Dons Jordaan, bemarkingsbestuurder van Bastion (‘n landboukalkverskaffer waarin NWK 50% aandeelhouding het), het hierdie syfer by Bastion se Fondasiedag onthul. Dit is op 26 Maart by NWK se opleidingsentrum aangebied.

Dié berekeninge is gedoen deur ‘n grondsuurheidswerkgroep en is geskoei op studies wat deur dr Pieter Haumann, dr Koos Bornman en Kobus van Zyl onderneem is.
Rachel du Preez, ‘n grondkundige by AgTech@NWK, het die onderwerp van grondsuurheid by die geleentheid toegelig en bygevoeg dat studies deur die bogenoemde wetenskaplikes toon dat tot 22% van ondergronde in Noordwes tans ‘n pH van tussen 4 en 4,5 het, met ‘n verdere 6% van ondergronde in dié provinsie wat ‘n pH laer as 4 het.
Wat grondsuurheid behels
Die ideale pH vir gewasproduksie is tussen 5,5 en 6,5 en suur grond bevat ‘n oormaat waterstof-ione in vergelyking met hidroksied-ione.
Hoewel grondsuurheid veroorsaak word deur natuurlike prosesse soos suur moedermateriaal; hoë reënval wat hoë loging tot gevolg het; asook die verrotting van organiese materiaal; dra hoë opbrengste en gevolglike hoë bemestingspeile, ook hiertoe by.
Dit word vererger deur verkeerde of onvoldoende bekalkingspraktyke.
Plantvoeding word deur grondsuurheid benadeel deurdat dit mikrobiese prosesse strem, die toeganklikheid van fosfate in grond verminder, makro-elemente stroop, die beskikbaarheid van stikstof en swael benadeel en lei tot ‘n afname in wortelgroei wat tot gevolg het dat water en voedingstowwe nie doeltreffend opgeneem kan word nie.
Die ideale pH van grond
Die meeste elemente is by ‘n pH van tussen 5,5 en 6,5 beskikbaar vir die plant om op te neem. In suurder grond kom aluminium, yster, mangaan en sink in toksiese vlakke voor en kalsium en molibdeen in laer vlakke. Die kombinasie van hoë aluminium en lae kalsium is ‘n groot opbrengsbeperkende faktor.
Aluminiumtoksisiteit verander die morfologie van die plant se wortelpunt deurdat korteksselle swel en die risodermis dan bars. Dit belemmer die wortel se verlengingsone en kan nie verder groei nie. Hierdie wortels vertoon kort en dik, met min haarwortels.
Sonneblom en droëbone is baie meer gevoelig vir grondsuurheid as sojabone en mielies. Daarom moet produsente, sou hulle nie geld hê om te bekalk nie, hulle gewaskeuses behoorlik oorweeg.
Suur grond lei ook tot kunsmisverliese
‘n Produsent se grootste uitgawe is saad en kunsmis en hy/sy kan kunsmisverliese van tot 71,3% in grond met ‘n pH van 3,5 ervaar.
“As jy 70% van jou produksiekoste vat wat jy letterlik in die water gooi omdat jy nie bekalking doen nie, is bekalking elke vier jaar nie baie gevra nie,” het Rachel benadruk.
Bekalking hef grondsuurheid op, stel balanse in die grond reg en hou dit in stand. AgTech@NWK, in samewerking met Bastion, onderneem presisieboerdery en doen grondontledings met die sogenaamde slootmetode.
Dit behels die neem van een grondmonster op die ry, twee grondmonsters langs die ry en twee tussen die rye. Hierdie grondmonsters word goed in een bak vermeng, waarna 300 g van hierdie grond vir ontleding na ‘n laboratorium gestuur word. Dit verteenwoordig uiteindelik 1 ha van jou grond.
“Die laboratorium gebruik slegs 5 g van daardie 300 g. Dit beteken dat slegs 0,000009231% van jou grond as steekproef gebruik word. Dit is daarom baie belangrik dat grondmonsterneming met soveel sorg moontlik uitgevoer word,” het Rachel verduidelik.
Sy het beklemtoon dat kalk nie in grond beweeg nie en die proses daarom elke vier jaar herhaal moet word. Tydens die eerste 18 maande sal sowat 70% van die kalk in die grond oplos, waarna die pH dan egalig sal daal voordat bekalking weer ná vier jaar herhaal word.
Hoe fyner die kalk, hoe groter is sy reaksie-oppervlak, hoe beter reageer dit met grond en hoe vinniger is die reaksie ten opsigte van pH-verhoging.