Ek het onlangs na ’n dokumentêre program op televisie gekyk, wat gehandel het oor die ruimteprogramme van NASA wat daarop ingestel is om ’n aantal mense permanent op Mars te vestig. Die verdere mikpunt is om dit dan mettertyd uit te brei sodat ’n hele gemeenskap op hierdie planeet sal kan voortbestaan.
Een van die programme behels die blootstelling van ’n aantal tieners – wat uiteraard baie spesiale talente moet hê – aan die tegniese aspekte van só ’n projek. Hulle neem deel aan die ontwikkeling van gevorderde werktuie, prosesse en stelsels wat die vestiging op Mars sal benodig om dit suksesvol te maak. Die tieners is almal opgewonde oor die geleentheid wat hulle moontlik sal kry om een van hierdie pioniers op Mars te wees.
Dit het my opgeval dat daar soveel fokus op die jongmense in hierdie program is. Dit maak natuurlik sin as ’n mens besef hoe lank die reis na Mars is en dat ’n nuwe gemeenskap daar gevestig moet word. Daar is nie regtig plek vir ouer persone in só ’n program nie.
Wanneer ’n mens die redes of motivering vir só ’n projek oordink, is die eerste gedagte dat die mens sodanig gevorder het met tegnologiese ontwikkelings dat dit begin sin maak om die horisonne te verbreed en ons kennis aan te wend om nuwe wêrelde te ontdek. Dit is amper in dieselfde konteks as wat die ontdekkingsreisigers jare gelede na onbekende bestemmings vertrek het en met asemrowende verhale teruggekeer het.
Daar is egter ook ’n minder gewilde kant aan hierdie saak en dis die onbeskryflike skade wat ons as mensdom besig is om aan die aarde aan te rig. Die wyse waarop ons “oor die aarde heers”, is eenvoudig net nie volhoubaar nie. Noodsaak dit die ruimteprogramme waarin ons jongmense na ander planete wil verskuif om die mensdom se behoud te verseker?
As laerskoolkind het ons gesin nooit ’n geleentheid gemis om die reisende sirkus te besoek as hulle hul tente in ons dorp kom staanmaak nie. Die narre, akrobate, leeus en die olifante, en dan ook die dwergies, het ons vir ’n paar ure na ’n wonderbare droomwêreld verplaas. Ons was vasgevang in die helder kleure, die opgewekte musiek, die sirkusmeester se luide aankondigings en die kenmerkende reuke wat altyd in die lug gehang het.
Buite die groot tent was daar dan die rye en rye hokke op wiele waarin die diere moes bly en vervoer word nadat hulle die skare vermaak het. Die olifante het darem gewoonlik op vaste grond gestaan, maar met een voet vasgeketting. Hierdie sy van die sirkus het ons eerder misgekyk.
Só het die storie van Charlie die olifant van die Pretoria Dieretuin met die skryf van hierdie rubriek verskeie nuusblaaie se hoofopskrifte getref. Charlie het die geleentheid gekry om op 42-jarige ouderdom sy eensame bestaan in die dieretuin te verruil vir ’n aftrede in die Shamwala Private Wildreservaat. Hy is as tweejarige olifantjie in Zimbabwe gevange geneem en het vir etlike jare toertjies in die sirkus uitgevoer. Sedert 2001 was sy tuiste die dieretuin, saam met ’n paar ander olifante wat intussen dood is.
Die laaste paar jaar was hy baie eensaam. Ek wou bietjie meer oor hierdie verhaal weet en het vasgestel dat “Shamwala” ’n Tibettaanse term is wat “Hemel op aarde” beteken. Charlie is intussen suksesvol verskuif na sy hemel op aarde, waar hy sy laaste jare in die natuur en tussen ander lede van sy spesie sal kan spandeer. Ek salueer vir Shamwala en die groot groep persone en instansies wat hierdie pragtige verhaaltjie moontlik gemaak het.
Oordink ons as mensdom die verantwoordelikheid wat ons het om die aarde vir ons nageslag te bewaar, dan is dit onweerlegbaar ’n feit dat ons nie altyd ons plig nakom nie. Plaas ons elkeen ons eie Charlie terug in die natuur soos daar van ons verwag word?