Marinda Engelbrecht, wat in 2014 bekendheid verwerf het as ‘n finalis in die kookprogram, Kokkedoor, het NWK se jaarlikse damesoggend die afgelope Saterdag toegespreek.

Haar kosmaakdemonstrasie is voorafgegaan deur ‘n praatjie met die tema, “My melk kook oor”, waarin sy nuttige wenke gedeel het oor hoe om tyd doeltreffend te bestuur. “Tyd vlieg, maar jy is die vlieënier.”
Die meeste vroue en kokke ken daardie gevoel wanneer jy ‘n pot melk op die stoof het, jou rug vir ‘n oomblik draai en dit dan oorkook of aanbrand. “Of jy kry ‘n dag op kantoor wanneer jy eenvoudig nie weet hoe jy alles betyds gaan klaarkry nie. In ons gejaagde lewens waar alles so vinnig as moontlik gedoen moet word om voor te bly, is ons stelselmatig besig om in opwenpoppe te verander, waarvan die veer al stywer trek,” het Marinda begin.
“As vrou het die meeste van ons soveel mense en dinge waarvoor ons moet omgee – jou lewensmaat, kinders en kleinkinders, jou ouers en skoonouers, vriendinne, jou werk en jou voorkoms.”

Marinda is nie ‘n voorstaander van sogenaamde multi tasking nie en meen dit maak jou minder doeltreffend deurdat jy in elk geval alles half doen. “Die goeie nuus is, sou jou melk oorkook, daar altyd ‘n lap is waarmee jy dit kan skoonmaak. Ons kan regmaak as ons fouteer het. Ons moet egter planne in plek hê om te verhoed dat die melk oorkook.”
Om te keer dat letterlike melk oorkook, beveel Marinda aan dat jy ‘n bietjie water onder in die pot gooi en dan die melk byvoeg; ‘n bietjie botter om die boonste rand van die pot smeer en dan die melk ingooi; of ‘n houtlepel oor die middel van die pot se bokant plaas.
Hoe hou ons egter al die spreekwoordelike balle in die lug en keer dat dit alles tegelyk op ons neerval?
1. Bestuur jou tyd deur doelwitte vir elke week te stel
- Stel drie of vier van jou belangrikste doelwitte vir die week en vir elke dag.
- Sit 20 minute opsy om jou daaglikse en weeklikse skedule ten opsigte van jou doelwitte, take en afsprake te bepaal.
- Sit dit op skrif – om alles te onthou, is ‘n uitdaging wat selfs die mees briljante onder ons ontwyk.
- Onthou – as jy nie ‘n plan het nie, gaan jou kalender jou beheer.
2. Doen dinge al die vorige aand
- Elke minuut in die oggend is goud werd. Pak dus kosblikke en skooltasse en sit kinders se klere die vorige aand reg.
3. Vestig ‘n roetine
- ‘n Daaglikse roetine verseker dat jy elke dag tyd het vir dit wat regtig saak maak – jou lewensmaat, kinders of aktiwiteite wat vir jou belangrik is.
4. Maak “me time” ‘n prioriteit
- As jy ‘n meer gebalanseerde lewe wil hê, moet jy tyd maak vir dinge soos oefening, vriende en jou belangstellings soos naaldwerk. Dit maak jou tenk vol sodat jy vir ander dinge kans sien.
- Maak jou gedurende hierdie tyd los van die internet en sosiale media en probeer om nie oor werk te gesels nie.
- Maak jou familietyd, heilige tyd. Geen geld of sukses kan die plek van familie en tyd saam met hulle, inneem nie.
5. Word soggens vroeër wakker
- As jy werklik onder druk is, dan is dit ‘n goeie idee om soggens ‘n bietjie vroeër op te staan – jy is dan dalk juis op jou produktiefste.
6. Leer om nee te sê
- Jy hoef nie uit die staanspoor nee te sê nie, maar onderneem dat jy eers jou dagboek sal nagaan. Dit maak dit makliker om daarna nee te sê.
- Moet egter nooit ‘n leuen vertel in plaas daarvan om nee te sê nie – dit gaan jou later inhaal.
- Moenie ‘n verskoning aanbied nie. Wees ferm, dog beleef en sê dat jou skedule dit eenvoudig nie tans toelaat nie.
- Stel ‘n alternatief voor – iemand anders wat moontlik met ‘n bepaalde projek kan help.
- Leer ook om vir jouself nee te sê – soos wanneer jy ‘n tweede of derde stukkie kaaskoek wil hê.

Gun mekaar die nodige vryheid
Marinda meen dat, hoewel huweliksmaats aan mekaar behoort, hulle nie mekaar se besittings is nie. “Dit is belangrik om mekaar in ‘n verhouding aan te vul, maar aan die ander kant moet ons mekaar die nodige vryheid gun.
“Almal van ons het ‘n behoefte om te behoort, want om te behoort is die kern van ‘n vervulde lewe. Die enigste beproefde resep vir ‘n gelukkige verhouding is wedersydse vertroue en lojaliteit.”
Dieselfde geld ons kinders. “Dit is elke kind se reg om gekoester te word en deel van ‘n gesin te wees, maar hulle moet toegelaat word om op vleuels te sweef en die vryheid hê om eendag die nes te verlaat.”
Nóg ‘n stukkie wysheid van Marinda: “My huwelik het my geleer dat dit nie soseer daaroor gaan of jy die regte lewensmaat gekies het nie, maar eerder om die regte lewensmaat te wéés.”
Wenke om die liefdesvlam binne verhoudings te laat brand:
- Date jou lewensmaat een keer per week: Maak dit ‘n weeklikse prioriteit. Dit hoef nie duur te wees nie. Gaan stap ‘n entjie saam of kry mekaar iewers vir middagete.
- Maak ‘n date met jou kinders: Doen iets spesiaal met elke kind – julle kan ‘n speletjie speel of saam ‘n boek lees.
- Troetel jou huishouding se kalender: Kry ‘n groot kalender en hang dit waar elke gesinslid dit kan sien. Vul elkeen se aktiwiteite daarop in. So sal almal bewus wees van wanneer en waar wie betrokke is en almal kan saam besluit wat die belangrikste is.
- Probeer belangrike besluite saam neem: Dit is belangrik om elkeen se mening oor belangrike besluite te kry ten einde deursigtigheid te verseker.
- Skakel al die skerms elke aand vir een uur af: Skerms steel waardevolle gesinstyd. Gaan stap eerder saam of speel ‘n speletjie.
- Beplan ‘n vakansie: Dit is belangrik vir lede van ‘n gesin om weg te breek van hul gewone roetine. Beplan dus saam ‘n vakansie – verkieslik by ‘n plek waar almal saam kwaliteittyd kan spandeer. Dit is iets lekker vir almal om na uit te sien.
- Doen huishoudelike aktiwiteite saam: Kook is ideaal. Elkeen het sy/haar eie taak in die kombuis en dit maak die ete net soveel meer gesellig.
- Moenie werk doen in gesinstyd nie: Die meeste van ons word op ‘n stadium gedwing om werk huis toe te neem. Ons moet egter ons verhoudings met ons gesinne koester en keer dat ons werk nie daarmee inmeng nie. Geld is belangrik, maar dit kan nie geluk koop nie.

Resepte ideaal vir beurtkrag
Marinda het onlangs ‘n kookboek bekendgestel waarmee kokke maklik iets aanmekaar kan flans in tye van beurtkrag, met bestanddele wat hulle geredelik in hulle spense beskikbaar behoort te hê.
Die swartwoudpoeding wat sy met die hulp van Suretha Gilleland op die verhoog opgetower het, bevat die volgende bestanddele:
- 1 blik (385 g) kondensmelk
- 125 ml suurlemoensap
- 2 houers (230 g) maaskaas
- 1 x sjokolade rolkoek
- 1 blik (425) g ontpitte, ingemaakte swartkersies
- 3 Flake-sjokoladestafies
- 100 g neute
Metode
- Begin deur die kondensmelk, suurlemoensap en maaskaas saam te klits.
- Sny die rolkoek in lagies en pak die bodem van ‘n mooi glasbak met van die lagies.
- Moenie die stroop van die kersies weggooi nie – gooi ‘n bietjie van dit op die rolkoek in die bak.
- Smeer ‘n lekker dik laag van die kondensmelkmengsel bo-op.
- Herhaal die proses met die rolkoek en ander bestanddele tot dit op is.
- Versier met die kersies, sjokolade en neute.
