Hoewel Suid-Afrika se bevolking groei, het die volume van voedsel wat in 2023 per kapita verkoop is, met 3,2% gedaal. Dit terwyl die bevolking groei. Die rede is eenvoudig: Verbruikers kry swaar.
Kobus Bester, direkteur van Livestock Registering Federation, het uit PricewaterhouseCoopers (PwC) se ekonomiese verslag wat op 23 Mei uitgereik is, aangehaal toe hy Noordwes Rooivleisprodusente-organisasie (NWRPO) se jaarkongres die afgelope Dinsdag toegespreek het.
“Daar is ‘n behoefte vir julle produk, maar die vraag is of daar geld gaan wees om dit te koop. Met ‘n verwagtige mielieprysstyging van tot 12%, gaan rooivleisprodusente en uiteindelik verbruikers nog meer moet betaal en onder verdere druk verkeer.”
NWK was die hoofborg van die kongres wat by dié maatskappy se opleidingsentrum in Lichtenburg aangebied is.
Waar pas rooivleis in die prentjie?
Kobus het die besprekingspunt “Wat verwag die rooivleisprodusent van die RPO?” toegelig, maar produsente gemaan om hulle eie plek binne die rooivleis-ekonomie te verstaan en aktief aan die onderskeie prosesse deel te neem.
Volgens hom is lede van die RPO se grootste bekommernis die invoer van kalwers van Namibië en Botswana, wat pryse van plaaslike kalwers afwaarts dwing. “Lede verwag van die RPO om hierdie invoere te stop. Begryp jy egter bilaterale handelsooreenkomste tussen lande en die impak daarvan? Besef jy dat jy die geleentheid het om waarde tot daardie kalf te voeg en iets te genereer?”
Nóg ‘n kommerwekkende statistiek uit PwC se verslag, is dat tot 11,1 miljoen ton voedsel jaarliks in Suid-Afrika bloot weggegooi word. Kobus het produsente bedag gemaak op die koste wat dit verg om vleis by ‘n abattoir te verkoel. Vroeër is produsente vergoed vir velle en die vyfde kwart het gedien as slagfooi.
Vleisgehalte word boonop beïnvloed deur prosesse by die abattoir. “Was die dier voor sy dood aan stres onderwerp? Hoe baie is die dier hanteer? Daar is ‘n magdom faktore wat ‘n rol speel.”
Die karkas se pH moet ook verlaag word deur verkoeling. Abattoirs is egter ingerig om karkasse van slegs sowat 200 kg vinnig genoeg te kan verkoel, waar produsente deesdae karkasse van tot 330 kg lewer. “Só kan ‘n A-graad karkas steeds ‘n onaangename eetervaring vir die verbruiker tot gevolg hê.”
Kobus meen daarom dat die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf eerder gebruik moet maak van ‘n vleisgraderingstelsel as een waarvolgens beeste geklassifiseer word. Dit sal die bedryf se toegang tot wêreldmarkte verbeter.
Begin by jouself
Naspeurbaarheid is krities vir marktoegang. Tot 50% van Suid-Afrika se beeste word deur kommunale boere besit. Omdat daar nie bemarkingskanale vir vleisprodusente in die sogenaame rooigebiede (brandpunte vir bek-en-klouseer) is nie, is hulle enigste opsie dikwels om die vleis te smokkel, meen Kobus.
“Wat is jou bydrae tot die bekamping van bek-en-klouseer? Gesels jy met jou buurman oor die implikasie van goedkoop kalwers wat op sy plaas afgelaai word, sonder dat hy hulle oorsprong ken?
Kobus sê die rekordhouding van sommige rooivleisprodusente is skokkend en het verwys na die onakkurate en onvolledige aantekening van inentings. “As ons dit nie eens regkry nie, hoe gaan ons naspeurbaarheid verder neem?”
Hy het bywoners van die kongres aangemoedig om “meer met minder te produseer”, deur eerder van goeie genetika as groeihormone gebruik te maak.
“Deur net die regte vaar te kies en te gebruik, kan jy tot ‘n bykomende 7% op ‘n 300 kg karkas kry. Dis 21 kg ekstra – teen R50/kg is dit ‘n bykomende R1 000 – nie noodwendig wins nie, maar meer geld vir dieselfde moeite.”
Streef na inklusiwiteit
Kobus het kongresgangers aangeraai om ‘n helpende hand uit te reik om almal suksesvolle kommersiële produsente te maak. “Die regering is julle vennoot en sal julle ernstiger opneem as julle streef na inklusiwiteit in die bedryf.”
Hy het hulle ook aangemoedig om te belê in hul bedryf en toe te sien dat die geld reg aangewend word. “Die statutêre heffing bring maar R44 miljoen in, wat bra min is vir ‘n bedryf soos ons s’n.”
Kobus het gewaarsku teen ‘n “vlak van verdeeldheid in die bedryf wat vinnig uitgesorteer moet word” en gekap na produsente wat deurlopend onder andere voerkrale kritiseer. “Ons bedryf is een van min waar die kliënt die heeltyd gekritiseer word. Steek hand in eie boesem, kom nader aan mekaar en sorteer dinge uit.”
Hy het afgesluit deur te sê dat die RPO ‘n mondstuk van ‘n aktief deelnemende rooivleisprodusent behoort te wees. “Moenie net praat nie. Kyk waar jy jou bydrae kan vermeerder ten einde jou teikenmark te bereik.”
Ook op die agenda
Nico Kilian en Danie de Villiers is onderskeidelik weer tot voorsitter en ondervoorsitter van NWRPO verkies.

Die kongres is ook deur dr. Frikkie Maré (uitvoerende hoof van die nasionale RPO) en Brent McNamara (uitvoerende hoofbestuurder van Agri Oos-Kaap), toegespreek.


Pieter Kleingeld, groephoof- finansiële beampte van NWK, het NWK Online se kuddebestuurs-
program, ‘n nuwe funksionaliteit tot NWK se eie toep, toegelig.
