Ek is ‘n nuushond en kyk elke dag douvoordag na Netwerk24 vir die belangrikste hoofopskrifte. As poliesman het my pa elke dag Beeld, Die Transvaler en The Citizen huis toe gebring om op hoogte van sake te bly. Saterdae moes ek met die fiets kafee toe om Beeld vir hom te gaan koop. Vroeg, want dit het vinnig uitverkoop en hy wou kyk watter rugbyspanne later daardie dag op die veld sou uitdraf. Sondae op pad kerk toe het ons by die koerantverkoper gestop vir Rapport.
Ek het met hierdie koerante grootgeword. Toe ek in 2007 as joernalis begin werk het, het koerante maar redelik onlangs eers begin om van hulle artikels op webwerwe beskikbaar te stel. Dit het tóé geblyk dat mense langtand aan die digitale weergawes sou byt. “Ek wil steeds die papier tussen my vingers voel,” het veral die ouer garde opgemerk.
Die bedryf was daardie tyd taamlik gerus – dit sou dekades neem voor gedrukte koerante heeltemal deur webwerwe vervang word, indien ooit. Ek was daarom totaal uit die veld geslaan toe ek op 13 Junie oor ‘n koppie groentee op Moneyweb (aanlyn) lees dat Beeld, Rapport (asook Daily Sun en City Press) se gedrukte uitgawes in alle waarskynlikheid teen einde September vanjaar gestaak gaan word.
Beeld het pas sy 50ste bestaansjaar gevier. Sedert 2014 het sy sirkulasie egter met ‘n reuse 71,4% gedaal – van 67 766 eksemplare daagliks tot slegs 19 369. ‘n Gedrukte Beeld kos R18,50. Dit kan ‘n aardige bedraggie raak om elke dag te betaal. Tog dek dit nie naastenby die druk- én vervoerkoste vanaf die drukpers in Johannesburg na byvoorbeeld Vryburg nie. Adverteerders kwyn ook die een na die ander omdat hulle hul produk of diens teen ‘n fraksie van die prys op sosialemediaplatforms soos Facebook kan adverteer.
Natuurlik het verbruikerspatrone ook noodwendig verander en kry die meeste mense nou hulle vermaak én nuus aanlyn. Ek het geweet gedrukte koerante se dood is onvermydelik, maar ek het dit waaragtig nie só gou verwag nie.
NWK het op 4 Mei sy 115de verjaardag gevier. In hierdie uitgawe vertel die direksie, bestuur en Derek Mathews (nasaat van een van die stigtersfamilies) waaraan hulle dink NWK sy sukses te danke het en ook wat Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy vir hulle deur die jare beteken het.
Ek blaai deur die boek “Die mielie ontsluit die Weste”, wat deur Piet Meiring saamgestel is ter viering van NWK se 75ste bestaansjaar (toe natuurlik Noordwes Koöperasie). Op bladsy 157 pryk my oupa se besonderhede onder diegene wat sedert 1939 die eerste lede was om by die destydse beperkte koöperasie aan te sluit: H Smalman: Klipfontein, Coligny – 1948.06.15 – nogal ‘n dag ná sy 35ste verjaardag.
As oupagrootjie in die landboubedryf, sou NWK talle innovasies oor elf dekades beleef. Diegene wat destyds in die 1960’s verstom gestaan het oor die oprigting van reusesilokomplekse, draai vandag sekerlik in hulle grafte om as hulle sien wat ‘n hommeltuig alles kan doen.
Die wêreld verander vinniger as wat ons kan byhou en ek wil soms skreeu: “Stop die aardbol, ek wil afklim.”
Met die skryf van hierdie rubriek het president Cyril Ramaphosa boonop nog nie die nuwe kabinet aangekondig nie en is die toekoms van Suid-Afrika onder ‘n sogenaamde regering van nasionale eenheid bra onseker. Ek is egter vol vertroue dat NWK etlike dekades en selfs eeue lank nog relevant sal bly. Daar is maar net nie ‘n plaasvervanger vir ‘n mieliepit in die grond wat groei en verwerk word tot ‘n produk wat die wêreldbevolking voed nie. (“Vleis” word nou al met ‘n 3D-drukker gedruk, maar dit noodsaak ‘n rubriek vir ‘n ander dag.)
Die meeste produsente met wie ek gesels, beskou hulle beroepe eerder as ‘n roeping. Solank as wat hulle bereid is om te saai en te maai, sal NWK daar wees om met hulle hande te vat. Die besigheidsomgewing verander gedurig – dit is al ‘n konstante – en NWK het hom keer op keer as dinamiese vennoot in onsekere tye bewys.
Op nóg 115 jaar, NWK! Gesondheid!