“Ons is die hoop vir die land, nié die politici nie.” Met hierdie boodskap het 77 sprekers in slegs twee dae kongresgangers by Landbouweekblad se “Oplossings vir die platteland” geïnspireer. Die kongres is op 20 en 21 Februarie by Nampo Park naby Bothaville aangebied.
Produsente, landboumaatskappye en “gewone” inwoners van die platteland wat ‘n verskil in hulle dorpe wou maak, het uitgebrei oor suksesvolle projekte wat hulle geloods het om die mense in hulle gemeenskappe op te hef.
Chris Burgess, redakteur van dié landboutydskrif wat al vir meer as ‘n eeu op die rakke is, het die rede vir die kongres verduidelik: “Suid-Afrika is deurspek van probleme soos misdaad, beurtkrag, die verval van infrastruktuur, swak gehalte van onderrig, werkloosheid en die algemene vernietiging van rykdom.
“Dit lei tot hopeloosheid, angstigheid en die onvermoë om te glo dat ‘n beter toekoms moontlik is vir hierdie land.”
Chris meen dat die platteland selfs meer gebuk gaan onder swak munisipale bestuur. “Die platteland het egter ‘n geheime wapen – gemeenskappe en mense wat mekaar ken en vir mekaar omgee. Mense wat geleer het dat opgee nie ‘n opsie is nie.
Mense is die platteland se grootste bate
“Mense is ‘n nasionale bate. Hierdie mense wat probleme binne hulle gemeenskappe oplos, los eintlik die land se probleme op en bring ons een stappie nader aan die land wat ons moet wees.
“Landbouweekblad bedien die platteland al meer as ‘n eeu en wat hier gebeur maak ons diep bekommerd. Ons het gewonder watter bydrae ons kan maak en besluit om dit wat ons góéd doen, te doen: Om mense hul stories te laat vertel.
“Deur stories te vertel, maak ons sin van ons wêreld. Ons hoop dat ons met hierdie stories van sukses nader aan ‘n oplossing sal kom.”
Gaan trek jou kruisie
NWK is ook genader om kongresgangers toe te spreek oor die verskil wat die maatskappy in sy bedieningsgebied maak. Theo Rabe, groephoof- uitvoerende beampte van NWK, het die kongres toegelig.
Theo het benadruk dat die gebrekkige elektrisiteits- en watervoorsiening in Lichtenburg tot gevolg het dat ‘n maatskappy soos NWK sukkel om kundige mense na die platteland te lok en aan te stel.
Hy het die kongres toegelig oor die grondpaaie wat NWK skraap, die gratis voorsiening van water aan Lichtenburg se inwoners en projekte soos Ikateleng wat die maatskappy ondersteun.
“Dit bly die regering se verantwoordelikheid om hierdie dienste te lewer, maar ons kan nie terugstaan en sien hoe dinge agteruit gaan nie. Ons moet hierdie probleme aanpak en die regering verantwoordbaar hou,” het Theo gesê. “Vennootskappe is die goue draad wat vandag hier genoem word en ons sou dit nie kon regkry sonder die hulp van organisasies soos Afriforum en ons produsente nie.”
Theo het by kongresgangers gepleit om in die komende nasionale verkiesing op 29 Mei te gaan stem. “Ons kan nie op verandering aandring as ons nie bereid is om ons deel by die stembus te doen nie.”
Hy meen ook dat dit belangrik is dat die platteland onafhanklik raak van dienslewering deur die regering. “Ons moet ook alle gemeenskappe betrokke kry en inisiatiewe op alle vlakke ondersteun. Dit neem baie tyd in beslag om te dryf.”
Inisiatiewe wat deur die sprekers geloods is, is uiteenlopend. Dit sluit in ‘n gesondheidskliniek wat ‘n verafgeleë dorp bedien; kinderhuise wat gevestig is; topgenetika wat met opkomende produsente gedeel word en kunsprojekte uit herwinde vullis.
Grondhervorming – meer nodig as net die uitdeel van grond
Lennox Plaatjies van Ceres is die nasionale skakelbeampte van Partners in Agri Land Solutions (PALS). Dit is ‘n inisiatief in die privaatsektor waar produsente en gemeenskappe hande vat.
Dit is in 2014 van stapel gestuur en verskil radikaal van vorige grondhervormingsmodelle deurdat dit geskoei is op beproefde sakebeginsels, stewige wetlike strukture, mentorskap en die opleiding van opkomende swart boere om kommersieel suksesvol te wees.
“Ek is die jongste van drie broers en ‘n kind van die platteland. Beide my ouers was plaaswerkers en vandag besit ek ‘n plaas sonder staatshulp,” het Lennox gesê. Hy het vertel hoe wit en swart boere op 19 Augustus 2014 in Ceres bymekaargekom het met die idee om landbou sáám inklusief te bou.
“Dinge is in die verlede verkeerd gedoen en hierdie boere wou op ‘n praktiese wyse transformeer, bydra en die ekonomiese ‘koek’ vergroot. Ons wou werk skep en mense op grondvlak verenig.”
Tog werk PALS nou saam met alle regeringsektore. “Daar is sedert 1994 ‘n nederige poging aangewend, maar deur bloot grond te oorhandig sonder die nodige ondersteunende faktore, lei hierdie mense na hulle eie ondergang,” het Lennox verduidelik.
PALS verseker die volhoubaarheid van grondhervorming deur op die volgende terreine betrokke te wees:
- Toegang tot grond
- Die verskaffing van veral bestuursvaardighede
- Kapitaal om die grond te ontwikkel
- Aankoop van insette
- Markte vir insette en die verkoop van produkte
- Dispuuthantering
- ‘n Ondersteunende omgewing
- ‘n Uittree-strategie
Sedert PALS se ontstaan het daar 47 ondernemings met noemenswaardige swart aandeelhouding tot stand gekom. PALS het ook al uitgebrei na Mpumalanga en die Vrystaat. Lennox glo dat die privaatsektor hier die leiding moet neem. “Die regering kan nie speler en skeidsregter in dieselfde wedstryd wees nie. Die privaatsektor kan lei en die regering moet in staat stel.”
Misdadigers kom hul moses teë danksy koördineringsentrum
Die onluste in KwaZulu-Natal in 2021 het Agri Oos-Kaap laat besef dat, sou dit ooit by hulle moes gebeur, hulle met die broek op die knieë gevang sou word. Jason Kümm is die bestuurder van landelike veiligheid en kommunikasie by Agri Oos-Kaap en het vertel dat hulle gevolglik ‘n 24 uur koördineringsentrum by hulle kantore ingerig het. Dit word permanent beman en taktiese inligting word hierheen gestuur en verwerk.
Tog is daar al in 2018 kringtelevisiekameras in die gebied opgerig ná ‘n plaasaanval. “Ons fokus is op landelike veiligheidskwessies, gebrekkige infrastruktuur word hier aangemeld en kommunikasie is van kardinale belang.”
Hulle moedig lede aan om alle misdaad, hoe gering ook al, by die koördineringsentrum aan te meld. “Ons verskaf hierdie inligting aan die polisie en die provinsiale regering en hou hulle verantwoordbaar,” het Jason gesê.
Onderbrekings in elektrisiteitvoorsiening en slaggate word ook deurgegee. Tot 280 voorvalle word per maand deurgegee. Daar is ook ‘n nommer wat lede in enige noodgeval kan skakel vir hulp.
“Net gister (op die eerste dag van die kongres) was daar ‘n plaasaanval en lede het ons onmiddellik gekontak. Beeldmateriaal van die kameras is nagegaan en daar is reeds twee arrestasies binne enkele ure gemaak,” het Jason onder luide toejuiging van die kongres vertel. “Ons is nie ondersoekers nie, maar gee die inligting vir die polisie. Ons ontleed die inligting en probeer neigings identifiseer.”
Jason word gereeld gedagvaar om in die hof te gaan getuig en hulle probeer sover moontlik met sleutelinligting help. “Die vorming van goeie verhoudings is baie belangrik – met die polisie, regeringsdepartemente, private sekuriteitsmaatskappye en gemeenskapslede.”
Daar is nou al 862 kameras in die Oos-Kaap opgerig waarvan 345 met nommerplaatopsporingstegnologie toegerus is. Net verlede jaar is daar 49 arrestasies danksy hierdie kameras gemaak.
“Ek werk onder moeilike omstandighede met bose mense. Jy kom op ‘n plek waar jy wonder of dit die moeite werd is. Hierdie kongres is egter ‘n bewys dat daar nog baie goeie mense daar buite is,” het Jason afgesluit.