Neem asb kennis dat hierdie artikel foto’s bevat wat sensitiewe lesers mag ontstel.
Drie werknemers van NWK se Silodienste het ter noue nood aan die dood ontkom toe hulle deur twee verwoede pitbulls verskeur is. Hulle het twee maande ná hul nagmerrie-ondervinding op 19 Mei in Burgersdorp in Lichtenburg met NWK Arena hieroor gesels.
Jorrie Jordaan (53) is ‘n inspekteur vir voedselveiligheid en administrasie, Michael Rossouw (27) is assistentbestuurder by die silo’s op Coligny en Nico Fourie (43) is bestuurder van die silo’s by Hibernia.
Michael se beserings was die ergste. Stukke vleis is uit sy linkerbeen geruk en dit lyk of hy eerder deur ‘n haai beetgekry is. Hy moes ‘n veloorplanting ondergaan en sy wonde is met 76 steke en 34 krammetjies geheg.
Dié drie manne se verhaal is een van ‘n ongelooflike veggees, maar ook waarin ‘n Hoër Hand se beskerming duidelik sigbaar is.
“Hulle het gegaan om dood te maak”
Michael en sy verloofde, Tanya Prinsloo (36) het met hul seuntjie, Kian, wat toe maar vier maande oud was, by Jorrie en sy vrou, Ida (52) gaan kuier. Ida is Michael se ma. Hulle het omstreeks 18:00 by die Jordaans gestop. Hulle erf is nie omhein nie en Michael het na die stoep gestap om die klokkie te lui. Jorrie en Ida was egter agter in die huis en hy is terug na die voertuig om Tanya met klein Kian te help.
Die honde was in ‘n erf oorkant die pad. Die eienaar het die huis in September 2023 gekoop en daar was kort hierna na bewering verskeie voorvalle waartydens die honde mense bestorm of aangeval het. Intussen het iemand die hek van die erf waarin die honde aangehou is, oopgemaak om in te ry.
“Toe ek weer kyk, was die honde halfpad oor die pad,” onthou Michael. Tanya het op daardie stadium vir Kian in sy karstoeltjie vasgehou en Michael het haar terug ingestoot op die agtersitplek met die gedagte om langs hulle in te klim. Dit was te laat. Sy linkerbeen was nog buite die voertuig toe die een hond, ‘n teef, hom daaraan gryp.
“Hulle het niks geblaf nie, net reguit vir ons gekom,” sê Michael. “Daai honde was net… Daai goed storm net. Enigeeen… Byt hom en klaar,” voeg Jorrie by. “Hulle het gegaan om dood te maak,” beaam Nico.
‘n Verwoede geveg
Michael het op die sitplek gesit en skree. “Die eerste twee happe het ek gevoel, maar daarna het die adrenalien ingeskop.” Hy het Tanya en Kian met sy lyf beskerm. Tanya het intussen die karstoeltjie, waarin Kian nog vasgegordel was, omgedraai sodat hy met die stoeltjie bedek was. Die teef het verby Michael beweeg asof hy by Tanya en Kian wou uitkom, waarop Michael haar verwoed met die vuiste bygedam het. Dis tóé dat die reun hom ook gegryp het.
Tanya het die regteragterdeur oopgemaak en met Kian uitgeklim. Michael en die honde is agterna. Tanya het Kian uit desperaatheid in die voertuig se kattebak geprop. In wat Michael beskryf as ‘n wonderwerk, het die teef bloot verby Tanya geloop en hom weer gegryp. Ida het uitgestorm om haar seun te help. Sy het die teef se lyf met die voertuig se deur geslaan, maar die hond wou Michael nie los nie. Die reun het Ida toe aan die boud, been en arm gebyt.
Jorrie het gesien hoe die teef Michael telkens ruk en slinger as sy hom byt asof hy ‘n stuk lap of speelding was. Hy het die veiligheidshek oopgemaak om ook te gaan help waarop die teef opgespring en hom in die gesig gebyt het. Hy is ook aan die been en voet gebyt.
Michael is drie keer deur die teef platgetrek, maar kon telkens daarin slaag om op te kom en na die veiligheidshek by die stoep te strompel. Sy langbroek was in hierdie stadium om sy enkels.
Hy kon uiteindelik daarin slaag om die hek te gryp en het homself só op die stoep getrek. Jorrie het die verwoede teef met die hek vasgedruk en kon hom en Michael uiteindelik veilig toesluit. Ida en Tanya het met klein Kian weggery.
Die honde gryp nóg ‘n slagoffer
Nico en sy gesin het op daardie stadium by sy skoonouers geëet. Hulle huis is agter dié van die eienaar van die honde. Hulle het die geraas gehoor en gaan ondersoek instel. Nog voordat hulle om die hoek kon kom, het hulle ‘n vrouestem hard hoor roep dat iemand ‘n ambulans moes ontbied. Nico se vrou en skoonma het besef dat hulle nie hul fone by hulle gehad het nie en het omgedraai.
Nico en sy skoonpa het nader gegaan en kon in die skemer sien dat die honde iemand aanval. Hulle het nie besef dat dit Jorrie en Michael was nie.
Nico se skoonpa het omgedraai om hulp te gaan soek. ‘n Omstander het iets geskree en Nico het kort hierna gesien hoe die twee honde op hom afpyl. “Hulle het langs mekaar gehardloop. Ek sal dit nóóit vergeet nie,” sê Nico. Die teef het in die lug op Nico gespring en hy het haar met die vuiste begin bydam en na die reun geskop.
Die reun het hom egter aan die hak gebyt en afgetrek grond toe. “Ek het geweet as ek hier bly lê is daar moeilikheid.” Nico kon daarin slaag om op te kom, waarop een van die honde hom aan die boud gebyt en wéér grond toe getrek het.
Nico het op die kant van die sypaadjie met die honde gestoei toe Ida en Tanya in die voertuig teruggekeer het. Uit desperaatheid, het Ida op hulle afgejaag en die honde met die voertuig getref.
Die reun het Nico gelos, maar die teef het haar nie van stryk laat bring nie. Wéér het sy vir Nico se keel gemik, waarop hy haar vasgegryp en aan die nekvelle vasgehou het. Iemand het met ‘n vuurwapen opgedaag en die teef in Nico se arms doodgeskiet. Die reun is ook later van kant gemaak.
“Ek het gedink dis die einde”
Terug by die Jordaans het Michael op ‘n bank gaan lê. Jorrie, ook totaal uitgeput van die geveg, het op ‘n stoel gesit. Die sweet het Michael uitgeslaan en hy het Jorrie vir ‘n glas water gevra.
“Ja, ek het gedink ek gaan dit nie oorleef nie,” erken Michael. “Ek het vir oom Jorrie gesê ek dink nie die ambulans gaan betyds wees nie.”
Hulle is egter kort hierna na ‘n plaaslike dokter geneem waar hulle wonde behandel is. Weens die aard van Michael se beserings, is hy na Generaal De la Rey-hospitaal. Hier wou dokters hom na Bophelong-hospitaal op Mahikeng oorplaas.
Die eienaar van die hond het intussen by die hospitaal opgedaag en gesê dat hy die beste mediese sorg vir Michael wou hê en dat hulle hom na die Life Anncron-hospitaal in Klerksdorp moes neem.
Michael het nie ‘n mediese fonds nie. Die eienaar van die honde het R60 000 gegee, maar Anncron wou R111 000 hê. ‘n Skarefinansieringsveldtog is begin en die nodige geld ingesamel.
Michael se wonde is 28 uur ná die aanval in die teater ontsmet en geheg. Op 28 Mei is vel van sy bobene op van die wonde oorgeplant. “Dit was die seerste,” sê Michael. “Dit was baie gevoelig.”
Nico is na ‘n ander dokter waar sy wonde ook geheg is. Eers later die aand toe hy vir Thys Visagie (streeksbestuurder by NWK Silodienste) van die voorval inlig, het hy gehoor dat dit Jorrie en Michael was wat ook onder die honde deurgeloop het.
Emosionele wonde vat langer om te genees
Die drie se fisiese wonde het volkome genees. Michael ervaar nog soms ongemak in die waai van sy been as hy dit reguit maak. Nico wys na ‘n blou duimnael en merke in sy nek waar die honde hom gebyt het. Die drie merk dat die littekens hard is as hulle aan dit vat en Michael voel nog nie gemaklik om in ‘n kortbroek in die openbaar te verskyn nie.
Ook emosioneel het die aanval sy tol geëis. “Dit gaan vir die res van ons lewens saam met ons gaan,” sê Michael en kyk na Jorrie en Nico. Jorrie het kort na die voorval intense woede ervaar en Nico sê hy het ‘n maand lank nie goed geslaap nie. “Ek slaap ‘n uur goed, dan is ek wakker vir die res van die nag. As ek my oë toemaak, dan speel dit voor my af. Ek was die eerste week ná die aanval baie emosioneel.”
Die drie is vol lof vir NWK se hantering van die voorval. “Oom Jaco (du Rand) het vir my gesê ek hoef nie te stres oor my werk nie, dit wag vir my,” sê Michael. Die maatskappy het vir hulle berading by ‘n plaaslike sielkundige gereël en daarop aangedring dat hulle gaan, waaroor hulle baie bly is.
“Ek en Tanya het hierna baie ‘wat as?’ begin vra,” vertel Michael. “Die sielkundige het ons egter aangeraai om te onderskei tussen feit en opinie. Dit kón soveel erger gewees het, maar dit was nie.” Jorrie voeg by: “Ons is daardeur, maar ons is veilig.”
Michael sê dat, hoewel hy nog altyd gelowig was, die voorval hom baie nader aan die Here gebring het. Nico voeg by: “Diegene wat nie glo in wonderwerke nie… Daar het daardie aand baie wonderwerke gebeur.” Ook Jorrie stem saam dat hulle dit nie sou oorleef as dit nie vir die Here se beskerming was nie.
Die drie bedank hul kollegas en lede van die gemeenskap vir hul ondersteuning en gebede. Michael het ook spesiale dank uitgespreek teenoor diegene wat bydraes tot sy mediese uitgawes gemaak het.