Dit is vir VulPro, die nie-winsgewende aasvoëlbewaringsorganisasie in die Hartbeespoort-omgewing, baie belangrik dat die publiek ingelig word oor die belangrike rol wat aasvoëls in die natuur speel. Hulle het sedert Julie al met 420 leerlinge gesels tydens sessies by skole. Verder het 100 besoekers ook ’n opvoedkundige toer deur VulPro se fasiliteit onderneem om meer te leer. Kontak hulle gerus indien jy in só ’n toer belangstel.
Dis altyd vir VulPro opwindend as een van die aasvoëls wat in rehabilitasie was weer vrygelaat kan word. Gedurende die naweek van 21-22 Oktober kon hulle drie kransaasvoëls ná maande se intensiewe sorg vrylaat.
Nasporingsdata wys altyd die interessante bewegingspatrone van aasvoëls wat vrygelaat word. Hier is aasvoël GB85, wat in Skeerpoort gered is nadat hy te naby aan ’n kragdraad gekom het. GB85 het sedert sy vrylating in September eers Noordwes verken en toe deur Lesotho na KwaZulu-Natal beweeg. Tans ondersoek hy die gebied tussen Kimberley en Bloemfontein.
Hierdie twee witrugaasvoëlkuikens wat vroeër vanjaar gered is, word nou mooi groot onder die wonderlike sorg van VulPro se personeel. Besoek gerus hul Facebook-blad vir meer inligting oor dié organisasie.
Oulike video’s
’n Interessante “kuiergas” kry baie spesiale behandeling by die Owl Rescue Centre in die Hartbeespoort-omgewing. Dié klein varkie is ’n paar weke gelede gered en is nou al dubbel die grootte wat hy was toe hy gered is. In ’n video op hul Facebook-blad word daar gewys hoe die Murrays se dogter die varkie op haar bed voer. Klik hier en “oe” en “aa” saam!
Het jy geweet dat renosters se ore aanhoudend beweeg terwyl hulle slaap? Klik hier om meer te leer oor waarom dit gebeur.