“Die natuur het God gemaak en dis hoekom boerdery so onbeskryflik na aan God is. Wanneer jy ‘n boer is, het jy eintlik niks te doen met ‘n wêreldse sisteem nie. Jy het te doen met God se natuur. Boere het nie met wêreldse sisteme te doen nie.”
Jannie Putter, bekende motiveringspreker en sportsielkundige, het Donderdag (18 April 2024) by Lichtenburg Klipkerk produsente en ander gemeenskapslede kom toespreek. Hy is genader om ‘n motiveringspraatjie te lewer omdat die huidige droogte en gevolglike swak oeste baie produsente benoud laat.
Jannie, wat al vele sportspanne tot oorwinnings gelei en topverkoperboeke die lig laat sien het, het begin deur te vertel dat sy ouers se egskeiding toe hy maar elf jaar oud was, hom diep verwond het. “Alles wat ek geglo het oor mense en God het in my gesig opgeblaas. Die teleurstelling was intens en my geloof foutief.”
Hy het ure tot God gebid om sy pa, wat sy ma vir ‘n ander vrou verlaat het, “terug te bring”.
“Hoeveel van ons bid nie vir die reën om te kom nie? Ons bid vir ‘n uitslag en dit kom nie.” Jannie meen gebed gaan nie oor God nie, maar oor die individu. “Wanneer jy in gesprek tree met God, verander iets binne jou.”
Jannie en sy vrou, Tertia, is vandag 27 jaar getroud. Hulle huwelik was aanvanklik stormagtig en hulle was in ‘n benarde geldelike posisie. Hulle was op die punt om te skei, maar het ‘n praatjie deur ‘n geloofsleier in Johannesburg bygewoon wat Jannie tot nuwe insigte gedwing het.
Hy sê, anders as wat gelowiges dikwels glo, is dit nié die Here Jesus wat oor die aarde heers nie. “Ons lees in Genesis dat die Here Sy gees in ons geblaas en ons die opdrag gegee het om oor die aarde te heers. Hy het teruggestaan en meng nie in met ons heerskappy nie.”
Toe die mens egter sonde gekies het, is hierdie heerskappy aan Satan gegee. “Satan versoek jou wanneer jy op jou swakste is. Dan kom hy met ‘n leuen, vraag of twyfel. Twyfel is die teenoorgestelde van geloof.”
Jannie het aangehaal uit Lukas 4 waar die duiwel Jesus na ‘n hoë berg geneem en hom al die koninkryke van die wêreld gewys het. Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.”
Volgens Jannie is Satan dus in beheer van realiteit. Jesus het egter aan die kruis gesterf en die dood oorwin om beheer hiervan terug te kry. “Toe Jesus opvaar na die hemel, toe sê Hy die volgende woorde: ‘Sodat elkeen wat in My glo kan heers oor die dinge van die wêreld’.”
Jy hoef dus nie ‘n slaaf van die realiteit te wees nie. “Die vraag is egter: Wat is geloof? Net dié wat glo, kan heers,” het Jannie gesê. Hy het Hebreërs 11: 1 aangehaal: “Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”
Die mens maak egter die fout om te hoop op ‘n uitslag, aldus Jannie. “God sê: ‘Hoop op My plan vir jou lewe’.”
Jannie het bygevoeg dat, hoewel hy lief vir mense is, hy hulle nie vertrou nie. “Vertroue maak iemand jou slaaf en jy verwag dan dat hulle sal optree soos jy wil. Dit lei tot bitterheid en nie vryheid nie. God is die enigste betroubare.”
Spreek in geloof
Jannie het die gehoor aangeraai om huis toe te gaan en neer te skryf wat hulle hoop vir die lewe. “Natuurlik kan jy hoop op reën. Jy kan egter nie jou geloof koppel aan die uitslag nie. Jy moet sê: ‘God se plan is die beste vir my’. Die Here soek jou hart, jou wese, jou menswees.”
Die meeste mense het hoop verloor in die aangesig van realiteit. Realiteit en geloof staan regoor mekaar. Realiteit is wat jy sien en geloof is wat jy hoop om te sien.
“Jy moet besluit of jy ‘n realis is en of jy in geloof lewe.” Jannie sê dit was vir hom lewensveranderend om te besef dat realiteit nie ‘n keuse is nie, maar geloof wel.
Hy het benadruk dat woorde krag dra en Spreuke 18:21 aangehaal: “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.” Daarom het Jannie die gehoor aangeraai: “Praat in geloof. Praat oor wat jy hoop. As jy elke dag begin met geloof, sal geloof uiteindelik jou realiteit word.”
Hy het afgesluit deur te sê dat sinergie ook belangrik is. “Kom ons stem saam dat die realiteite van hierdie wêreld nie tel nie. Ons hoop en geloof in God is die avontuur van ons lewe. Die Here sê Hy sal jou nooit bo jou kragte versoek nie.
“Ons is bekommerd oor iets wat nog nie gebeur het nie. Daar staan 365 keer in die Bybel om jou nie te bekommer nie – een vir elke dag. As jy God elke dag eerste soek, kan jy die realiteit ingaan met die houding dat dit jou nie pla nie, omdat jy reeds vanoggend jou gedagtes gestem het.”
Die geleentheid is geborg deur NWK, EconoDiesel en Gertjie Grobler. Verversings is deur Die Deli voorsien.