Die meeste klein seuntjies het met vragmotortjies gespeel. “Dorpe en paaie” is met groot sorg in die sand uitgelê en die kleinspan het speel-speel mielies na die silo’s aangery of brood na ’n supermark. Min het hulle geweet met watter tegnologie hierdie vragmotors eendag sou spog!
Dekades gelede het ’n vragmotor uit ’n dorp weggetrek en moes die eienaar dikwels tot die volgende dag wag om te hoor of die besending sy eindbestemming veilig bereik het. Danksy opsporingstelsels kan ’n mens vandag sien presies waar ’n vragmotor op die pad is, of dit beweeg en of dit stilstaan.
Die verval van die spoornetwerk het Suid-Afrikaners genoop om toenemend op vragmotors vir die vervoer van goedere te steun. Die toename in vragmotors op Suid-Afrikaanse hoofweë maak hulle ongelukkig gewilde en maklike teikens vir sindikate wat hierdie goedere, wat wissel in waarde, wil roof. Gelukkig kan ’n mens misdadigers ’n stappie voor wees danksy kunsmatige intelligensie (KI).
Só werk NWK Logistics
NWK Logistics spog met ’n vloot van 34 vragmotors wat onder andere produsente se graan vervoer. Dié vloot is toegerus met die jongste tegnologie wat doeltreffende vlootbestuur vergemaklik.
Brandstofmonitering- en kamerastelsels wat in vragmotors gemonteer word, stel die eienaar van ’n vrag in kennis van presies wat die bestuurder sien en doen. Dit bemagtig dus ook ’n operateur om die omgewing waarin die bestuurder werk, ten alle tye te sien.
ELKE DRUPPEL TEL
Met die huidige duur brandstofpryse in Suid-Afrika, is dit van kardinale belang om die brandstofkoste te monitor en so laag as moontlik te hou. Die gebruik van intelligente brandstofsensors wat in die vragmotor se brandstoftenk gemonteer word, maak dit moontlik om die status van alle brandstofverwante voorvalle ten alle tye te kommunikeer.
Hierdie stelsel kan selfs as ’n aanvullende opsporingstelsel gebruik word as die primêre stelsel onklaar raak. Die lesing word dan per GPSsein na ’n digitale platform op ’n rekenaar gestuur.
Die akkuraatheid van die stelsel hang af van die kalibrasie en moet korrek gedoen word om tot 99% akkuraatheid te kan handhaaf. Gevalle van wanbestuur van die brandstof word wel soms gerapporteer, soos wanneer die vragmotors teen ’n helling parkeer. Sodra die vragmotor egter weer op ’n gelyke oppervlak beweeg, korrigeer die stelsel homself.
Inligting oor die ingooi van brandstof en die verbruik daarvan word noukeurig aangeteken. Die operateur hoef nie meer te wag vir die fisiese brandstofstrokies voordat daar oor die brandstofverbruik van elke vragmotor verslag gedoen kan word nie. Die monitering verhoed ook dat enige diefstal of ongemagtigde verwydering van die brandstof plaasvind.
NWK Logistics gebruik daagliks brandstofsensors, tesame met roetebeplanning, om bestuurders by te staan wanneer hulle brandstof ingooi. Hulle word gelei om die goedkoopste brandstof in te gooi sonder om gehalte in te boet, om sodoende kostes onder beheer te hou.
’N WAKENDE OOG
’n Tweerigting-kamerastelsel in die vragmotor se kajuit stel ’n operateur in staat om te sien wat die bestuurder sien. Die hoofdoel van die kamerastelsel is om die veiligheid van die bestuurder, asook die betrokke toerusting, te monitor en te beskerm.
Die kamerastelsels maak van KI gebruik om die vragmotorbestuurder met behulp van gesigsherkenningstegnologie te identifiseer. Die verbruiker of operateur word toegelaat om ’n stel reëls in die program in te lees.
Met behulp van die verskillende sensors in die kamera, word ’n bestuurdersprofiel geskep. Die bestuurder(s) word dan volgens ’n sekere bestuurstyl geklassifiseer. Die kamera se sensors kan die verbruiker of operateur in kennis stel indien die bestuurder se aandag afgelei word, die sitplekgordel nie vas is nie en selfs as die bestuurder te naby aan die voertuig voor hom beweeg.
Hierdie sensors kan verder rapporteer of die bestuurder te hard op die remme trap en of die vragmotor te skerp draai. Wanneer daar nie aan die reëls voldoen word nie, sal die stelsel outomaties kort grepe beeldmateriaal vanaf die binne- en buitekameras genereer en tydelik stoor. Die beeldmateriaal word dan deur die operateur nagegaan en hy/sy kan dan besluit of enige verdere stappe geneem moet word.
NWK Logistics het hierdie kameras al met groot vrug ingespan in gevalle waar derdepartye beweer het dat hulle skade gely het weens aksies deur die vlootbestuurders. Hulle aantygings kon nog elke keer danksy die beeldmateriaal weerlê word.
Samevatting
Die vervoer van goedere met vragmotors skep talle risiko’s, maar danksy tegnologie soos brandstofsensors en kamerastelsels kan die beveiliging van bestuurders en goedere verskerp word.
Met die snelle tempo van tegnologiese vooruitgang, kan die waardeketting vir seker na nóg uitvindsels uitsien wat vragmotors se werksaamhede net verder sal verfyn.