en koeie sukkel om te kalf. “Saad wat nie vries nie, is ook ‘n teken van oorvoeding,” voeg Juan by. Daarom word die hoeveelheid voer volgens hulle liggaamsmassa uitgewerk en stelselmagtig vermeerder. Die diere word ook deurlopend geweeg.
FF2129 sou uiteindelik die beoordelaars twee keer laat kyk en hulle het hom as ‘n uitsonderlike bul beskryf – “baie korrek met min foute”. Hy gaan egter nié op die Freemans se eerste produksieveiling op 12 September beskikbaar wees nie, al het hulle intussen goeie aanbiedinge vir hom gekry. “Hy moet eers ‘n bietjie werk op hierdie plaas,” lag Marius.
Jy verkoop nie ‘n fout nie
Pa en seun het reeds in April die diere vir hul opkomende veiling gekies en is vol vertroue oor die kwaliteit wat hulle bied. Alle diere word vooraf getoets en Juan huiwer nie om een te onttrek as hy onder 80% haal nie.
“Ons slag ‘n hele geslag uit sodra ons ‘n fout in daardie lyn kry. Daar is lyne wat ons probeer het, wat ons gestaak het omdat daar fout was met die bul. Jy verkoop nie ‘n fout nie,” beklemtoon Marius.
‘n Goeie Santa het die regte diepte (afstand tussen die skof en onderkant van die pens) en lyk nie soos ‘n silinder nie. ‘n Sterk rug wat nie in die kruis val nie, ‘n skoon onderlyn en goeie binne- en buitedye is verdere eienskappe van die ideale Santa.
Hulle teel mediumgrootte-raam diere en beweeg weg van Santas met groot skedes. “‘n Mediumgrootte dier vereis minder lek en verloor nie so baie kondisie nie. Hulle is vinniger markgereed en dis boonop wat die mark soek. Dit is dus baie meer winsgewend,” verduidelik Juan. Marius gaan voort: “Bespiering is ook baie belangrik. Voorts moet hy mooi, gesonde hoewe hê en gemaklik kan loop.”
Diere word op sewe maande gespeen waarna hulle veld toe gaan en net ‘n somer- en winterlek ontvang. “As ek hom verkoop, moet ek weet hy sal hou in die veld. Enige dier kort wel ‘n aanpassingstydperk, daarna moet hy ‘hou’.”
Die Freemans se diere word ook inwendig geskandeer vir onder andere vetpersentasies. “Ek wil weet wat binne my diere aangaan,” sê Marius. “Jy moet baie meer ingelig boer. Die meeste suksesvolle boere boer met syfers.”
Dorpers toevallig deel van die pakkie
Buiten die 15 SP Santa Gertrudis-bulle, sewe SP Santa Gertrudis dragtige koeie, 16 Santa Gertrudis dragtige verse en 10 Santa Gertrudis dragtige kommersiële verse, gaan daar ook 25 Witdorperooie, 15 Dorperooie, ses Witdorperramme, drie Doperramme en 35 Witdorper-kruisooie opgeveil word.
“My goeie vriend van Prins Albert bel my in 2018 te midde van die droogte en vra of ek plek het vir ‘n paar skape,” vertel Marius. Hy het ingestem, met die gedagte dat dit hoogstens 20 diere sou wees.
“Daardie aand 23:00 laai ‘n link 250 skape hier af. Die volgende oggend toe lam hulle almal,” lag Marius. “Dis net lammers waar jy kyk. Ons was glad nie gereed vir skape nie. Ons het oral hanslammers uitgedeel en self opgeëindig met 16.”
Dit het intussen in die Karoo gereën en Marius en dié vriend het besluit om die aanwas te deel. Marius het 200 van die diere oorgehou. Hy gaan hierdie jaar met hulle begin stoet.
Juan onthul dat sy pa se eintlike droom nog altyd was om te saai. Hy het vanjaar 350ha mielies aangeplant en 100ha sojabone. Hy beoog om volgende jaar ‘n bykomende 50ha se sojabone te plant.
Intussen is die Freemans se visier op volgende jaar se nasionale skou van die Santa Gertrudis ingestel, wanneer dié ras se 50ste bestaansjaar in Suid-Afrika gevier sal word.
Hulle sal ook later vanjaar by vetveeskoue oor die land hul staal wys.
- Die veiling van 12 September sal plaasvind op die plaas Rondepan, Barberspan naby Sannieshof en begin om 11:00. Navrae: Marius by 083 508 5376 of Juan by 084 549 4432.