Een van die belangrikste produksiebestuursbesluite wat elke jaar ’n kopkrappery veroorsaak, is wanneer om te plant. Dié besluit word meestal geneem na gelang van die heersende weerstoestande, maar die beskikbare grondvog, hoeveelheid gewasse en aantal hectare wat voorberei en geplant moet word, speel ook ’n rol. Die plantdatum speel dus ‘n groot rol in die bestuur van produksierisiko’s.
Wisselende omgewingstoestande tydens planttyd, wat die temperatuur insluit, het ’n invloed op die gewas se ontkieming, groei en ontwikkeling.
Volgens Charles Basson (sonneblomteler en produkbestuurder by Syngenta) kan die plant van ’n gewas buite die optimale plantvenster vir seker ’n nadelige invloed op die opbrengs hê. “Wanneer vroeg geplant word, skuil die risiko in die moontlikheid van koue en die uitwerking daarvan op die ontkiemende saad en ontwikkelende saailing. Wanneer laat geplant word, verkort die groei seisoen, wat op sy beurt die risiko vir koue- of rypskade later in die seisoen verhoog,” sê Basson.
Sonneblom word dikwels as alternatiewe gewas in die somerreënvalgebiede in die land geplant, veral in seisoene wanneer die reënval nie voldoende of betyds was om mielies of sojabone te plant nie. Sonneblom is egter ’n belangrike wisselbougewas in die westelike produksiegebiede.
“Sonneblom is baie aanpasbaar. Hierdie aanpasbaarheid by verskillende omgewingstoestande kan
toegeskryf word aan die gewas se verdraagsaamheid teenoor beide lae en hoë temperature,” verduidelik Basson.
Hy wys egter ook daarop dat die laat aanplanting van sonneblom sekere produksie-uitdagings kan inhou. “Sonneblom kan teen 4°C ontkiem, alhoewel optimale ontkieming en ontwikkeling by grondtemperature tussen 12°C en 20°C plaasvind. Grondtemperature bo 30°C kan ontkieming benadeel.
“Die optimale temperatuur vir groei en plantontwikkeling is tussen 18°C en 33°C. Optimale saadproduksie vind by omgewingstemperature tussen 21°C en 24°C plaas. Laat aanplantings beteken dat die plant meer blootgestel gaan word aan nadelige klimaatstoestande tydens ontwikkeling en dat hoë temperature tydens die bestuiwingstydperk ook ’n invloed op bestuiwers kan hê, wat gevolglik bestuiwing kan benadeel. ’n Skielike vroeëseisoenkoue kan ook saadvorming benadeel.”
Basson meen ’n produsent wat sonneblom as ’n hoofgewas aanplant, moet oorweeg
om tussen Oktober en November te plant en nie later as in Desember nie.
Faktore wat die opbrengs in sonneblom beïnvloed, sluit in:
- Plant nie tydens die optimale plantdatum nie.
- Plantpopulasie.
- Grond-pH.
- Bemesting.
- Kultivar.
- Omgewingsfaktore soos die temperatuur, reën en siektes.
- Wanneer sonneblom as ’n vanggewas behandel word.
Die fokus van Syngenta se sonneblomtelings- en produkontwikkelingswerk is om produkte te ontwikkel wat tot voordeel van die totale bedryf is. “Die nuutste genetika en hoë olie-inhoudkultivars wat oor bykomende verdraagsaamheid teen onkruiddoders beskik, vorm nou deel van ons plaaslike toetsprogram. Die resultate wat ons tans in die proewe sien, maak ons baie opgewonde,” sê Basson.
Hy wys daarop dat Syngenta op die volgende eienskappe fokus in die sonneblomteelprogram:
- Olie-inhoud: Die benadering is om vroeg reeds vir ’n hoë olieinhoud te selekteer.
- Agrotipe: Dit sluit in die algehele voorkoms van die baster oor verskeie omgewings en plantdatums, asook die planthoogte, staanvermoë, kopgrootte, die kop se hoek, dae tot blom en dae tot fisiologies ryp.
- Siekteweerstand: Dit sluit die baster se algehele gesondheid oor die groeiseisoen in, maar fokus ook op spesifieke siektes soos Sclerotinia.
- Onkruiddoderweerstand.
- Graanopbrengs: Hier val die fokus op die maksimum graanopbrengs gepaardgaande met goeie stabiliteit en aanpasbaarheid oor omgewings en jare.
- Saadproduksie: Ouerlyne word ondersoek met die oog op aanpasbaarheid in die produksiegebiede, opbrengs en siekteverdraagsaamheid.
“Die toekoms van sonneblom lê egter in olie. In die verlede was die fokus altyd op die graanopbrengs, met verwerkers wat aan die kortste ent getrek het. Die nuwe fokus is op kultivars met ’n hoë olie-inhoud, wat tot die verwerker en produsent se winsgewendheid kan bydra,” noem Basson.
Die huidige olie-inhoud van sonneblomgraan is tussen 36% en 38%, maar Syngenta se twee sonneblomkultivars, SY 3970CL en SNK 270 CL, kan met die oog op hoë olielewering geplant word. “In ons proewe en ook in kommersiële lande is oliepersentasies tussen 42% en 50% en selfs tot 56% oor die afgelope paar seisoene gemeet. Dit beteken definitief iets ekstra in die produsent se sak aan die einde van die seisoen.
“Sonneblom is dus baie meer as ’n vanggewas. Sonneblom is uitstekend aangepas vir produksie onder droër toestande. Hierdie voordeel, in kombinasie met laer insetkoste, betroubare markpryse en ’n opsie om ’n premie vir die olie-inhoud te beding, maak dit ’n gewas wat op gelyke voet met ander graangewasse kan kompeteer.”
Die plantpopulasie speel ’n beduidende rol in die realisering van die olie-inhoud in sonneblom (Grafiek 1). Op die grafiek kan duidelik gesien word hoe verskillende basters op wisselende plantpopulasies reageer.
In die Syngenta-proewe is wisselende plantpopulasies (30 000 tot 70 000) geplant om vas te stel wat die invloed daarvan op Syngenta se basters sal wees. Deur verskillende populasies van dieselfde baster te plant en dit met ander basters te vergelyk, kan verskille in die plantontwikkeling, opbrengs, olie-inhoud en algemene prestasie bepaal word. Die data wat ingesamel is, maak dit moontlik om die optimale plantpopulasies vir basters wat tans in die mark en in die pyplyn is, te bepaal.
Syngenta se kommersiële basters, SNK270CL en SY3970CL, asook twee nuwe eksperimentele basters, is in die 2023/2024-seisoen teenoor ’n markmededinger getoets. Syngenta se genetika klop die mededinger met die olie-inhoud en die sonneblomportefeulje kompeteer ook sterk in terme van graanopbrengs. Die kombinasie van hierdie twee eienskappe is waar Syngenta se sonneblom vir die produsent geld terug in sy sak kan sit deur verhoogde premie-opbrengste te lewer.