Veeprodusente kan nou NWK Online met groot vrug inspan in hulle boerdery-opsette met die funksionaliteit Kuddebestuur wat onlangs die lig gesien het. NWK Online, die slimkoptoep vir landbou, is verlede jaar bekendgestel en die maatskappy het besluit om dit ook vir hul vennote in die veebedryf in te span.
‘n Toenemende aantal van NWK se boereklante diversifiseer om hulle risiko te versprei en het daarom ook veevertakkings.
NWK se voorste inligtingstegnologie-ontwikkelaars het veeprodusente genader en gevra watter funksionaliteite hulle op Kuddebestuur sou wou sien. Ná maande se ontwikkeling, spog NWK Online se Kuddebestuur nou met ‘n rekordhoudingsprogram waar veeprodusente relevante inligting rondom al hul kuddes kan stoor.
Rekordhouding
Suksesvolle produsente weet mos “om te meet is om te weet” en kuddebestuur in veeboerdery is geen uitsondering nie. Kuddebestuur op NWK Online se funksionaliteite sluit die volgende in:
- ‘n Databasis wat al die diere op die plaas akkommodeer.
- Die rekordhouding van bestuursinligting soos wegings en dieregesondheid.
- Toeken van diere aan troppe wat in groepverband behandel kan word, soos om as groep geweeg of gedip te word.
- Die rekordhouding van alle behandelings soos inentings. Die produsent kan dus ‘n geskiedenis opbou van alle behandelings en ondersoeke soos dragtigheid.
- Rekordhouding van alle wegings op elke dier. Monitor groei en identifiseer diere vir uitskot op grond van groei-indekse.
- Rekordhouding van troppe en getalle diere en die tydperk wat diere in ‘n kamp loop om kampbestuur oor tyd te fasiliteer.
Onafhanklik van netwerkverbinding
Selfoonopvangs in die veld is ‘n algemene kopseer wat NWK ingedagte moes hou tydens die ontwikkeling van die toevoeging tot dié toep. Vir hierdie rede is Kuddebestuur as ‘n losstaande toep ontwerp en kan dus onafhanklik van enige netwerkverbinding gebruik word.
Daarom is dit belangrik dat gebruikers die NWK Livestock-toep aflaai. Dit is gratis op beide die “Android” en “Apple”-platforms beskikbaar.
Alle aktiwiteite en enkoderings in die veld sal met die hoofstelsel sinchroniseer sodra dit binne ‘n internetverbinding (soos 4G of Wi-Fi) gebring word. Aksies (soos dip of weeg) kan dus van lyn af in die veld uitgevoer word terwyl die data op die handstuk gestoor word (sonder internet). Sodra ‘n internetverbinding beskikbaar word, laai die data op en sinchroniseer só na die hoofdatabasis.
NWK Livestock skakel parallel met die NWK Online-toep. Navrae, administratiewe funksies en verslae kan op NWK Online verkry en bestuur word.
Elke gebruiker werk onder sy unieke identifikasie (ID). Ander betrokkenes soos adviseurs of bestuurders kan toegang verkry slegs indien die eienaar dit verleen.
GEE JOU MENING
Alhoewel die toep reeds beskikbaar is vir gebruik deur veeprodusente , word daar deurlopend verbeterings aan die toep gemaak. Gebruikers kan gemeenskaplike behoeftes en voorstelle tot verbetering aan NWK deurgee. Voorstelle sal na oorweging ingebou word. Op hierdie wyse word die toep oor tyd uitgebrei, verbeter en opgedateer.
Funksies
Beskikbare funksies sluit die volgende in:
- Die toep maak rekordhouding by beeste, skape, bokke en varke moontlik.
- Diere kan tot die databasis gevoeg word teen ‘n unieke oornommer. Elektroniese identifikasie is ‘n bykomende opsie (RFID- tegnologie) om inligting outomaties te stoor. Die toep benodig ‘n suksesvolle verbinding met ‘n skandeerder voordat die opsie op die toep gebruik kan word.
- Wegings kan met die hand gedoen word, dus word die oornommer fisies op die toep ingelees en die gewig word ook fisies teenoor die dier se nommer ingelees.
- Met die skrywe van hierdie artikel was NWK se ontwikkelingspan in gesprek met die tegniese span van TAL-TEC. NWK is vol vertroue dat die toep binnekort direk gekoppel gaan wees met die elektroniese skale van TAL-TEC. Deur gebruik te maak van RFID-tegnologie en elektroniese skale sal beide die nommer en die gewig elektronies vasgelê word. Hierdie deurbraak sal die weging van diere beslis vergemaklik en bespoedig.
- Enige veeartsenykundige behandeling kan op dieselfde wyse individueel aangeteken word. Behandelings kan egter ook in tropverband aangeteken word, byvoorbeeld ‘n trop koeie wat dieselfde behandeling op dieselfde dag ontvang, soos inentings of dip.
- Bestaande diere waarvan die rekords op ‘n sigblad bygehou word (byvoorbeeld Excel) kan na ‘n sjabloon (templaat) oorgedra en gemaklik op NWK Online ingevoer word. Dit is dus nie nodig om bestaande diere wat reeds elektronies vasgelê is oor in te tik op die toep nie.
- Diere wat doodgaan of verkoop word, word as sulks aangeteken. Vrektes word teen ‘n datum genoteer en die oorsaak van die vrekte word ook aangeteken. Die moontlike oorsake word gelys en die lys groei soos nuwe oorsake bygevoeg word. Vrektes kan enigiets insluit soos siekte, diefstal en slagtings. Daar is verder ook die opsie om aan te teken watter siekte dit sou wees – hierdie lysie brei ook uit soos nuwe siektes bygevoeg word.
Ten slotte
Die gratis NWK livestock-toep is ‘n eenvoudige, tog handige stuk gereedskap wat kommersiële veeprodusente se lewens gaan vergemaklik. Gebruikers van die toep sal inligting rakende hulle kuddes op enige tyd op ‘n slimfoon kan sien. Hierdie inligting kan help dat ‘n veeprodusent oordeelkundige bestuursbesluite neem.
Belangstellendes kan Pieter le Roux, hoof-diere-en-weidingwetenskaplike by NWK, skakel by 018 633 1153 of ‘n e-pos stuur na pieterlr@nwk.co.za