Petrus Marx (31) en sy swaers, Stephan Erasmus (48) en Reco Pieterse (32), het aparte en gesamentlike Angoraboerderye. Vir ’n driemanskap wat maar so onlangs as sewe jaar gelede hul hand aan Angoras, wat ongewoon in Noordwes is, gewaag het, smaak hulle reeds groot sukses.
Petrus, ’n produsent van die Wolmaransstad-omgewing, spog met die eerste geregistreerde Angorastoet in Noordwes. Hy het die hoogste prys (R780/kg) vir kleinbokkiehaar behaal by House of Fibre se veiling op 5 September in Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap.
Reco was met OVK se onlangse sybokhaarveiling deel van ’n lot van elf produsente wat die hoogste bin-prys van die dag (OVK bin BSFFK van 25,1 mikron teen R718/kg) behaal het.
Van wild tot bok
Petrus het homself as ’n rekenmeester bekwaam en in 2014 by sy pa op die plaas Uitval aangesluit. Daar is aanvanklik wildkampe vir eksotiese wild opgerig, waarvan die pryse toe beduidend getuimel het.
Hy was op soek na iets waarmee hy in die gevestigde wildkampe kon aangaan. Hy het eers Boerbokke op die proef gestel, maar het sy hande vol gehad met hulle. “Saans as jy hulle in die klipkrale sit, klim hulle oor die muur en dan is hulle weg,” lag hy.
’n Vriend van Merweville het Angoras voorgestel. Petrus het sy huiswerk gedoen en lede van die Wolmaransstad Studiegroep, waarvan hy ’n lid is, het in 2016 voer na die droogtegeteisterde Karoo geneem. In Leeu-Gamka het hy 157 Angoras van ’n produsent oorgeneem en teruggebring na Noordwes.
Petrus en Reco onthou dat die bokke kaalgeskeer en maer was toe hulle vanaf Warrenton in ’n reënbui verder moes ry. Wonder bo wonder het al die bokke oorleef en toe Petrus met die eerste skeersel sien hoe winsgewend dit is, was hy oortuig van die bokke se potensiaal.
Stephan het die volgende jaar 270 Angoras van Murraysburg laat kom.
Geen data om mee te werk nie
Die meeste Angoraboerderye is in die Karoo en die swaers het nie ’n benul gehad oor hoe hierdie bokras in Noordwes sou vaar nie. Daar was geen data waarop hulle kon terugval nie. “Ons leer nou nog,” sê Petrus. “Stephan doen hierdie proewe, Reco daardie… Ons kyk wat werk en soek dan die perfekte kombinasie.”
Hulle span ’n kombinasie van laparoskopiese inseminasie en natuurlike dekking in. Stephan vertel: “Ek wil dit weer verander. Ek kry te veel twee- en drielinge met ‘lapa’. Ek soek nou sterk ramme. Dan voer ek só, Reco só en Petrus só, dan kyk ons wat is die wenkombinasie.”
Die swaers is aangenaam verras deur die Angora se aanpasbaarheid in Noordwes. “Hulle pas makliker op weiding aan as ’n skaap, wat ’n meer gevoelige vreter is.”
Stephan wys ’n video van waar die Angoras selfs bankrotbossies vreet. Die bokke trek ook nie hul neuse vir katbos op nie. “Aangesien Angoras blare vreet, kan ons beeste die kampe waarin hulle loop óók benut omdat daar vir hulle gras oorbly.
“Hulle het regdeur die jaar toegang tot groen weiding in die vorm van blare en vereis dus minder onderhoud.”
Daar word nietemin weiding vir hulle aangeplant. Die swaers plant ’n wintermengsel van Agricol, wat uit Japannese en ripperradys, stoelrog, weiwieke en hawer bestaan. Gars word ook geplant, gesny en gemaal, en daar is verder sowat 2 ha lusern vir die bokke beskikbaar.
Versprei jou risiko
Petrus en sy vrou, Angené, het in 2020 die eerste Angorastoet in Noordwes, die Marwyk Angorastoet, geregistreer.
Stephan het die volgende jaar die Erasmus Angora-stoet geregistreer. Die swaers het ook elkeen hul eie kommersiële kudde.
Die Angoras het ’n ramtelergenootskap waarvan gekwalifiseerde beoordelaars na plase gaan en telers se ramme keur. Hierdie gekeurde ramme gaan onder andere na Newlands Angora, ’n privaatveiling waar Petrus en Stephan hul ramme verkoop.
“Verskeie telers neem deel aan hierdie projek. Voor die veiling is daar drie verdere keurings en klasserings waartydens nóg diere uitgelaat word. Die ramme word almal geskeer en vir ses maande aan dieselfde behandeling, veld en voeding onderwerp. Dit verseker ’n hoë standaard en jy kan dus met gemoedsrus hier ’n ram koop,” verduidelik Petrus.
Tog kan dit gebeur dat selfs die beste ram “uit die bus val”. Dit is duur om hierdie topgenetika te bekom en die swaers koop daarom van die ramme saam om die risiko te versprei.
Vleis is nie ’n prioriteit met die teling van Angoras nie. Tog soek jy ’n groter dier om meer hare te kan kry.
Die perfekte Angoraram het ’n sterk kop en ’n groot bek. “Dis die fabriek van die dier. Met ’n groter mond gebruik hulle minder energie om die pens vol te kry.”
Angoras het uitstekende moederseienskappe. Kloutjies is ’n belangrike eienskap waarop hulle let tydens seleksie, asook horings – dit moet kan uithaak as dit aan iets vashaak en moenie te nou wees nie.
Die haar maak die bok
Voeding is kardinaal vir goeie haargehalte. Tog moet dit nie te veel proteïen bevat nie, want dan groei die hare te reguit uit. Reën gee die hare ’n mooi kartel. Daar moet ’n balans tussen die styl (draai van die stringetjie) en die karakter (karteling) wees. Dit moet ook die regte lengte wees, wat gewoonlik teen ses maande bereik word. Die hare moet skoon wees en nie saad of kakiebos bevat nie.
Dit word geklas volgens grootbok, kleinbok (tot ’n jaar oud) en jongbok (tot twee jaar oud). Dan is daar ook ’n toplyn (fynste lyn), ’n tweede, derde, vierde en onderlyne.
Angoras word gewoonlik aan die begin van Februarie en Augustus geskeer. Die swaers laat mikskeer ook hulle diere op drie maande tussen die twee hoofskeersels. “Anders groei hulle oë toe en die pense raak vuil.”
Die bokke word drie maande vóór ’n hoofskeer in ’n kamp met min bossies gehou sodat hulle kan skoon bly. Hulle word vooraf gedip om die hare skoon te kry.
Hoewel spesiale sjampoe en opknapper gebruik kan word, span die swaers gewone skoon water in met ’n middel teen rooiluise. Dit gee die hare ’n wit, olierige skynsel wat mooi vertoon en lekker hanteer.
Die swaers kry skeerders vanuit die Oos-Kaap om hulle bokke op die plaas te kom skeer. Hulle lewer tans sowat 60% jong- en kleinbokke en 40% grootbokke se skeersels, omdat die aanwas toeneem. Hulle meen jy moet ’n balans tussen massa en gehalte vind: “Dit help nie jy skeer 3 kg reguit hare af nie.”
Suid-Afrika verskaf 60% van die wêreld se sybokhaar en 90% van die sybokhaar wat hier geproduseer word, word uitgevoer. Die trio se boerderye voldoen aan die Verantwoordelike Sybokhaarstandaard (RMS) en hulle verdien sodoende ’n hoër premie vir hul skeersels.
Doen jou huiswerk behoorlik
Petrus, Stephan en Reco glo aan ’n proaktiewe en voorkomende benadering. “Doseer op die regte tyd. As jy dink hulle het wurms, moes jy reeds gedoseer het. Werk eerder nou twee ure, anders werk jy later twee weke,” waarsku Stephan. Produsente in die Brits-, Rustenburg- en Swartruggens-omgewing wat met Angoras boer, moet waak teen hartwater.
“Kom kyk eers na ons infrastruktuur as jy Angoras oorweeg. Dit bly kleinvee en jy moet jou vinger op die pols hê. As jy dit egter voluit doen, is dit die moeite werd.”
Stephan sê Angoras is slim en oulike bokke. “Jy kan lekker lag vir hulle en hulle hanteer maklik. Dis ’n lekker dier om mee te boer. As ’n Angora jou eers vat… Veral as jy daarvan hou om met vee te boer. Jy moet ’n passie hê vir dit om te werk.”
Sekuriteit op Uitval, waar daar ook met mielies, sonneblom en Bonsmaras geboer word, is opvallend streng. “Jy moet proaktief optree en jou gebied domineer. As daar een dier weg is, moet jy hom kry, al is hy dood.”
Die swaers se getalle is nou van só ’n aard dat hulle streng kan selekteer en hulle beoog om gerekende kompetisie vir hulle eweknieë in die Karoo te word.
Met Petrus se onlangse sukses by bogenoemde sybokhaarveiling, blyk hulle sterk op pad te wees.